Moeg vir die lewe in die stad? Dan is die Jong Stadsboer Veldskool vir jou

Die kwartaal was lank en die jaar staan einde se kant toe. Die eindeksamen is om die draai. Jy is dalk moeg en het nou reeds ʼn breek nodig van die alledaagse lewe sodat jy verfris en met helder denke kan terugkeer vir die laaste kwartaal van die akademiese jaar.

Dit beteken jy moet uit die stad kom sodat jy in die Bosveld kan afblaas en vergeet van dit waarmee jy elke dag besig gehou word.

Dit is tyd vir die Jong Stadsboer Veldskool wat van 1 – 7 Oktober 2023 in die hartjie van die Waterberge plaasvind. Al die plekke is reeds byna volbespreek, maar daar is nog plek vir ʼn muis of twee – ja dit is jy, skryf nou in!

Ons ken almal die liedjie, “As jy moeg word vir die lewe in die stad”, en as dit op jou van toepassing is, volg die pad na Berchtesgaden se Jong Stadsboer Veldskool.

Ongeveer 200 km vanaf Pretoria en net ʼn entjie buite Vaalwater in die hartjie van die Waterberge, sal jy ʼn besonderse Bosveldjuweel ontdek – Berchtesgaden Game Ranch and Lifestyle Farm. Uit hulle liefde vir die natuur, die opbou en behou van Moeder Aarde en die  bewaring van ons fauna en flora word daar vir die afgelope vier jaar ʼn Jong Stadsboer Veldskool aangebied in God se skepping. Alle graad 8 – 11-skoliere is meer as welkom om hulself te kom vind in die natuur en die plaaslewe waarna almal hunker.

Angelique Daniell, geregistreerde Grondkundige (Pri. Nat. Sci) dosent (M.Sc.) van die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, vorm dié jaar in Oktober deel van die span wat die Veldskool-week aanbied. Sy sal haar kennis van sowat 12 jaar met die studente deel oor die belangrikheid van grond in die omgewing, gronddegradasie, erosie, rehabilitasiepraktyke asook bestuurspraktyke ten opsigte van grondbewaring. Haar unieke kennis sal studente bewus maak van hoeveel meer grond werd is as net die alledaagse rooi grond wat sokkies vuil maak en kleilat langs die rivier. Die kennis van ʼn Potch-dosent sal groot waarde vir die Jong Stadsboere inhou.

Berchtesgaden Game Ranch sal die tuiste wees waar die kennis van wild en natuur en wat daarmee gepaardgaan, oorgedra word. Berchtesgaden Lewenstyl Boerplaas sal jou leer van tradisionele boerdery met vee en gewasse. Het jy al ʼn blikbeker warm melk reguit vanuit Trixie se spene gedrink of warm beesmis opgetel en tussen jou vingers gedruk dat dit uitpeul?

Baie van julle sal hierna net wil boer, ander word geïnspireer, maar almal verlaat die Bosveld met ʼn magdom kennis van die natuur en dierelewe, lewensvaardighede, leierskap en baie algemene kennis van hoe om jou te hanteer en te oorleef en bewaring toe te pas.  Jy kan uitsien na kontak op verskillende vlakke met die wildsbokke, melkkoeie, kallers, skape en lammers, varke, hoenders en boerbokke. Daar mag dalk selfs weer hanslammers wees wat hulle daaglikse melk uit jou hand gaan drink. Ons plaas ook baie klem op die plantegroei van die omgewing, die belangrikheid van voeding vir die diere, die gevaar van sekere plante en die beskerming van die natuur. Aktiwiteite wat waarskynlik in ʼn skoolkoffertjie sal pas word aangebied tussen die wildsplaas en die boerplaas waar nie net kennis oorgedra word nie, maar daar ook baie interaksie met die diere en natuur is.  Elke aand sal jy kan uitsien na ʼn lekker bedrus want ons gaan jou besig hou!

Alles gaan ook nie net om boerdery gaan nie; sterrekuns, nagwaak wanneer jy in die bos gaan uitslaap, vuurmaak sonder die tradisionele vuurhoutjie anders is daar nie koffie nie, swem en vlotbou op die plaasdam en vele meer sal jou uitgeput laat elke aand. Ná ʼn deeglike dag se werk en pret op die boerplaas tussen melkbeeste, skape, hoenders, varke en boerbokke of op die wildsplaas self, sal jy terugkeer na die saligheid van die lodge waar jy die Bosveld se bekroonde stilte en naglewe sal ervaar. Dit is ook hier waar jy sal smul aan die maaltye – want ʼn boer moet ook eet!

Akkreditasie

Hierdie wye kurrikulum is voorberei en geniet gereelde bywerking deur ʼn bekwame span van leiers. Elke jong stadsboer ontvang praktiese kennis wat hy of sy kan saamneem huis toe (ás jy wil teruggaan) en uitleef, al is dit vir tyd en wyl net in die agterplaas.

Indien jou kind oorborrel van energie, ʼn passie het vir die natuur, ʼn liefde het vir breë boerderybegrip en mal is oor die buitelewe met al sy avonture, sal hierdie week jou kind soos ʼn handskoen pas.

Daar is min geleenthede daar buite waar ons die jeug blootstelling aan die natuur kan gee en die werklike plaaslewe eerstehands te kan ervaar.  Hierdie veldskool bied hulle die geleentheid en verryk jou kind se kennis oor die lewe buite die stad.

Stuur ʼn e-pos aan [email protected]
Skakel of stuur ʼn WhatsApp: 083 250 7989.

Loer in op die webblad van Berchtesgaden asook die Facebook-bladsye van die Wildsplaas en Leefstylboerplaas waar jy jou tyd gaan spandeer. Klik “like” op die bladsye om altyd die nuutste nuus te ontvang.

As jy wil inskryf, doen dit hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.