Selfdissipline, hardwerkendheid en deursettingsvermoë – dít is durf

(Foto: Gabriela Braga/Unsplash)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het al talle kenners geraadpleeg oor die ontwikkeling van ʼn volhoubare en waardegedrewe onderrig- en leermodel om die toekoms van Afrikaanse onderwys te help verseker. Dr. Jeanette de Klerk-Luttig is een van hulle. Hier deel ons graag haar kundigheid oor die vestiging van selfdissipline, hardwerkendheid en deursettingsvermoë by ons kinders.

Deur dr Jeanette de Klerk-Luttig

Net in die woordeboek kom “sukses” voor “werk”; nêrens in die werklike lewe nie. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat ware sukses in sport, hulle studie, kuns, kosmaak, boerdery, sake, ballet, boogskiet of op enige ander terrein bereik het wat nié weet van selfdissipline en vasbyt nie. Daar is eenvoudig geen kortpad na sukses nie – dit verg selfdissipline, harde werk en vasbyt.

Waardes kom altyd in bondels voor, en selfdissipline, hardwerkendheid, deursettingsvermoë en durf is een so ʼn bondel. Jy kan die beste voornemens en die wonderlikste drome en doelstellings hê, maar sonder harde werk en vasbyt sal jou voornemens nie realiseer nie, sal jou drome dagdrome bly, en jou doelstellings net woorde op papier wees.

Om ons kinders te leer hard werk hou talle voordele vir hulle in. Harde werk en selfdissipline is ʼn beter voorspeller van sukses op skool, in sport en die lewe as wat talent ooit kan wees. Harde werk help kinders hulle potensiaal verwesenlik. Daar is min dinge wat ʼn mens so laat groei en so goed laat voel oor jouself as wanneer jy ʼn uitdagende doelwit vir jouself gestel het en dit deur harde werk, oefen en vasbyt bereik. Wanneer harde werk vrugte afwerp, bou dit selfvertroue, wat op sy beurt tot selfs groter sukses kan lei. Harde werk bou kinders en jongmense se karakter en help hulle die lewe met ál sy uitdagings hanteer. Kom ons wees nou maar eerlik: Die lewe is nie net rose en roomys nie. Om alles vír jou kinders te doen en hulle nie van jongs af te leer om self te werk nie, berei hulle nie voor op die harde werklikheid van die lewe óf die wêreld van werk nie. Wanneer kinders en jongmense leer om konstant hard te werk, word dit ʼn goeie gewoonte en deel van hulle karakter.

Hardwerkendheid bou nie net selfrespek nie, maar besorg jou ook die respek van ander. Wanneer jy konstant hard werk en weet dat jy jou bes doen, selfs al is jy nie elke keer suksesvol nie, voel jy beter oor jouself. Só dwing jy ook respek by ander af. Om hard te werk aan jou doelstellings gee struktuur en sin aan jou lewe. Dit maak jou lewe meer produktief en interessant. Daar is gewoon geen foefies of kitsoplossings wat ʼn mens suksesvol maak nie; ál wat jou daar uitbring, is harde werk en vasbyt.

In sy boek Happier: Learn the Secrets to Daily Joy and Lasting Fulfillment, waarop die gewildste kursus by Harvard-universiteit gegrond is, verduidelik skrywer Tal Ben-Shahar dat die gedagte van harde werk as straf ongelukkig in ons samelewing posgevat het. Die ideale lewe word as ʼn lewe van niksdoen voorgestel, terwyl ons eintlik móét werk as ons waarlik gelukkig wil wees. Ons moet daarom nuut begin dink oor werk en onderwys as ʼn voorreg eerder as ʼn onaangename plig.

In dié verband het Donald Hebb ʼn interessante studie met 600 leerders tussen die ouderdom van 6 en 15 jaar onderneem. Hy het hulle meegedeel dat hulle nie meer enige skoolwerk hoef te doen nie, tensy hulle wou. Die straf vir diegene wat raserig was en ander se werk onderbreek het, was om buite te gaan speel, en die beloning vir goeie gedrag was om verder te werk. Binne ʼn dag of drie het byna ál die leerders gekies om liewer te werk as om leeg te lê, en die klas se punte was boonop aansienlik beter as vorige jare.

Op die vraag oor die een ding wat hy vir elke kind in Suid-Afrika toewens, was die bekroonde sjef Reuben Riffel se antwoord nie ʼn daaglikse bord kos nie, maar selfdissipline. Hy beklemtoon die onmisbaarheid van ‘durf’ (grit), wat gedefinieer kan word as moed, veerkragtigheid, integriteit en taaiheid. Durf behels stamina en ʼn gesonde werksetiek, wat jou help om oor ʼn lang tydperk voortdurend hard te werk. Durf sluit ook selfdissipline en veerkragtigheid in om ondanks probleme, plato’s en frustrasies aan te hou streef na jou doel, en om korttermynbelonings te vermy sodat jy jou langtermyndoelstellings kan bereik.

Prof. Angela Duckworth het navorsing gedoen oor die karaktereienskappe van rekrute wat die veeleisende opleiding van die bekende Amerikaanse militêre akademie by West Point suksesvol voltooi het. Sy het bevind dat hulle deur die bank besonder veerkragtig is en baie hard kan werk. Sy sonder dan ook die volgende twee eienskappe van suksesvolle mense uit:

  • Die geneigdheid om hulle op ʼn taak toe te lê en dit nie te laat vaar net ter wille van verandering nie
  • Die geneigdheid om met ʼn taak vol te hou al duik daar probleme en hindernisse op

Dít is durf, reken sy, en dit is ʼn beter voorspeller van sukses as passie, talent of IK.

Hoe gee jy jou kind durf?

Moenie die lewe vir hulle te maklik maak nie. Laat jou kind liewer minder punte kry vir ʼn taak wat hulle self gedoen het, as meer punte vir ʼn taak wat jy vír hulle gedoen het. So nie, is sukkel hulle voorland, want hulle het nooit die nodige vaardighede, selfdissipline en deursettingsvermoë ontwikkel om op hulle eie reg te kom nie. Ouers wat te veel vir hulle kinders doen ontneem hulle van die geleentheid om self te probeer, te misluk en wéér te probeer en op dié manier hulle durfspiere te bou. Die ironie is dat ouers wat hulle kinders se lewe te maklik wil maak, die kind inderwaarheid benadeel en ʼn agterstand gee.

Ouers en onderwysers behoort minder op kinders se prestasies te konsentreer en meer op die ontwikkeling van karaktereienskappe wat hulle in staat stel om hulle beste werk te lewer: selfdissipline, hardwerkendheid, verantwoordelikheid en ʼn innerlike taaiheid om vas te byt as dinge nie dadelik uitwerk nie.

Kinders behoort blootgestel te word aan rolmodelle wat terugslae beleef het, maar steeds met deursettingsvermoë en selfdissipline aangehou het om na hulle doelstellings te streef. Hulle moet ook aangemoedig word om uit hulle gemaksone te beweeg en dinge te doen waar sukses nié gewaarborg is nie. Ouers en onderwysers, staan terug en laat kinders self probeer, misluk en wéér probeer. Dan leer kinders dat durf die geheim is tot sukses.

Hierdie artikel is met die vergunning van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.