Verslawing se reikwydte raak nou generasies

Argieffoto: Pixabay.com

“Ons sien nou al gevalle waar daar drie generasies dwelmverslaafdes in ’n familie voorkom,” sê Charlé Schurink, maatskaplike werker van die CMR Gauteng-Oos se Lyttelton-tak. Sy verwys hier na ’n kind wat deur sy verslaafde ma verwaarloos is en ander veilige heenkome moes vind, maar die kind se tannie en ouma is ook verslaafdes – en so word die stokkie van verslawing al langs generasielyne aangegee.

Die getalle kinders wat weens dwelmafhanklikheid (in die gesin) uit die gesin verwyder moet word, is besig om krisisafmetings aan te neem, volgens Henda van der Merwe, direkteur van die CMR Gauteng-Oos. Die Lyttelton-tak het in een week soveel as sewe kinders moes verwyder weens verwaarlosing en selfs kindermishandeling.

Schurink sê ouers wat middelafhanklik is, is ’n gevaar vir hul kinders. Sy vertel van ouers wat hul dogters dwing om prostitusie te beoefen om geld te kry – selfs ’n ma wat haar baba probeer verkoop het vir geld om haar dwelms mee te kan koop.

Sy wys daarop dat ’n laerskoolkind wat alreeds dagga rook maar ’n skrale kans staan om nie later in sy lewe van dwelms afhanklik te word nie. Daar word algemeen aanvaar dat dagga dié dwelmmiddel is wat die weg baan na afhanklikheid van sterker dwelmmiddels, soos kokaïen, ecstacy en heroïen.

“Dit is egter nie die enigste faktor wat ’n rol speel nie,” verduidelik van der Merwe. “Nie alle daggaverbruikers raak aan sterker middels verslaaf nie.”

Die probleem is natuurlik dat die onlangse wetgewing wat die gebruik van dagga wettig maak, die gedagte in die hand werk dat daggaverbruik nie gevare inhou nie. Maar ’n persoon wat sy probleme met bedwelming probeer hanteer, sal selde stop as hy eers daaraan gewoond geraak het. Alkohol en oor-die-toonbankmedikasie val in dieselfde kategorie.

Almal in ons samelewing is onder geweldige druk, van alle kante af. Tieners ervaar die bykomende probleem van groepsdruk. As sy maats ’n middel gebruik, en nie in die moeilikheid beland nie, hoekom sal ’n outjie nie ook met dwelms probeer om sy probleme die hoof te bied nie?

“Hier is die vaslegging van gesonde waardes tydens die grootwordjare van kardinale belang,” sê van der Merwe.

“Een van die onderliggende probleme is juis hierdie afskakeling (“to disconnect”) wanneer ’n kind nie die nodige ondersteuning en liefde ervaar nie. Om na ’n middel te gryp, word die maklikste uitweg. Lange jare reeds is dit aan mense wat met verslaafdes werk, bekend dat mense middels gebruik om dát wat hulle nie kan hanteer nie, die hoof te bied. In stede daarvan om vaardighede aan te leer om emosionele of psigiese pyn te hanteer, word ’n middel gebruik om die pyn te ontkom, daarvan te ontsnap.”

Navorsing wat by die Western Sydney University in Australië gedoen is, het getoon dat daar ’n chemiese verband bestaan tussen langtermyndaggaverbruik en psigose, wat kan lei tot skisofrenie. Die navorsing wys dat strawwe daggaverbruikers se risiko om psigose te ontwikkel, vier keer groter is. Veral tieners en jong volwassenes is in gevaar omdat hul brein nog groei.

Juis in die lig hiervan, verduidelik van der Merwe, behoort almal van ons álles wat ons kan, in die stryd te werp om te voorkom dat kinders in verslawende middele antwoorde begin soek om hul uitdagings die hoof te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Christelene ·

Daar moet drasties iets gedoen word teen voorskrif medisyne wat verslawend is. Ons familie is regtig moedeloos. Dokters skryf herhalings voor vir voorskrif medisyne wat verslawend is. Kan daar nie ‘n databasis opgestel word dat wanneer ‘n verslaafde na ‘n dr gaan vir ‘n voorskrif van hierdie tipe medisyne en die pasient se naam, van, tel no of adres word ingetik die naam verskyn en dat hy die medisyne op ‘n gereelde basis gebruik. Lewens word verwoes en nie almal het die geld vir rehabilitasiesentrums nie. Ek wil die medieseraad smeek om regtig iets te doen. Ons het dit gevra vir apteke wat gelink is aanmekaar om sy naam op hul databasis te sien. Dit het by sommige apteke gewerk maar ander het gesê as hy ‘n wettige voorskrif het van ‘n dr kan hulle nie weier om dit vir hom te gee nie. Ek verstaan nie, want sy familie lig hulle dan in oor die omstandighede. Baie dankie

Carl ·

Dit is tragies dat soveel mense by die gemors betrokke word. Daar is ook Gesag probleme, bv. ongeag die Konstitusionele Hof uitspraak, bly die “Handel in Dagga” steeds onwettig. Die probleem is, wanneer (hoeveelheid gewig) is dit gewoon “Besit van Dagga” (wat nou blyk wettig te wees) en wanneer is dit “Handel in Dagga” (wat steeds onwettig is).

Piet Nel ·

Wettig of nie verslaafdes ontsien niks en niemand om die gemors in die hande te kry nie, diefstal, aanranding, roof en selfs moord is misdade wat deel van die probleem raak. Dwelms en selfs dagga is ‘n duur speletjie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.