Breek tog net asseblief ordentlik weg

Aandskemering oor die Vredefortkoepel. (Foto: Ize du Plessis photography.)

Ek weet nie van jou nie, maar ek kan mense nie aldag verstaan nie. Hoekom sal jy nou ʼn drie of wat duisend rand vir ʼn naweek se wegbreek betaal, net om te gaan fuif? Jy kan jou mos baie goedkoper by jou eie huis te buite gaan en op die koop toe die bure wat jy verpes, irriteer met ʼn kakofonie wat, na jou persoonlike smaak, soos musiek klink. Hoekom betaal mense so baie vir die stilte van die natuur as hulle daarop uit is om dit met ʼn geraas en ʼn gejil te verwoes? En dan noem hulle dit ʼn wegbrekie. Ek praat nie net van mense wat uit huis uit ʼn sekere taal praat nie, want my twee ore het my geleer dat hulle tuis Afrikaans of Engels of Setswana praat, maar as hulle eers ʼn ietsie geneem het, begin die drank praat, en alkohol praat Vloek. En Vloek is ʼn internasionale taal. Ek sukkel om te begryp hoekom mense ten duurste vir stilte en rus en vrede betaal net om te kan gaan rumoer totdat selfs die krieke se ore tuit.

Dis vandat dronkparty ʼn wegbreek geword het, dat sleg goed geraak het. Sedert suip ʼn doppie geword het, jou minnaar of minnares jou skelmpie en egbreuk ʼn flirtasietjie is, het dinge skuins beginne foeter.

As ʼn selfsorggastehuis vir tien mense geadverteer word, is dit mos nie lieg as jy sê jul agtien siele is eintlik net agt (sonder siele) nie. Wie sal kom tel? Dit is vandat lieg ʼn kluitjie geword het dat wangedrag ʼn wegbreek genoem word.

Mense bespreek vir tien gaste ʼn huis in die Vredefortkoepel en dan daag daar twintig op. Waar almal slaap, weet ek nie. Waar hulle raas, weet selfs die verste bure. Nou vra ek jou, hoekom jaag jy van die stad af na ʼn wêrelderfenisgebied toe as jy op Loftus baie goedkoper en met veel minder moeite deel van ʼn groter geraas kan wees? Jy bespreek vir jou en jou mense vir ʼn naweek in die stilte waar ʼn fisant die vroegson roep, die piet-my-vrou die lente lok en die visarend visse vang. Jy koop ʼn paar aande sodat jy aan die sterre kan raak en dan skree jy en jou dronk gespuis die jakkalse stil met musiek wat die nag verskeur.

Kan jy vir my sê hoekom iemand ʼn strandhuis in die Tsitsikamma vir ʼn week by die see bespreek, net om die soet stem van die see met ʼn gedoef-doef te verdoof? So beneweld van baie bier dat jy eers, wanneer jy weer by jou huis is, in die koerant lees van dolfyne wat daglank agter die eerste rotse konsert gehou het. Mense huur ʼn huisie by die see en sit en suip in die sitkamer op die disharmoniese gedrom van iets wat amper na musiek klink.

“Kry ʼn lewe, jou ou klakous,” hoor ek jou gesteurd sê, en ek sien hoe jy jou meerderwaardige oë hemelwaarts slaan.

Kalmeer, Meneer, ek het niks teen musiek nie, maar ʼn operasanger hoort nie op ʼn sokkie nie, en ʼn konsertina klink half vreemd in ʼn simfonieorkes. Daar is niks so heerlik soos ʼn koel skemerkelkie op die son se stoep nie! Die punt is net dat daar ʼn plek vir alles is, jy moet net ʼn sensitiewe sin van plek ontwikkel. Dit is soos wanneer jou taalregister nie die konteks van die gesprek en die gespreksgenote respekteer nie. ʼn Mens vloek nie op die preekstoel nie en jy preek nie in die skrum nie.

Die vraag is nie of jy van jou musiek of jou plesier hou nie, maar of jou bure wat vir die stem van die see of die kalmte van die Koepel betaal het, se rus versteur word. Dit is immers wat ek onder naasteliefde verstaan, ou Selfsug Alleen-op-die-wêreld.

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Reis, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mauritz ·

Hans se beskrywing pas my bure halfpad. Die gesuip en lawaai, ja, maar die wegbreek ongelukkig nie. Ek wens elke naweek hulle wil ook bietjie wegbreek sodat ek ‘n naweek in rus en vrede kan deurbring. Maar, helaas, ek dink as hulle die naweek se drank gekoop het is daar niks oor vir ‘n wegbreek nie.

koos10 ·

My bure was ook so, maar met baie geduld en klagtes by die metro polisie het hulle ‘n boete van R25000 op die hals gehaal. En nee ek is nie ‘n suurpruim nie, maar om elke dag vir 10 tot 12 ure na doef doef te luister is nie lekker nie. Hulle wou nie na my of die metro luister nie, toe moes hulle maar betaal!

Vrijburger ·

Goeie skrywe.
Die ander ding wat ek nie verstaan nie, afgesien van die geraas ding, is dat mense wegbreek en km’s ry om dan heeltyd tydens hul ‘wegbreek’ TV te kyk?

Ivana ·

Ek en my man wonder ook altyd daaroor, as jy wil lawaai en suip bly by jou huis, jy is nie n natuurliefhebber nie, hoekom weggaan om mense wat stilte soek te gaan irriteer en kampplek eienaars, moenie jou plek oorbevolk nie, jy gaan die regte mense wegjaag en met die suiplappe sit. Ons is ook lief vir diere, maar verbied dit want hulle is net n las vir ander kampeerders want niemand hou hul diere by hulle nie, so asb kry iemand om hulle op te pas vir die tyd, maar moenie ander mense versuur met jou diere en kinders wat jy nie kan beheer nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.