Tuisonderwys: Die keuse van kurrikulum

tuisonderrig-02

Vir ouers wat tuisonderwys oorweeg, kan dit ʼn intimiderende proses wees om die regte kurrikulum te kies. Foto: Argief.

In Suid-Afrika is daar ʼn hele aantal kurrikulumverskaffers vir tuisonderwys, dikwels met uiteenlopende benaderings tot die onderrig van leerders. Vir ouers wat tuisonderwys oorweeg, kan dit ʼn intimiderende proses wees om die regte kurrikulum te kies. Tuisonderwysbenaderings, kinders se leerstyle, koste, taalvoorkeur en geloofsoortuigings kan alles ʼn invloed op die keuse van kurrikulum hê.

Johanna Kemp, kantoorhoof van Nukleus Onderwys, sê hoewel ouers verskillende oorwegings het wanneer dit by die redes vir tuisonderwys kom, moet hulle seker maak dat dit wat aangebied word beter is as wat die kind in ’n hoofstroomskool kan kry. “Ouers moet seker maak dat die stelsel wat hulle volg die beste alternatief vir hul kind is,” sê Kemp.

Sy is ten gunste van die gebruik van kenners in tuisonderwys en verduidelik dat Nukleus Onderwys van opgeleide vakonderwysers gebruik maak om deurlopende assessering te doen, asook die take, toetse en eksamens op te stel. “Die vakhoofde is ook daar vir die ondersteuning van leerders. Hulle kan te alle tye per e-pos of telefonies genader word en gee dan waardevolle hulp en leiding aan leerders.”

Prof. Rita Niemann, uitvoerende hoof van akademie by Impak Onderwys, sê egter in ʼn vergelykende studie tussen tuisonderrigleerders se resultate en dié van leerders in hoofstroomskole is bevind dat die kwessie of ʼn tuisonderrigouer ʼn opgeleide onderwyser is al dan nie, nie noodwendig verwant is aan ’n kind se akademiese prestasie nie aangesien aspekte soos die vermoeë van die leerder om gedissiplineerd en onafhanklik te werk ‘n groot rol speel.

Volgens haar kan tuisonderrigouers kies om ʼn gestruktureerde kurrikulum te volg of eerder van ongestruktureerde onderrigmetodes gebruik maak, ook bekend as “unschooling”.

“Ouers wat van Impak se omvattende nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidverklaring-belynde kurrikulum vir graad R tot 12 gebruik maak, leer dieselfde inhoud as leerders op skool. Die verskil is dat dié leerplan op ʼn afstandsonderrigmodel geskoei is wat leerders in staat stel om volgens hul individuele leerstyle en behoeftes te leer,” sê sy.

Coleen Cronje, uitvoerende hoof van Breinlyn, sê die primêre aspekte wat in ag geneem moet word met die kies van ʼn kurrikulum, moet die kind en samestelling van die gesin wees. “Daarna moet die uitkoms van die stelsel beskou word: Wat het die ouer vir die kind in die oog – ʼn matrieksertifikaat, GED, SAT, Cambridge, en so meer? Daar is baie groot verskille tussen verskillende [tuisonderwys-] programme en -benaderings.”

Dynamis Learning, ʼn instansie wat leiding en raad aan tuisonderwysgesinne verskaf, glo dat die keuse van ʼn kurrikulum nie bloot by die kind se leerstyl moet pas nie, maar by die gesin as geheel. Volgens die Dynamis Learning-webwerf kan ʼn leerstyl-evaluasie bepaal hoe ouers en kinders leer, wat dan die ontwerp van ʼn gepaste kurrikulum sal bepaal. Aangesien die leerstyl van die ouers ʼn kritiese rol in die onderwysproses speel, moet die kurrikulum by die gesin as geheel pas.

tuisonderrig-04

Meeste tuisskoolouers meen dat tuisskoling juis nie hoofstroomskole moet probeer naboots nie. Foto: Theproscons.com

“In ʼn skoolomgewing word daar van alle kinders verwag om te leer en te werk op presies dieselfde manier, ongeag hul individuele verskille. In baie gevalle word daar van kinders verwag om te dink en te doen op dieselfde manier as die onderwyser. Indien dit nie die natuurlike leermetode van die kind is nie, kan leer vertraag word. Dieselfde gebeur met tuisonderwys as die ouers nie die belangrikste voordeel van tuisonderwys begryp nie – dat ʼn tuisonderwysprogram ontwikkel kan word wat pas by die unieke en individuele behoeftes van die kinders en die gesin.”

Kemp stem saam dat die leermateriaal van tuisonderrig aangepas moet word volgens die kind se individuele leerstyl, maar sê dat daar nie ʼn kurrikulum vir elke leerstyl is nie. “Daar is wel maniere om jou leerstyl by die kurrikulum aan te pas. Mense gebruik leerstyle as ’n foefie om hul produk te verkoop,” sê sy.

Talle tuisonderwyskenners het dit eens dat ouers hulle nie moet laat lei deur die koste van tuisonderrigprogramme nie – duurder is beslis nie noodwendig beter nie. “Dit hang af wat as deel van die diens aangebied word,” sê Cronje. “Is assessering ingesluit? Word aan assesseringsvoorwaardes voldoen?”

Kemp noem dat ondersteuning aan ouers en leerders baie belangrik is en dat dit ongelukkig ʼn duurder program beteken. “Vakkennis kos geld en onderwysers is nie goedkoop nie. Indien ek net die leermateriaal verkoop en verder die ouer en leerder aan hulself oorlaat, kan ek dit baie goedkoop voorsien,” sê sy. “Onderwys moet in alle opsigte opvoedkundig verantwoordbaar wees, anders is dit nie geslaag nie. Opgeleide onderwysers moet verkieslik deel daarvan wees.”

Volgens Lise Brink, ʼn tuisskoolouer van Pretoria, voel baie ouers dat tuisskoling juis nie hoofstroomskole moet probeer naboots nie. Die tuisskool is eerder ʼn wonderlike alternatief waar kinders hul Godgegewe talente en belangstellings kan ontdek en ontwikkel in die veilige, liefdevolle omgewing van hul huis. “Kinders is gebore met ’n liefde vir leer en ontdek. Ons moet hulle aktief help om daardie natuurlike liefde vir leer te behou. [Ouers] moet die fasiliteerders van leer wees, nie noodwendig die kenners in elke vakgebied nie. Daarom is die keuse van boeke en kurrikulum baie belangrik.”

Brink sê verder dat baie tuisskolers kurrikulums van die VSA en ander lande gebruik juis omdat tuisonderwys nog relatief nuut in Suid-Afrika is. “Moedertaalonderrig is baie belangrik, maar ek het baie boeke voorgelees in Engels en dan maar vertaal soos nodig. Byna al die boeke wat ons tans gebruik, is boeke vanaf die VSA en Singapoer. Daar is verspreiders in Suid-Afrika wat dit gelukkig teen baie mededingende pryse verskaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Louise Kohn

As Tuisonderrig ouer, fokus ek meer op die proses van leer, die vaardighede wat nodig is om ‘n kind toe te rus om enige inligting te lees, interpreteer en krities daaroor te dink. Ek hou van “vakke” soos “Logika” en “thinking skills”, wat geen SA kurrikulum bied nie. Ek maak gebruik van dit wat na my oordeel die beste ter wêreld is vir elke vak, soos wat dit ook die beste pas by elkeen van my 5 kinders se uiteenlopende leer profiele. Sal beslis ook Dynamis se dienste aanbeveel vir nuwe tuisonderrig ouers. Ondersteuning van kurrikulum verskaffers is dus nie… Lees meer »

Bouwe van der Eems

Die webwerf http://www.tuisskolers.org is die grootste onafhanklike webwerf oor tuisonderwys. Ouers kan op daardie webwerf meer inligting vind oor ‘n verskeidenheid kurrikulums. Op die webwerf kan hulle ook die besonderhede vind van verskeie tuisonderwys ekspo’s wat oor Suid-Afrika gehou word, en waar ouers ‘n groot hoeveelheid TO verskaffers persoonlik kan ontmoet.

Martie du Plessis

Die dame wat die artikel geskryf het het my geraadpleeg om ‘n vergelykender studies en pryse van kurrikulum te gee vir die artikel. Ek was nie beskikbaar vir hierdie taak nie en vir insette vir die artikel nie. Nogtans is Dynamis gemeld maar totaal verkeerdelike inligting is deurgegee. Sien onderstaande paragraaf….. “Dynamis Learning, ʼn instansie wat leiding en raad aan tuisonderwysgesinne verskaf, glo dat die keuse van ʼn kurrikulum nie bloot by die kind se leerstyl moet pas nie, maar by die gesin as geheel. Volgens die Dynamis Learning-webwerf kan ʼn leerstyl-evaluasie bepaal hoe ouers en kinders leer, wat dan… Lees meer »

Leendert van Oostrum

Terwille van perspektief: Weens die keuse van bronne vir die artikel kan mens die indruk kry dat die meeste tuisskolers gebruik maak van voldiens-programme soos Breinlyn, Impak, en Nukleus, en dat ander benaderings bietjie van ‘n uitsondering is. In die praktyk is dit eerder die gebruikers van sulke programme wat ‘n uitsondering is. Dr Brian Ray het in sy ondersoek op ‘n steekproef van meer as elfduisend Amerikaanse tuisleerders in 2010 soos volg gerapporteer: “Only 10.2% of the respondents were enrolled in a full-service curriculum program (i.e., a program that serves students and their parents as a “one-stop” primary source… Lees meer »

Jackie Schmidt

Wanneer ek so ‘n artikel lees met verdraaings of onwaarhede daarin dan kan ek nie anders as om te vra…kry julke feite in orde!!! Julle speel met woorde wat mense en tuisskool mag diskrediteer! Dis duidelik dat julle nie veel dink van tuiskolers of hul ouers se opinies en ervarings nie want julle moet ‘n prof om kurrikulumverskaffer aanhaal om jul berig sosiaal en opvoedkundig aanvaarbaar te maak. Maar al die metodes is ou nuus. My man is ‘n plantvoedingkundige met ‘n doktersgraad en Landbouweekblad het nie geskroom om sy artikel te verander om hulle tydskrif te pas nie….en dit… Lees meer »