My kind hou nie van sport nie, wat nou?

(Foto: Dominika Roseclay/Pexels)

Deur Sarina Prinsloo

Spansport kan kinders se selfbeeld, koördinasie en algemene fiksheid ʼn hupstoot gee. Daar is egter baie kinders wat bloot nie belangstel in deelname aan tradisionele spansport nie. Sommige is net nie natuurlike atlete nie en sal eerder tyd spandeer om vasgenael voor televisieskerms, hul slimfone of rekenaarskerms te sit. Daar is natuurlik ook die paar akademiese wrakke wat, vasgegom aan hulle stoele, hul skoolwerk heel eerste stel.

Dit is belangrik vir ouers om agter die kap van die byl te kom en uit te vind hoekom jou kind nie belangstel nie. Jy kan dalk help om dieper bekommernisse aan te spreek of jou kind aan iets anders bloot te stel waarvan hulle meer gaan hou.

Daar is verskeie redes waarom ʼn kind soms nie van sport hou nie.

Dit sluit in:

  1. Hy of sy het nog nie die fisiese vaardighede, aandagspan of die vermoë om die reëls te verstaan wat nodig is om aan georganiseerde sport deel te neem nie.
  2. Dit is te kompeterend en veroorsaak spanning.
  3. Kinders wat nie natuurlike atlete is nie of ʼn bietjie skaam is, kan ongemaklik voel met die druk om in ʼn span te wees. Meer selfbewuste kinders kan ook bekommerd wees om hul ouers, afrigters of spanmaats in die steek te laat.
  4. Sommige kinders het dalk nog nie die regte sport ontdek nie. Die idee van ʼn individuele sport kan meer aanloklik wees vir sommige kinders wat daarvan hou om goed alleen aan te pak.

Kinders wat sport vermy of nie aanvanklik daarvan hou nie, leer soms om van spansport te hou soos hul vaardighede verbeter, of as hulle die regte sport ontdek waarmee hulle gemaklik voel.

(Foto: Verskaf)

Sportsoorte waaraan mens nie noodwendig altyd dink nie en soms deur ʼn klub, afsonderlik van die skool, bedryf word:

  • swem
  • perdry
  • dans
  • akrobaat
  • fietsry
  • skaatsplankry
  • golf
  • tennis
  • skerm (“fencing”)
  • gimnastiek
  • gevegskuns (karate, Taekwondo ens.)
  • yshokkie of sierskaats

Deelname aan spansporte soos sagtebal en krieket kan ook as deel van ʼn klub geskied en hoef nie noodwendig by die skool beoefen te word nie. Nie-tradisionele sportsoorte kan ook oorweeg word as alternatiewe by skole, om sodoende ʼn groter verskeidenheid keuses aan leerders te gee. Dit kan ook help by kleiner skole wat soms sukkel om volledige spanne bymekaar te kry.

Selfs al gaan dit moeilik, kyk of jy saam met jou kind iets kan kry waarvan hy of sy hou. Probeer oopkop bly. As jou dogter byvoorbeeld yshokkie of gimnastiek wil probeer, help haar om ʼn plaaslike klub te kry of praat met die skool oor die moontlikheid om ʼn nuwe span of sport by die skool te vestig.

Wees maar geduldig as jou kind sukkel om ʼn aktiwiteit te kies en daarby te hou. Dit neem dikwels verskeie probeerslae voordat kinders iets kry wat voel of dit pas, maar wanneer hulle ewe skielik daardie iets ontdek, sal jy bly wees dat jy tyd en moeite hierin belê het. Dit is dalk die eerste stappie in ʼn groter reis na gesonde gewoontes wat ʼn leeftyd kan hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.