Agt plekke in Amsterdam vir die emmerskoplysie

Amsterdam is ‘n gewilde bestemming vir toeriste van regoor die wêreld. (Foto: Red Morley Hewitt/Unsplash)

Daar is ʼn goeie rede hoekom ʼn besoek aan Amsterdam op soveel mense se emmerskoplysies verskyn.

Dié stad se ongelooflike argitektuur, pragtige kanale, lewendige kultuur en heerlike kos lok jaarliks miljoene toeriste na dié Nederlandse hoofstad.

Met vlugte op die KLM Royal Dutch-lugredery wat direk Nederland toe vlieg van Johannesburg en Kaapstad af, is Amsterdam ook ʼn gewilde toeristebestemming vir Suid-Afrikaners.

Hoewel bekende toeristeaantreklikhede, soos die Rijksmuseum, Dam-plein en Vondelpark, op enige toeris in Amsterdam se lysie moet wees, het dié stad ook ʼn paar geheime plekke wat vir toeriste die volle ervaring en betowering van Amsterdam kan bied.

Westergasfabriek

Westergasfabriek. (Foto: Wikipedia)

Amsterdam se Westergasfabriek het vinnig ʼn kulturele spilpunt geraak wat ryk aan geskiedenis is. Die Westergasfabriek is gebou in ʼn uitgebreide gasfasiliteit wat terugdateer na die laat 19de eeu.

Die gebied is bekend vir sy nywerheidsvoorkoms en is gevul met restaurante, musiekvenues, ʼn kunsfliekteater en die grootste arkade in die stad.

Die stadsargiewe

As jy ʼn geskiedenisliefhebber is, sal ʼn besoek aan Amsterdam se stadsargiewe beslis ʼn opvoedkundige ervaring wees. Buiten die gratis toegang bied die argiewe soveel aantreklike redes om weer die stad te besoek.

Sommige van die hoogtepunte sluit in ʼn polisieverslag oor Anne Frank se gesteelde fiets en ʼn amptelike dokument waarmee Baruch Spinoza uit Amsterdam se Joodse gemeenskap verban is.

REM Eiland-restaurant

REM Eiland-restaurant in Amsterdam. (Foto: Instagram)

As jy op soek is na ʼn unieke eetervaring moet jy sorg dat jy ʼn bespreking by REM Eiland maak. Dié buitengewone restaurant op die water aan die kus van Nederland word besit deur ʼn groep roofradio-omroepers wat die struktuur moes verlaat nadat die Nederlandse regering in 1964 op hulle operasie toegeslaan het.

ʼn Paar dekades later is die platform na Amsterdam se Houthaven verskuif en ontwikkel in een van die deftigste en ongewoonste restaurante in die land.

Die Pannekoek-boot

Amsterdam se De Pannekoekenboot. (Foto: www.amsterdam.depannekoekenboot.nl)

Amsterdam het sy eie pannekoek-boot, waar klante uitstekende uitsigte oor die stad kry terwyl hulle aan ʼn onbeperkte hoeveelheid Hollandse-styl pannekoeke kan smul. Die pannekoeke word met stroop, vrugte en suiker versier.

Die toer van die stad neem sowat 75 minute en die boot vertrek ʼn paar keer per dag van die NDSM-Werf af.

Blijburg Stad se strand

Blijburg strand. (Foto: Instagram)

Amsterdam het van die mooiste strande wat grens aan die stad se mere, kanale en riviere. Besoek Blijburg stad se strand vir ʼn unieke strandervaring. Die strand is bekend vir sy oorde, goue sand, helder water en seilplankry. Besoekers kan kos of ʼn drankie geniet by die bekende en nabygeleë tiki-styl restaurant, wat bydra tot die strand se ontspanne atmosfeer.

Ons’ Lieve Heer op Solder

Ons’ Lieve Heer op Solder. (Foto: Wikipedia)

Europa is ryk aan geskiedenis en ná die Hervorming in die 16de eeu, het die nuutgestigte Calvinistiese Nederlandse regering Katolisisme in die land verbied. Ten spyte van ernstige strawwe het talle voortgegaan om in die geheim te aanbid en sommige het selfs geheime kerke gebou.

Gedurende hierdie tydperk is talle kerke verwoes of afgebreek, maar hierdie kerk, wat in die 1660’s bo-op ʼn kanaalhuis gebou is, het die periode onaangeraak oorleef. Dit word sedert 1888 tot vandag as ʼn historiese museum bewaar.

EYE-rolprentmuseum

Die EYE-rolprentmuseum. (Foto: Olivier Sallou)

Die EYE rolprentmuseum is so te sê oorkant Amsterdam se Centraal-stasie geleë. Daar is verskeie fasiliteite binne-in die instituut geleë en sluit ʼn galeryspasie in wat gereeld uitstallings vir rolprente aanbied. Die gebou bevat ook vier moderne fliekteaters en ʼn veelvlakkige restaurant wat op die IJ-rivier uitkyk.

De Poezenboot

De Poezenboot. (Foto: catboat.com/Pinterest)

Die De Poezenboot is die perfekte aktiwiteit as jy ʼn katliefhebber is. Dit is ʼn drywende skuiling wat al vir meer as vier dekades ʼn hawe bied vir rondloper- en weggooikatte. Besoekers is die meeste dae van die week welkom.

Die boot is geleë in die noordelike banke van Singel-kanaal in sentraal-Amsterdam en bied ʼn groot, laer dek waar katte die geleentheid kry om vryelik rond te beweeg en interaksie met besoekers te hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.