Studiefonds maak deure oop vir mediese studente

Die trustees van Pieter Wissekerke Studietrust is van links na regs Igna Klynsmith, Daan van Straten en Wynand Mouton (Foto verskaf)

Solidariteit Helpende Hand se Studietrust (HHS) moedig studente aan om aansoek te doen vir ʼn studielening indien hulle mediese, veeartsenykunde of ander verwante studierigtings wil studeer.

Die HHS kon tot dusver met die hulp van die Pieter Wissekerke Studiefonds altesaam 135 hulpbehoewende en verdienstelike Afrikaanse studente se studies moontlik maak met ʼn totaal van R14 160 742.49  wat in die vorm van rentevrye studielenings aan hulle toegestaan is. Altesaam 76 studente studeer tans nog.

Die spesifieke trust is in 2017 gestig en vernoem na dr. Pieter Wissekerke (gebore in 1940 en oorlede in 2016), ʼn vooraanstaande inwoner van Rustenburg. Sy ouers en hy het diep spore in Rustenburg getrap. Hy was ʼn gekwalifiseerde veearts, en hy was ook die eienaar van Cashan Hotel. In sy testament het hy feitlik sy hele boedel bemaak vir die toekenning van rentevrye studielenings aan Afrikaanssprekende studente in die medies, veeartsenykunde en verwante rigtings, waaronder fisioterapie, verpleegkunde en arbeidsterapie.

Die HHS administreer die Pieter Wissekerke Studiefonds namens die Pieter Wissekerke Trust. Die trustees Daan van Straten, Igna Klynsmith en dr. Wynand Mouton, dien op die studiefondskomitee, met Mia Wesseloo as die fondsbestuurder wat kontrole en volhoubaarheid verseker.

Emja Langeveldt (Foto verskaf)

Een van die studente wat deur die studiefonds gehelp is, is Emja Langeveldt wat tans ʼn vyfde jaar mediese student aan die Universiteit van Stellenbosch is.

Sy skryf: “Ek kom van die Strand af, ʼn kusdorpie in die Wes-Kaap, en is die oudste van drie kinders. Ek was in Hoërskool Strand op skool en sal myself as ʼn hardwerkende individu beskryf. Ek is mal oor biologie en geniet dit om met mense te werk. In 2020, my derde jaar, het ek vir die eerste keer aansoek gedoen vir finansiële hulp op die Solidariteit Helpende Hand-platform.

“Tot dusver het ek vir die jaar 2021 en 2022, ʼn rentevrye lening van die Pieter Wissekerke Studiefonds ontvang. Ek en my gesin is ongelooflik dankbaar, want dit haal baie finansiële druk van ons af. Daar is ongelukkig min finansiële hulp beskikbaar vir mediese studente, veral vir individue wat uit ʼn gemiddelde, Afrikaanse huisgesin kom. Met behulp van die Pieterwissekerke Studiefonds hoef ek nie bekommerd te wees oor waar ek die geld gaan kry om my graad klaar te maak nie. Ek weet ek gaan dit kan terugbetaal wanneer ek uiteindelik self ʼn inkomste verdien.

“Ek het onlangs selfs meriete afslag op my lening gekry – dit was baie goeie nuus en motiveer my nou om selfs nog harder te werk en te studeer! Hierdie studiefonds maak werklik ʼn verskil in die Afrikaanse gemeenskap en is tans besig om my te help om my droom te bewaarheid.

“As jy medies studeer/gaan studeer volgende jaar, doen asseblief aansoek. Jy sal nie spyt wees nie. Ek glo daar lê vir elkeen van ons ʼn blink toekoms en wag.”

  • Die aanlyn aansoeke vir die 2023 studiejaar is tans oop. Die Pieter Wissekerke Studietrust nooi voornemende en bestaande Afrikaanssprekende studente in mediese velde uit om aansoek te doen by https://aansoek.studiefonds.co.za/registreer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.