Rekenaarspeletjies het ook bepaalde voordele

Foto ter illustrasie. (Foto: verskaf)

Die skermtyddebat is een wat vurig in Suid-Afrikaanse huishoudings woed en dikwels word die kollig op die nadele van rekenaarspeletjies geplaas.

Kinders kan deesdae dikwels nie in ʼn tuin speel of na hartelus op hulle fietse kerkjakker nie, en rekenaarspeletjies kan dus ’n welkome, opwindende tydverdryf wees waarmee kinders alleen of saam met ander mense kan speel.

Maroela Media het by Rianette Leibowitz, kuberveiligheid- en digitale ouerskapkenner en stigter van SaveTNet Cyber Safety, aangeklop om uit te vind of daar enige voordele vir kinders is as hulle rekenaar- en videospeletjies speel.

“Rekenaarspeletjies moedig probleemoplossing en kreatiewe denke aan, en sommige speletjies is spangedrewe. Jy moet jou deel doen sodat die span verskillende uitdagings kan trotseer,” sê sy.

Leibowitz sê verder rekenaarspeletjies kan ook bydra tot kinders se vaardigheid om, met die leiding van hul ouers, skermtyd te bestuur.

Rachel Best, uitvoerende hoof en stigter van FYI Play It Safe, meen ook dit is nie nodig om altyd net op die negatiewe sy van rekenaarspeletjies te fokus nie.  FYI Play It Safe is ʼn plaaslike organisasie wat ouers ondersteun in die aanlyn beskerming van hul kinders.

Best sê ook rekenaarspeletjies kan help met die verbetering van basiese denkprosesse, sosiale inklusiwiteit en kinders op ’n positiewe wyse stimuleer terwyl dit ook digitale geletterdheid bevorder.

“Die vraag aan die ouers van ʼn kind wat wil begin video- of rekenaarspeletjies speel is nie ‘moet ek dit toelaat nie?’ Vind eerder uit hoe kan jy as ouer rekenaarspeletjies veilig maak en verseker dat jou kind dit verantwoordelik gebruik sodat hy of sy die voordele daarvan kan ervaar,” sê Best.

“Dit is belangrik dat die speletjies wat jy toelaat ouderdom toepaslik is, dat die tydgrense vir spel nagekom word, dat die speletjie nie lei tot die verlies van slaap of die oorslaan van maaltye nie, en dat jy as ouer veiligheidsmaatreëls kan tref wanneer jou kind multispeler-speletjies speel en van kletskamers gebruik maak.”

Leibowitz sê ouers moet bewus wees van waarmee hul kinders hulself besig hou.

Hoewel daar talle positiewe aspekte aan die speel van rekenaarspeletjies gekoppel is, moet ouers nie onbetrokke in hul kinders se aanlyn aktiwiteite wees nie.

“Ek moet ongelukkig sê dat baie van hierdie ouers nie besef dat daar wel speletjies is wat nie gepas is vir kinders om te speel nie. Buiten geweld, kru taal en blootstelling aan vreemde mense word kinders ook aan morele konsepte voorgestel waarvoor hulle nie noodwendig opgewasse is om te kan hanteer nie. Die storielyn van die speletjie is nie altyd positief of ouderdomsgespas nie,” sê Leibowitz.

Sy sê rekenaarspeletjies moet met ʼn aanslag van balans aangepak word. Ouers moet hul kinders herinner dat hulle ook ʼn rol het om in die huishouding te vervul.

“Kinders verstaan dat hulle persoonlike higiëne belangrik is, verhoudings gebou moet word en dat fisieke aktiwiteite en gesonde eetgewoontes beoefen moet word. Hulle moet ook weet genoeg slaap is noodsaaklik en hulle moet help om troeteldiere te versorg. Natuurlik moet hulle skoolwerk op datum bly, asook die take in en om die huis. Dit beteken daar bly veel minder tyd vir skermspeletjies oor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.