Net ’n ma: ’n Pa kan nie ’n ma wees nie, maar hy kan dáár wees

pa-vadersdag-pa-en-kind

Foto ter illustrasie. (Foto: Josh Willink/Pexels)

Deur Eugenie Buys

(Hierdie is nie die uitspraak of opinies van ʼn kenner nie. Ek is net ʼn ma, en ek skryf oor onderwerpe wat ek self ervaar het. Elke baba en elke ma is anders, maar dalk kan jy vandag vereenselwig.)

Oggende in my huis is chaoties. Dit maak nie saak hoe baie ek die vorige aand voorberei nie, elke oggend kom met ʼn bederf van iets onbeplan wat opduik. Almal is honger (die mense en die honde) en om ʼn peuter aan te trek voor skool is soos om met ʼn seekat te stoei (dis hoekom ek nie gym nie, want ek stoei)

Ma’s se kognitiewe lading (die Engelse term wat vandag nogal gereeld gebruik word, is “mental load”) is enorm. Of jy ʼn werkende ma is of by die huis bly saam met jou kinders, jou brein kry net géén ruskans nie, want vandat die son opkom is daar dinge wat jy moet onthou en in ag moet neem: Wat eet almal? En as daar allergieë is, meer spesifiek, wat eet almal nie? Is hy warm genoeg aangetrek? Watter aktiwiteite gaan sy doen en watter ekstra klere moet ek inpak daarvoor? Wat as die klere vuil of nat word? Is daar genoeg doeke? Is daar genoeg bottels? Is my eie tande geborsel voor ek by die deur uit is? Is my kind in ʼn goeie skool? Het ek my tannie se verjaarsdag onthou? Dit alles voor 10 uur in die oggend.

Die lewe is so ʼn gejaag en die las raak swaar. Ja, ons het self gekies om werkende ma’s te wees (terloops, hoekom is ʼn ma wat werk ʼn werkende ma, maar ʼn pa wat dieselfde doen net ʼn pa?) of ons het self gekies om by die huis te bly saam met ons kinders. Elke keuse kom met sy eie gevolge en seëninge, maar die lewe is vol en die dag is vol en jou brein is vol, en wanneer jy hoop vir ʼn blaaskans, voel jy skuldig of soos ʼn slegte ma.

Eugenie Buys en haar klein Benjamin. (Foto verskaf)

Dan kom ons by die pa. Daar word meer algemeen aanvaar dat die pa die broodwinner is en dat sy fokus moet wees op werk en om finansieel na sy gesin om te sien. Dit is meer aanvaarbaar dat hy moeg is na ʼn lang dag se werk en tyd nodig het om ʼn bietjie te rus. Moet my nie verkeerd verstaan nie, in vandag se tyd is daar baie meer pa’s wat betrokke is en wat help as wat daar in vorige generasies was. Die werk- en gesinslewe-kultuur word ook meer by werksplekke beklemtoon, omdat welstand so ʼn groot fokus geword het vir werknemers. Maar, enige ma sal vir jou sê dat ʼn pa nie eens bewus is van die helfte van die goed wat in haar kop aangaan en wat sy aan moet dink en moet onthou nie. En kom ons wees eerlik, party dae verwyt ons hulle daarvoor (nie noodwendig hardop nie, maar in ons moeë binneste).

My man is ʼn onderwyser en moet vroeg by die skool wees en, in teenstelling met die algemene opvatting, is dit nie net ʼn halfdagwerkie nie en kom hy baie aande lank na bedtyd by die huis as gevolg van sportbyeenkomste. Vanoggend, tussen bottels, tasse, kosblikke, baadjies en medisyne deur, kom ek om die hoek en vind ek my man en my seuntjie saam op die bank, besig om saam deur ʼn boek te blaai. My eerste reaksie was: “Jy gaan laat wees, en hoekom HELP jy my nie eerder deur hom aan te trek nie?”. Sy antwoord was: “Ek sien hom vanoggend vir ʼn halfuur in 24-uur, ek wil net ʼn bietjie by hom sit” en dit het my laat stilstaan. ʼn Pa kan nie ʼn ma wees nie, hy het nie noodwendig die kapasiteit om so baie goed in sy kop te hou soos wat ek doen nie. ʼn Pa kan nie ʼn ma wees nie, hy dink nie noodwendig drie dae vooruit oor als wat gedoen moet word nie. ʼn Pa kan nie ʼn ma wees nie, en miskien moet ons ophou om van hulle te verwag om soos ons te wees. ʼn Pa kan nie ʼn ma wees nie, maar hy kan dáár wees, en dalk moet ons hulle toelaat om daar te wees. Om die kinders aan te trek al pas die hemp, broek en skoene glad nie by mekaar nie. Om die tas te pak en iets te vergeet en ʼn plan te moet maak. Om op die bank te sit en ʼn boekie te lees terwyl jy alles anders doen, want dit is wat hulle gaan onthou: My pappa was dáár, hy het my snaaks aangetrek, hy het my tas gebring en hy het saam met my boek gelees.

En dalk, as die las swaar raak, moet ons hulle vra want ʼn pa is nie ʼn ma nie en dink nie noodwendig daaraan nie.

*In hierdie geval verwys “ʼn ma” na die primêre versorger, hetsy dit ʼn ma, pa, ouma of enige ander persoon is wat voor vat met alles wat gepaard gaan met ʼn kind hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.