Die ritme is inderdaad anders in die Goudstad

Die Proud Mary-restaurant onder in die hotel, waar jy nie net elke oggend heerlike ontbyte kan geniet nie, maar saans kan drankies drink en aandete geniet.

In die Kaap glo ons dat ons natuurskoon die mooiste is; die valleie en heuwels uniek en die restaurante en wynplase ervarings bied wat besoekers nêrens anders sal ervaar nie. Dis egter die Johannesburgse energie wat ons nie het nie; die kosmopolitaanse skouers skuur met mekaar – ons eie mense – wat soos ʼn vitamien-inspuiting deur jou are vloei, as jou voete op die Hoëveld vastrapplek kry, vertel Maryke Roberts.

Vriende gaan twee maal per jaar op Johannesburg toe. Hulle doen onmenslik baie in 72 uur en kom terug soos mense wat te veel kafeïen ingekry het. Dis restaurante en kroeë op hoteldakke wat oor die stad uitkyk, foto’s van oranjerooi sonsondergange en fietsry in die Wieg van die Mensdom. As die hele land Desember hul Venter-sleepwaens pak vir die kus, pak hulle hul tasse vir Jozi vir hul “Jozi-fix”.

Ons was drie jaar gelede in die Stad van Goud. Die pandemie het ons vlerke geknip, maar ons weer opnuut die kans gegee om ons eie provinsie te ontdek; om die oseane te sien bymekaarkom by Kaap Agulhas, om by Kaappunt oor die blou oseaan uit te kyk en om in die Weskus aan bokkoms te kou.

Drie dae in Rosebank en omstreke, gee daardie nodige aanvulling, wat ʼn mens vir ʼn paar maande aan die gang sal hou.

Die afklim en bagasie ontvang by Lanseria, is nog net so pynloos soos voorheen en ʼn mens kan skaars glo die bewolktheid van twee ure gelede in die Kaap, is nou helder sonskyn in Gauteng. Die geleentheid het hom voorgedoen om ʼn nuwe Nissan Navara vir ʼn paar dae se toetsrit te neem en die steenkoolkleurige voertuig staan in die parkeer-area.

“Geniet hom. Dis ʼn monster,” verklaar die afleweringsman toe ons die voertuig so groot soos ʼn klein HOP-huisie se sleutel by hom oorvat.

Die New York-geïnspireerde voco The Bank hotel in Cradockstraat is heerlik sentraal en voer jou weg na ʼn luukse Art Deco-era.

Die eerste paar minute in ʼn gehuurde motor of vreemde motor, is altyd interessant. Behalwe dat jy effe vreemd voel met waar die flikkerlig of lugversorger-knoppies is, is dit ook nesskop met fone wat ingeprop moet word vir herlaai; navigasie en mobiele data aanskakel en waar om die waterbottel en kougoed te bêre.

Ek kan nie help om ongeduldig-opgewonde te voel toe ek die bekende bakens van die stad sien nie. ʼn Mens wil gaan verken en ervaar en skouers skuur met die mense wat hier hul lewe teen ʼn baie vinniger pas as ons van “Slaapstad” lei.

Die rit na voco The Bank Hotel in Cradockstraat, is te vinnig verby. Die kragtige enjin wil-wil jou uitlok om te vinnig te ry en die feit dat jy hoog bo ander voertuie uittroon, skep die illusie dat jy onaantasbaar is.

Die gawe deurwag met sy swart hoedjie en onderbaadjie, neem ons sleutel en parkeer die voertuig, terwyl ons bagasie na ons kamer geneem word. Die straat loop dood in die Rosebank Mall en is ʼn miernes van mense: op hul fone, oorfone op; in diep gesprekke met ander. Die koffiewinkels en restaurant gons; musiek speel uit op die sypaadjies. Die area is lowergroen en boomryk en dis moeilik om te glo daar is soveel armoede, kragonderbrekings en slaggate waarin klein motortjies sal kan wegsink, net om die draai.

Ons voel soos regte toeriste toe ons alles afneem. Die hotel het vroeg Februarie geopen en behalwe dat die blinknuwe reuk gerusstellende op die neus is, kan jy sien die ontwerpers het groot pret gehad met die Art Deco-styl. Die rondings, kleurskemas en slim ontwerp, maak dit ʼn saamkomplek vir hotelgaste, sakemanne en vriendinne wat oor koffie of skemerkelkies kuier.

Voor ons vriende vir aandete ontmoet, kuier ons in die koffiewinkel wat tussen die ontvangs en Proud Mary-restaurant en stylvolle kroeggedeelte is. Ek het die perfekte uitkykpunt: aan die een kant kyk ek op die ingang en aan die ander kant oor die restaurant na die straatlewe buite.

ʼn Mens hoef nie deel te wees van al die aksie nie; maar ʼn lekker plek vanwaar jy dit kan gadeslaan, is goed na ʼn lang periode van isolasie; afsondering en ingedoen-voel omdat ons so vêr van mekaar moes bly tydens inperking.

ʼn Onverwagte kunswerk langs die straat wat jou tot oordenking maan.

Proud Mary is propvol toe ons instap. Die reuse-kroeg wat in ʼn lang, platgedrukte sirkel reg rondom die spasie uitkyk, se slim beligting laat jou moeilik besluit wat jy wil drink. Die Kaapse wyne ʼn vae herinnering aan die wynlande, toe die Portugese-styl hoender en biefstuk arriveer. By die kroeg kom en gaan dit; vriende drink drankies en knaag aan peuselhappies en as jy weer opkyk, sit iemand anders daar en gesels.

Ons geniet Dom Pedros en Grappa van die Kaap voor slaaptyd en is verras toe ons terug in die kamer is en daar ʼn oulike briefie met ʼn tee-aanhaling en twee teesakkies op ons kopkussings wag. “There is something in the nature of tea that leads us into a world of quiet contemplation of life.” Ons maak inderdaad vir ons tee en sit laatnag met die gordyne oopgetrek en die vensters oop.

Buite die reuse-ruite is die stad polsend en uitnodigend in al haar glorie, maar die slaap het ons kom haal. Net asof dit spesiaal vir ons is, is daar ʼn paar bliksemstrale teen die swart horison en ʼn paar vet druppels spat teen die ruite.

Ontbyt geniet ons buite op die restaurant se stoep. Die spyskaart met sy Asiese omelet, Pakora-wafels en Turkse eiers, herinner aan die oorsese besoekers wat so gereeld ons land besoek het voor die pandemie, en ek kry sommer heimwee as ek dink aan al die plekke waar ons al hierdie disse in hul land van herkoms geniet nie.

Die lui ontbyt moet egter afgestap word en ons kies koers na die Everard Read -galery, waar die kunswerke en beeldhouwerke ʼn mens tot stille inkyk dwing. Koffie om die draai, voor ons na dekor en ander kuns by klein winkeltjies in die omgewing inloer.

ʼn Baie mooi Be Kind-teken op ʼn straathoek, wat na ʼn swaar reënbui van 15 minute vrolik in sy veelkleurigheid teen glas en staal blink, laat my sommer glimlag.

Ons peusel by Proud Mary elkeen aan ʼn croissant voor ʼn middagslapie, want ʼn emmerlys-ete by Marble in Rosebank se Keyes Art Mile wag later.

Voor ons uitgaan vir ete is dit tekkies aantrek en in Deltapark gaan stap. Jonk en oud geniet die bome, die gras en die stilte in die besige stad. My slimfoon biep tevrede met die hoeveelheid treë wat ek aflê en die saligheid om my skoene uit te trek en die sagte gras onder my voete te voel, is onverwags tussen die staal en glas van die geboue wat soms amper laer trek om groen dele in die stad.

Die treffende teken teen ʼn baksteenmuur noop ʼn mens om ʼn foto te neem.

Marble is van 17:00 af ʼn ontmoetingsplek. Eers geniet almal drankies met die son wat allerhande kleur-perkate buite die ruite maak, tot die maan opkom en die sterre oorneem. Binne voel jy amper eerder die musiek in jou lyf, as wat jy dit werklik hoor, maar die energie is tasbaar. Die restaurant spog met ʼn nuwe baadjie en die binnenshuise versierder, Irene Kyriacou, se fyn oog is luuks en elegant.

Die reuse-oopplan-kombuis bied sy eie teater en ons geselskap word kort-kort onderbreek as een van ons groep iets op die vlamme sien gebeur, of as ʼn uitsonderlike bord kos deur die sjefspan afgerond word met mikrokruie of ʼn sweempie sous. Oulike kroegstyl-tafels aan die een kant, gee daardie eters die beste sitplekke in die huis en dis duidelik dat die sjefs die interaksie met hul kliënte geniet, want kort-kort word ʼn tegniek of proses verduidelik.

Die hoofsommelier, Wicus Human, en twee ander sommeliers beweeg geruisloos tussen die gaste. Wikus was sommelier van die jaar en jong sommelier van die jaar en ʼn mens is dankbaar vir sy kennis oor die meer as 150 wyne op die wynlys, wat lande soos Frankryk, Italië, Spanje, Nieu-Seeland, Australië en natuurlik Suid-Afrika insluit.

Hy maak voorstelle oor die beste wyne saam met elke gang en kort-kort verdwyn hy in die glas wynkelder wat in die middel van die vertrek waghou en jou net laat besef hoe klein ons wynwêreld is, dat daar meer goeie wyne as dae in die jaar is en dat jy nooit almal sal kan proe nie.

Die hele restaurant is rondom die eeueoue magiese krag van vuur gebou. Daar is vlamme en kole in verskeie oonde, oop braaiagtige houers en sjefs draai verwoed aan reuse-slingers om die hitte te reguleer soos die bestellings inkom.

Ons vier ʼn vriendin se verjaardag en voel effe roekeloos. Die afgelope drie jaar was nie maklik vir enigeen van ons nie, en ons klink ʼn glasie op dié wat ons verloor het, dié wat met terminale siektes sukkel en dié wat jonk en gesond is, maar leef asof hierdie rondte ʼn kleedrepitisie is vir die lewe wat nog moet kom.

Ons Johannesburg-besoeke is nooit volledig sonder ʼn kuier by 44 on Stanley nie.

Die New York-biefstuk bring soveel herinneringe terug van 12 jaar gelede toe ons gelukkig was om vir ses weke in New York te werk. Danksy ʼn niggie se werk as ouditeur vir ʼn Londense bank, kon ons by die beste restaurante eet, museums besoek en die ware NY ontdek, danksy vennootskappe met restaurante, museums en hotelle waar ons Suid-Afrikaanse sente gewoonlik nie genoeg sou wees nie.

Wikus stel ʼn wyn voor waarvan die prys ons oë in hul kaste wil laat omdop, maar voor ons regtig te veel daaroor kan dink, staan die kristalkaraf langs my en ons ragfyn glase is gevul.

Die strate is stil toe ons ounag saam met ʼn hele paar ander tafels se gaste op die sypaadjie staan. “Dis herinneringe hierdie”, kom dit skielik van my geliefde, terwyl ons vir ʼn Uber wag. Padblokkades en die nuwe drankregulasies het ons laat besluit om eerder nie self te bestuur nie.

Ons laaste dag in Johannesburg is ʼn mengelmoes van vriende sien en kuier. Ons moet natuurlik by The Bioscope inloer vir ʼn lekker Sondag-komedie-uur in die Maboneng-distrik; gaan middagete eet by 44 on Stanley en my man moes mooipraat toe ek die mooi platewinkel sien, “want hoe gaan jy dit by die huis kry?”. Hy het dit skaars gevra, of hy antwoord dit self: “Seker op jou skoot soos die kombuisligte wat jy drie jaar terug ook hier gekoop het…” Dis wysheid wat ná 28 jaar van getroude lewe kom.

Dis net drie dae in Johannesburg, maar dis drie maande se energie wat saam met ons bagasie by die lughawe inweeg. Elke stad het beslis sy pluspunte en Egoli het beslis haar glanskant vir ons gewys.

Die area het geen tekort aan mooi kuns nie en hierdie Edoardo Villa-beeldhouwerk, Tree of Life, is geen uitsondering nie.

Kitsfeite:

  • Bespreek jou luukse Art Deco-wegbreek by voco The Bank en moenie bekommer nie, daar is ʼn pragtige gimnasium om al daardie lekker kos af te werk.
  • Dis so gerieflik om ontbyt en sommer aandete ook by Proud Mary onder in die New York-geïnspireerde voco The Bank Hotel te geniet, www.proudmary.co.za
  • Foto’s deur Clifford Roberts en verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.