Ons Sentrum – waar kindertrauma gehoor word en aandag kry

INLIGTING OOR AANHEGSEL speelapparaat-swaai-kind-counselling.jpg

Foto ter illustrasie: pixabay.com/counselling

Nadat ʼn groot behoefte geïdentifiseer is vir maatskaplike hulp, maar meer spesifiek terapeutiese dienste aan kinders en hulle gesinne, is Ons Sentrum se deure in Januarie 2019 amptelik geopen. Dié sentrum is geleë by die Jonibach-saal se kantoor op die perseel van die NG Kerk Onderstepoort in Pretoria-Noord.

In Julie 2021 is ʼn verdere stap in geloof geneem. Ons trek toe in ʼn huis in wat in Danie Theronstraat in Pretoria-Noord geleë is. Dié huis is omskep in kantore, is goed ingerig, en die belangrikste, dit was toeganklik vir die mense in die gemeenskap. Die personeel van Solidariteit Helpende Hand het weer eens saamgekom en ingespring om hierdie sentrum op te knap. Ons het geverf, skoongemaak en mooi gemaak. Alles wat nodig was, is gedoen. Dit is vir my so ʼn mooi simbool van wat gedoen kan word as ʼn mens se suurstof jou roeping is.

My gedagtes gaan terug na die hande vol verf wat met groot opwinding verf en mooimaak. Ons harte wat weet dat hierdie sentrum werklik ʼn volhoubare verskil gaan maak in ons gemeenskap. Soos wat ek geverf het, kon ek nie help om te dink aan al die kinders wat deur hierdie plek se gange gaan loop en gaan sit om die nodige hulp te ontvang wat hulle nie andersins sou kon ontvang nie.

Die dag toe ons saamkom, die boom plant en die deure open en die plek met gebed inlei, was my hart so gelukkig, tog ook so seer – oor die wete dat die kinders wat deur die deure gaan kom, kinders is met soveel seer en diepe trauma. Dit is mos nie reg dat ʼn vyfjarige seuntjie presies weet hoe dwelms en prostitusie werk nie. Dit is hartverskeurend om te weet dat jong dogtertjies ontneem is van hul kindwees as gevolg van molestering en verkragtig. Gee nie om hoe mooi ons die gebou gemaak het nie, die lelike gaan steeds hier deur die gange moet loop, maar ons weet dat hoop sal seëvier.

So open die deure en oudergewoonte deel ons drukkies uit aan ons beraders en terapeute. Terwyl ek hulle vir so ʼn rukkie kan vashou, bid ek ook saggies, want nie net het ek ontsaglik baie agting vir hierdie personeel van Solidariteit Helpende Hand nie, maar ek het ʼn groot verwagting in my hart oor wat hulle alles wat hulle hier gaan regkry. Soveel kinders wat hulle gaan bemagtig en seer wat hulle gaan probeer heelmaak.

 ons-sentrum-01.jpg

Ons Sentrum is daarop ingestel om aandag te gee aan kinders se trauma en behoeftes. (Foto: Facebook)

Ons Sentrum is ʼn sentrum wat kinderterapie bied aan kinders wat enige vorm van trauma beleef het. Hierdie trauma sluit in mishandeling (emosioneel, fisiek, seksueel), verwaarlosing, afsterwe van ʼn geliefde, egskeiding, aanhoudende konflik tussen ouers ná egskeiding, gesinsgeweld, afknouery asook gedragsuitdagings.

Hoewel Ons Sentrum geen befondsing van die staat ontvang nie, word dienste aan kinders en gesinne in die gemeenskap aangebied wat dit nie elders kan bekostig nie. Ons maak dus staat op donasies en borge vanuit die gemeenskap.

Tans is daar 80 kinders en hul gesinne wat hulp ontvang vanuit hierdie sentrum. Dit was elke kwashaal werd; 80 gebede is verhoor. Die Here het 80 kinders in ons sorg geplaas. Wat ʼn groot verantwoordelikheid, maar ook wat ʼn groot hoop.

Die sentrum het ʼn baie kreatiewe metode geïmplementeer, naamlik die koeponsisteem. Afgesien van die vakansieprogramme, opleiding en mentorskappe, het die koeponssisteem ten doel om kinders aan te moedig om nie hul terapiesessies te mis nie asook om vir hulle te leer dat hulle wel keuses het en hoe belangrik die keuses is wat hulle maak. ʼn Stoorkamer is omskep in ʼn vertrek met speelgoed wat in kategorieë gegroepeer is – van minder na baie waardevol. Elke kind wat terapie ontvang, ontvang ʼn A4-kaart met sy of haar naam op met sowat 16 blokkies daarop. Elke keer wanneer ʼn kind ʼn sessie bywoon word ʼn plakker op ʼn blokkie geplaas. Na vier plakkers op die blokkies kan ʼn kind ʼn speelding kies as geskenkie in ʼn sekere kategorie. Hoe meer sessies hulle bywoon, hoe hoër word die waarde van die speelding wat hulle mag kies. Kinders mag ook die besluit neem om van die begin af ʼn groot geskenk te kies wat ons vir hulle eenkant sal hou, wat hul eers aan die einde van hul terapieproses sal ontvang. Hulle verbeur dan die kleiner geskenkies tussenin. Die kind moet dus kies of hy of sy na elke vierde sessie ʼn kleiner geskenkie wil hê of een groot geskenk aan die einde. Dit leer hulle ook geduld en toewyding.

Suzette Van Rooyen, rekreasiekundige van Helpende Hand by die Ons Sentrum in Pretoria-Noord (Foto verskaf)

Ons Sentrum is daarop ingestel om aandag te gee aan kinders se trauma en behoeftes, maar ook om die kind vanuit ʼn holistiese oogpunt op te bou. Daar bestaan ʼn groot behoefte vir terapiesentrums soos die Ons Sentrum regoor die land. Dit is dus ons behoefte om die eerste Ons Sentrum in Pretoria-Noord selfonderhoudend te kry om geleentheid te skep om hierdie dienste dan verder uit te brei in die land.

Ons loop nie alleen die pad van hoop nie, die ondersteuning van ons gemeenskap is wat ons sterk hou. Ons het jou hulp nodig om seker te maak dat hierdie 80 kinders en nog meer die nodige hulp kan kry sodat hulle gesonde volwassenes kan wees wat ʼn gesonde en goeie impak tot gevolg sal hê in hierdie mooi land van ons.

As jy vandag hierdie artikel lees, vra ons jou hulp om seker te maak dat ons kinders vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Besoek www.bemagtignkind.co.za om ʼn bydrae te maak. Vir hulp stuur ʼn e-pos na [email protected].

René Roux is adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand

bemagtig-n-kind.jpg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.