Video: Respek, vertroue dié hoërskool se hoekstene

By Eduplex Hoërskool is almal soos familie. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“As ek respek het vir jou, dan erken ek jou as mens. As jy my as onderwyser vertrou, kan ons saam ons skool na nuwe hoogtes toe neem. Daarom is dié eienskappe van ons skool se kernbeginsels.”

Só vertel Fanie Grobler, hoof van die Eduplex Hoërskool in Queenswood, Pretoria.

Eduplex Hoërskool vorm deel van die groter groep Eduplex-skole, wat kinders van voorskool tot hoërskool huisves, en danksy hul unieke klaskameromgewing die fokus op ʼn onafhanklike werksetiek probeer plaas.

Die hoërskool is dalk die jongste uit dié drie skole, maar is volgens Grobler van die begin af in sterk gevestigde waardes en tradisies geanker, waarvan een moedertaalonderrig is.

Die skool se parallelmedium aanbieding skep volgens Grobler die wanpersepsie dat die skool “net Engels is”, maar hy meen die teenoorgestelde is waar.

“Die voordeel van ʼn parallelmedium skool, is dat ons in ons eie moedertaal onderrig kan kry, maar ook op die speel en sportgronde blootgestel kan word aan ander tale en kulture,” beaam Liza Kruger, ʼn gr. 11-leerder aan dié skool.

“Afrikaans is vir my belangrik en dit is ʼn voorreg om in my huistaal skool te gaan. Eduplex bied dit vir my, maar stig terselfdertyd nie af van die res van die wêreld nie,” voeg Janine Robson, onderhoofdogter vir 2022, by.

“Eduplex is dalk klein, maar dit beteken ons almal ken mekaar en mekaar se harte.”

Leerders se vaardighede en kreatiwiteit word verder optimaal ontwikkel deur ‘n holistiese benadering tot die kurrikulum, insluitend moderne opvoedkundige praktyk en tegnologie.

Een so voorbeeld is in die lewenswetenskapklas, waar sosiale media en moderne tegnologie vervleg word om ʼn interaktiewe leerervaring te skep danksy die skool se moderne mikroskope.

Kleiner klasgroepe en slimwitborde maak dat vakke soos Wiskunde hier nie ʼn gevreesde vak is nie.

Maroela Media het vroeër berig dat dié skool se unieke onderrigmodel ook leerders met gehoorverlies in klaskamers met horende leerders plaas, waar hulle danksy die optimale gebruik van versterkingstoestelle en individuele ondersteuning normale spraak aanleer sonder die gebruik van gebaretaal.

Boonop sorg dié skool se holistiese kurrikulum ook vir ʼn wye verskeidenheid sport én kultuuraktiwiteite om kinders se talente en vaardighede te slyp, waaronder rugby, netbal, sokker, hokkie, revue, koor, drama, fotografie, redenaars en vele meer.

Gerhardt Olivier, wat tans twee kinders in Eduplex het, vertel dat dié skool volgens hom sy kinders met die nodige vaardighede toerus om eendag sukses te behaal.

“Akademie, die morele waardes en dissipline wat hier vir die kinders geleer word, is van topgehalte. Enigiemand wat ooit met die personeel te doen het, kan sien hoe passievol hulle oor hul onderwys is. Jy kan nie beter doen as Eduplex nie.”

Volgens Olivier is kinders ook nie net ʼn getal by dié skool nie.

“By Eduplex Hoërskool het jy ‘n naam, jou skoolhoof skud jou hand wanneer jy op die interhoër-atletiekbus klim en wens jou sterkte toe in die item waaraan jy gaan deelneem. Jou opinie maak saak, jou akademie maak saak, jou toekoms maak saak, jy maak saak,” voeg hy by.

“Eduplex is ʼn skool wat jy jou huis kan noem.”

Kyk na Maroela Media se besoek aan dié unieke skool hier:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.