Dis lekker om plaaslik rond te rits

Uitsig by Sosyskloof in Jonkershoek (Foto: Marianne Styan)

Die toerismebedryf in Suid-Afrika het groot skade gely weens die Covid-19-pandemie. Die bedryf ly trouens nog steeds weens die internasionale mark wat nie meer vrylik na ons land kan reis nie. Al hoe ons toerismebedryf, en daarom ook ons land, sal kan oorleef en weer op die been kan kom, is as ons hulle self hulle ondersteun.

My en manlief se voete jeuk om weer te kan reis en wat is dan nou beter om daardie lus te blus as om ons eie deeltjie van die land, wat naby ons is, weer te herontdek? Plekke soos die eikeboomlaanstrate van Stellenbosch, wat net minder as ʼn uur van Kaapstad tussen die berge lê, is vir my die perfekte plek om te begin.

As iemand wat vir ʼn ruk lank daar gebly het, het ek gedink ek ken dit nogal goed. Die nuwe #StellenboschIsOpen-veldtog was die ideale geleentheid om te sien wat ek vir ʼn twee dag-wegbreek kan ontdek.

Verblyf

Ek kan nie onthou hoeveel keer ek deur die jare heen verby die Eendracht Hotel in Dorpstraat gery of gestap het nie, en dit het altyd my oog gevang. Dalk was dit die stoep onder die eikebome wat mens uitnooi of dalk die ligging wat so naby aan byna alles in die hoofdorp is (letterlik stapafstand van alles af!). Hierdie keer was dit ons huis-weg-van-die-huis.

Hierdie verwelkomende eko-vriendelike hotel is die perfekte ekwilibrium tussen huislikheid en persoonlike aandag van ʼn gastehuis en die luukshede wat jy in ʼn hotel sou kry. Met oudorpse sjarme wat dateer uit die oorspronklike gebou van die 1700’s (wat vergroot en opgedateer is) en die moderne ekstras soos sonkragpanele (wat beurtkrag die nek omdraai), lugverkoeling in elke kamer en die hipermoderne storte, kan jy maklik vergeet om in die dorp te gaan rondloop. Die kamers is ruim en pragtig.

As jy wel die dorp gaan ontdek, is die miniatuurswembad in die binnehof perfek om die Bolandse hitte van jou lyf af te spoel. Indien werk wel ʼn prioriteit moet wees, is daar ʼn goed ingeruimde konferensiekamer. Baie goeie, gratis Wi-Fi is reg deur die hotel beskikbaar.

Die personeel, van die ontvangspersoneel Eddie en Michelle, tot die sjef Jeremy, is vriendelik en hulpvaardig, sonder oordrewenheid. Selfs die eienaar is gereeld daar om seker te maak alles loop klopdisselboom.

Indien mens belangstel in ʼn selfsorg-opsie, bied Eendracht ook selfsorg-eenhede, drie minute se stap van die hotel.

Spys en drank

Hierdie dorp het nie ʼn tekort aan eetplekke nie. Alhoewel ʼn hele paar ongelukkig hulle deure moes sluit weens die Covid-19-pandemie, is daar ʼn hele paar wat nie opgehou het om kos uit die boonste rakke voor te sit nie.

Senobia’s is Eendracht Hotel se eie restaurant, en met hulle keurige en eg tuisgemaakte disse wat hulle deesdae vir middagetes voorsit, is dit byna onnodig om “nuwe weivelde” te gaan soek. Heerlike lamsboud, hoenderpastei, aartappelslaai, melktert en malvapoeding, om net ʼn paar te noem. ʼn Warm ontbyt, wat by die kamerprys ingesluit is, word ook in die oggend hier bedien.

Oppie Dorp, waar ons een van die aande gaan eet het, is twee minute se stap weg. Eg Suid-Afrikaanse kos met ʼn Franse swaai, bedien met heerlike wyn, terwyl jy die koeligheid van die vroegaand geniet en die dorp sien verbygaan, is ʼn wonderlike afsluiting van die dag. Hulle het ook ʼn spesiale wynproe-opsie op die oomblik, met vyf van die heerlikste wyne van die Boland.

Vir ʼn ligte middagete of net ʼn laatmiddagdrankie het ons die Beyerskloof Wynbar uitgesnuffel. Hulle Pinotage, waarvoor Beyerskloof bekend is, word in baie van die disse geïnkorporeer, soos ons smaaklike Pinotage Salami Sami. Boonop is die pryse baie bekostigbaar.

Ons klink ‘n glasie rosé by Beyerskloof Wynbar (Foto: Marianne Styan)

Elkeen van hierdie plekke se personeel is wonderlik vriendelik en verwelkomend, ten spyte van ʼn moeilike jaar wat agter die rug is. Uitstekende diens getuig van hulle dankbaarheid dat mense hulle ondersteun.

Avonture en aktiwiteite

ʼn Plek wat ek al gereeld vir ontbyt besoek, maar nooit regtig ontdek het nie, is Stellenbosch se botaniese tuin. Teen net R15 vir toegang is dit ʼn oase op ʼn warm dag. Die verskeidenheid bome, plante, blomme en selfs voëls is besonders en ʼn besoek werd wanneer jy jou in Stellenbosch bevind. Die rustigheid wat mens onder die lowergroen bome kry, laat jou voel of jy nie in die middel van ʼn dorp is nie.

Die volgende twee dae het ons egter meer op ons avontuurlustige kant gefokus en daarvoor het ons by Adventure Shop gaan aanklop, geleë op die walle van die Eersterivier, drie minute se stap vanaf Eendracht Hotel.

Ten spyte van die Bolandse kwik wat by 35 grade gaan draai het, het ons een oggend met e-fietse hulle roete vanaf Stellenbosch na die pragtige lowergroen Boschendal-wynplaas aangepak. Teen ʼn spesiale prys van R450 per persoon (nog so vir die volgende paar maande) is hierdie aktiwiteit verseker nou een van my gunstelingdinge wat ek ná Covid-19 gedoen het! Vergesel deur een van die beste en bedagsaamste gidse wat ek nog gehad het, Severino Tamboer, sowel as die eienaar, Raino Bolz, was die 25 kilometer tussen Stellenbosch en Boschendal werklik net genot. Die roete loop deur die dorp; Idas-Vallei, waar jy vergesel word deur ʼn ekstra gids wat die skoonmaak van die area begin het om dié deel van die vallei veiliger te maak; oor die ou Helshoogte-pad; kronkelend deur groen wingerde van wynplase; deur die Banhoek-bewarea, met die effens meer uitdagende fietsroete langs terwyl elande en gemsbokke wegkruipertjie speel tussen die fynbos; en uiteindelik tussen die damme en welige grasperke van Boschendal wat soos die paradys lê en wag. Dis ʼn goeie drie of so ure se ry, maar verseker die trap werd met die hulp van die e-fietse, wat jou net daardie ekstra hupstoot gee wanneer jy dit nodig kry.

ʼn Lafenis by Boschendal se Deli voor Adventure Shop se bussie ons teruggeneem het Stellenbosch toe, was net die perfekte afsluiting van ons eerste avontuur.

Dag twee het ons die berge van Jonkershoek gaan aandurf, weer met komplimente van die Adventure Shop. Hierdie keer met Tyane Ruddock as algemene gids wat ons al die juwele in die fynbosbesaaide klowe en hange van die Jonkershoekberge uitgewys het. Ons het die Sosyskloof-staproete se sewe kilometer uitgestap terwyl die kwik al hoër gestyg het, maar is bederf met die yskoue bergwater wat in fyn strome teen die kliphange afloop, op pad na die Eersterivier. Die hoogtepunt vir my was egter om die asemrowende skugter rooi disa tussen hierdie mosagtige hange te sien! Nie net een keer nie, maar twee keer! Wat ʼn voorreg.

Adventure Shop bied ook ʼn historiese toer deur Stellenbosch op e-fietse, sowel as private wyntoere, gelei deur Colin de Wet.

Ek weet ons almal trek maar die gordel stywer deesdae, maar deur plaaslike toerisme te ondersteun, blus nie net ons wonderlus nie, dit help ook daardie mense wat in die bedryf werk, en daarom kan ons indirek ʼn invloed hê op baie mense se lewens, terwyl ons die lekker local omgewing op ons voorstoep, sonder internasionale toeriste, herontdek.

*Eendracht Hotel and Apartments sowel as Adventure Shop is albei deel van Cape Country Routes

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marianna ·

Dis heerlik om binnelands te toer. Wat ek gevind het dat gastehuise en restaurante jou uitbuit op die platteland. Om R900 per nag te betaal sonder ontbyt en as jy ‘n bier wil drink betaal jy R70 per bier is vir my verregaande. En dit in ‘n gewone gastehuis met geen ekstas nie. In dieselfde dorp het ek ook die ondervinding gehad in ‘n restaurant. Ek het ‘n pasta bestel en was geskok toe ek die prys sien. Om toerisme in die land te stimuleer moet gastehuise en restaurante ook hulle kant bring. Ja, hulle het geld verloor oor die afgelope jaar, so het die binnelandse toeris ook. Stop die uitbuiting en toerisme sal optel.

Elmarie ·

Marianna ek stem 100%met jou saam. Wat my veral iriteer is hierdie lodges by KNP en ander plekke wat ewe snooty al die jare vir die dollar-, pond-en eurodraers amper uitsluitlik ge-cater het. Soms wil mens jouself mos ook bederf deur in goeie plekke te bly maar die pryse is net belaglik. Hopelik dink hulle bietjie met die inperking en min oorsese toeriste

Kobus ·

Bespreek deur die instansie wat waarborg dat jy sal lekker slaap – ons het pas ‘n uitgebreide toer gedoen en die meerderheid van ons blyplekke het 20% afslag aangebied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.