Swangerskap help Mej. SA-finalis met selfbeeldstryd

Tamsyn en Jaco Gerrits verwag hul eerste pienkvoet. (Foto: Embers & Envelopes)

Op die oog af sal dit moeilik wees om te verstaan waarom iemand soos die beeldskone Mej. SA-finalis, Tamsyn Gerrits, al selfbeeldstruikelblokke moes oorkom?

Dié saggeaarde skoonheid en suksesvolle sakevrou het asems weggeslaan gedurende verlede jaar se Mej. SA-kompetisie, maar sê haar reis daardeur was nie sonder trane, terugslae en baie twyfel nie.

“Dis mos hoe ons as vroue is, jy kan ʼn miljoen komplimente kry, maar daardie een stukkie negatiewe kritiek sal by jou vassteek,” vertel sy vanuit die Wes-Kaap aan Maroela Media.

Al het sy nie met die titel weggestap nie, het baie verander sedert Tamsyn in Augustus verlede jaar die Mej. SA-topvyf by die SunBet Arena by Time Square in Pretoria gehaal het.

Eers, haar intieme sprokiestroue in Desember tussen die Bolandse berge en wingerde aan die sakeman Jaco Gerrits, en kort daarna die nuus dat hulle sommer binnekort ʼn pienkvoet gaan verwelkom.

“Die afgelope paar maande was ʼn oorweldigende warboel om die minste te sê,” terg sy.

Mej. SA aanvanklik nie in haar visier nie

As baas van haar eie media-agentskap, Pique Media, sê Tamsyn dat die sakewêreld eerder as die skoonheidswêreld vir haar gewink het.

Haar belangstelling in Mej. SA is eers met Demi-Leigh Tebow (toe Nel-Peters) se oorwinning in 2017 geprikkel.

“Ek het soveel wanpersepsies daaroor gehad, maar Demi se hele verhaal was vir my so inspirerend, ek het selfs wakker gebly om te sien hoe sy by Mej. Heelal gekroon word.”

Die foto waarmee Tamsyn vir Mej. SA ingeskryf het. (Foto: Verskaf)

Om self in te skryf het volgens Tamsyn wel ʼn gebedsaak geword.

“Dit was vir my regtig belangrik om seker te maak ek skryf in om die regte redes. Dit kan baie maklik oor mens se eie ego en die titel self gaan, en ek wou nie hê dít moes my motiveer nie.”

Haar nuutgevonde passie vir entrepreneurswese het haar destyds ook anders na dié kompetisie laat kyk.

“Ek het ʼn graad in voedselwetenskap, maar vroeg geweet my kop staan meer na entrepreneurskap toe. Ek het besef Mej. SA sou vir my ʼn platform as entrepreneur kon bied en ook die geleentheid gee om kwessies wat my na aan die hart lê, in die kollig te plaas.”

Selfbeeldstryd staan amper in haar pad

Sy wou reeds in 2020 en toe weer in 2021 inskryf, maar sê haar selfbeeldstruikelblokke – wat selfs eetversteurings in haar jonger dae ingesluit het – het haar aanvanklik gekelder.

“Ek het nie gevoel ek lyk soos wat ʼn Mej. SA in my kop moet lyk nie. Ek is anders gebou en het bietjie groter gevoel en nie gedink ek pas in die mould nie. Ek wou eers ʼn sekere grootte wees voordat ek ingeskryf het, maar ek het geweet ek en Jaco wil trou en ʼn gesin hê en die reëls en vereistes was toe nog anders. Dit was ʼn ‘nou of nooit’-situasie.”

Daarom was sy verras om die oproep te kry dat sy uit duisende inskrywings die top-35 gehaal het. “Ek was so pedanties oor my inskrywingsfoto’s en het alles haarfyn probeer beplan. Boonop was die kaliber van die vroue wat ingeskryf het fenomenaal.”

Haar doelwit was egter nooit om die kroon te dra nie, maar minstens om die toptien te haal.

“Baie suksesvolle vroue soos Marciel Hopkins, wat nou Boer soek ʼn vrou aanbied, was ʼn finalis en het selfs meer bereik as mense wat verder in die kompetisie gevorder het.”

Om die toptien in die era van sosiale media te haal, is egter ʼn uitdaging op sy eie.

Tamsyn sê Mej. SA het haar geweldig uitgedaag. (Foto: Miss SA/Verskaf)

“Vir maande lank is alle oë op jou. Sosiale media maak dit ook moeiliker want mense is nie skaam om dit baie duidelik te maak wie hulle gunsteling is nie. Wat ongelukkig dan gebeur is dat hulle nie net hul gunsteling ophemel nie, maar ook die ander deelnemers afkraak.”

Tamsyn vertel dat sy kort-kort wrede sosialemediapeilings gesien het en “paragraaflange” boodskappe gekry het van vreemdelinge wat haar foute uitwys.

“Skoonheidskompetisies gaan oor mense se opinies en as jy deelneem stel jy jouself oop vir kritiek, maar ek is meer saggeaard en teruggetrokke as ʼn tipiese deelnemer, so al my onsekerhede oor my voorkoms is weer herroep. Ek het sonder twyfel imposter syndrome gehad.”

Sy komplimenteer egter die Mej. SA-organisasie vir hul deurlopende ondersteuning en opleiding wat hulle vir finaliste in hierdie verband bied.

“Dit klink so cliché, maar dié kompetisie leer mens regtig om vrede in én met jouself te vind. As ek nou terugkyk, is ek trots op my reis en die antwoorde wat ek veral by die finaal gegee het, al wens ek dat ek dit met meer selfvertroue kon sê. Ek was 100% myself, daarom het dit my nie gepla om te verloor nie.”

Toekoms lyk blinker as Mej. SA-kroon

Tamsyn erken dat sy en Jaco, wat self destyds ʼn finalis in die Mnr. SA-kompetisie was, nie verwag het om so vinnig ouers te word nie.

“So baie vroue het ná ons swangerskapsaankondiging na my uitgereik en gesê hulle kan nie wag vir die dag wat hulle uiteindelik ʼn ma kan wees nie, so ek tel my seëninge want ons weet dit is nie almal se realiteit nie.”

Op die vraag of Jaco se ervaring by Mnr. SA vir haar tot voordeel was, lag sy net.

“Nee wat, ongelukkig verskil die twee kompetisies hemelsbreed, maar ek klankbord alles by hom want sy insae beteken vir my baie. Hy het ook aande om saam met my gesit en deur vrae gegaan. Ons is ʼn goeie span.”

Tamsyn en Jaco sien geweldig uit om ouers te word. (Foto: Embers & Envelopes)

Daar het sedert Augustus verlede jaar natuurlik talle deure vir dié 25-jarige skoonheid opgegaan.

“Ek moes mooi sit en besluit waarop ek my energie en fokus gaan toespits. Daar is soveel handelsmerke wat my vir samewerking op sosialemedia genader het en ek is selfs ʼn rol op ʼn sepie aangebied, al kan ek nie aktrise wees om my lewe te red nie,” lag sy.

“Dis snaaks hoe mense nou outomaties meer respek vir my kennis en opinie het. So, dit is nou vir my baie belangrik om sorgvuldig na sulke geleenthede te kyk en seker te maak dis belyn met my toekomsplanne.”

Tamsyn is veel meer as net ‘n mooi gesig, maar ook ‘n suksesvolle sakevrou. (Foto: Facebook/Tamsyn Jack)

Oor wat dié planne alles behels wil sy nie te veel vir nou verklap nie, maar sê haar besigheid en ouerskap is natuurlik tans die grootste prioriteite.

Ongelukkig het sy nie oggendnaarheid in die begin van haar swangerskap vrygespring nie en skerts dat sy net kans gesien het vir brood en aartappels.

Om ma te word, het haar ook gehelp om haar selfbeeldstruikelblokke tot ʼn mate te oorkom.

“Ek sal graag eendag myself wil uitdaag om regtig op my fiksste en gesondste te wees, maar my vel is nou baie dikker teen kritici en ek is seker vir die eerste keer in my lewe regtig lief vir my liggaam. Ek is eintlik soms in verwondering met wat dit nou bemagtig en ek het werklik vrede en geen behoefte daaraan om aan iemand anders se idee van skoonheid te voldoen nie. Swangerskap verander heeltemal jou uitkyk in daardie opsig.”

Sy hoop dat haar reis ander jong vroue sal aanmoedig om meer selfvertroue in hulself te hê.

“Ek het in een van die voorbereidingsvrae vir die Mej. SA-finaal gesê dat vroue nie moet wag om ʼn titel te wen voordat hulle hul drome najaag nie. Moenie jouself met ander vergelyk nie en plaas jouself onder jou eie soeklig. Net jy is toegerus om jou unieke lewenspad te loop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.