Dolfynroete: Stap deur die romantiese hart van Tsitsikamma

Freddie en Marius. (Foto verskaf)

Ek en Gerrit was nog altyd lief daarvoor om ons stapskoene aan te trek. Ons albei het die legendariese Tsitsikamma-roete (ses dae) en Otterwandelpad (vyf dae) ʼn paar keer gestap en dink eerlikwaar die Dolfynroete (drie dae) se mooiheid en moeilikheidsgraad is vergelykbaar met enige dag op die Otter. Wat luuksheid betref, is die Dolfynroete egter enig in sy soort en ʼn ideale manier om ons twintigste huweliksherdenking te vier.

In die Tsitsikamma kan jy regdeur die jaar vier seisoene per dag verwag. Ons het al voor die kaggel gekuier op Kersdag en in die see geswem in die winter wanneer die warm bergwinde waai. Sonskyn en reën – dis waarom die Tuinroete ʼn beeldskone tuin is. Voordat ons die Dolfynroete in Mei gestap het, het die gebied skielik ʼn twaalfde van die jaarlikse reënval binne twee dae gehad, soveel so dat veertien stappers op die Tsitsikamma-roete per helikopter gehaal moes word. Toe ons slegs ʼn dag later die Dolfynroete begin stap, was die genade groot: Die natuur was skitterblink ná die reën, dit het ʼn bietjie gestuif, maar so min dat ek die heeltyd my kamera buite my lyf kon dra. En die verrassings was verruklik: Watervalle, wat byna nooit gevloei nie, het met mag en mening vanaf die berge tot in die see gestort. Die laaste dag was helderblou kortmou-weer.

Op pad na Stormsriviermond troon die inheemse woud aan weerskante van die snelweg. Geheimsinnig. Smaraggroen. Wanneer jy van die snelweg afdraai bevind jy jou tussen plaasdamme en melkkoeie op grasgroen weivelde. En ʼn ent verder: die oeroue kuswoud van Stormsriviermond.

Stormrivierpas (Foto verskaf)

Dag van aankoms: Stormsriviermond

Skaars het ons die middag by Stormsriviermond ingeklok, of ons ontmoet die vriendelike veldgids Marius. Deel van die Dolfynroete se pamperlang is ʼn gids wat saamstap, inligting deel en die dag se drinkwater, noodhulpgoed, swemhanddoeke en snorkels dra. Stappers hoef byna net ʼn kamera en glimlag op die bakkies te dra. Marius sit die 17 km-roete uiteen wat begin by Stormsriviermond, die aller pragtige marinepark in die hart van die Tsitsikamma, en ooswaarts kronkel deur fynbos en oerbos, oor ruwe kusrots tot by die oewer van die Sanddrifrivier by die Fernery (Forest Ferns). Ek en Gerrit gaan die enigste stappers op die roete wees. Ons het nét mekaar en ʼn avontuur in die natuur – soos in die heel begin. Wonderlik romanties.

Koffie in die hand, skouer-aan-skouer sit ek en hy en kuier in die houthuisie reg op die rotse van Stormsrivier. Die vensters is groot en die uitsigte wyd. Agter ons is die woud met druppende varings; voor ons is die bruisende blou branders. Die see is vandag onstuimig. Die kranse weergalm. Dis koud, al die voëltjies skuil iewers, behalwe die seemeeue op ons stoepie. Aandete by Cattle Baron Seafood Grill and Bistro in die park verwarm die liggaam en siel – mossel marinière, geelstert vars uit die see, oondwarm malvapoeding. Ons sluimer in met seegedruis.

Stapdag 1: Stormsriviermond na Misty Mountain Reserve

(Afstand: 7,5 km . Hoogste klim: 708 m)

Die volgende oggend vertel Marius dat Stormsrivier in 1964 gestig is. Dis die oudste marinepark in die land en die grootste marinepark in Afrika. Die skuim op die see is planktonsop, ʼn anti-oksidant. Omdat tannien oplos wanneer water deur die plante sypel, is die rivier teekleuring. Stormsrivier is 20 km lank en 17 m diep tydens hooggety. Die kalanders (geelhoute) hier word tot 1 200 jaar oud. Ek streel oor die skilferbas van ʼn bosreus. Hóór die reën in die Strandloperwoord, Tsitsikamma.

Ons stap oor die hangbrûe, op teen die berg. Al die veld is vrolik, al die voëltjies sing. Suikervoëls met flappende sterte rinkink tussen die suikerbosproteas, heide en kol-kol. Ons klouter die steilte uit verby Mostert se Krans en Arrie se Baai. By die uitsigdek wag ʼn gedekte tafel met koffie en neuterige bruintjies (brownies) op die rotse. Freddie, die joviale werker van Misty Mountain, skink koffie en kondig aan: “Boeretroos! Laat hy val waar hy wil!”. Hy praat so ʼn pragtige suiwer Afrikaans, dat ek hardop wonder of dit sy huistaal is. Nee, hy is eintlik Xhosa, maar ook vlot in vele ander tale.

Van hier af swenk die paadjie deur kusfynbos vol wit vlinders. Boggelwalvisse (bultrugwalvisse) en Suidelike noorkappers is seisoenale besoekers wat gereeld aan die kuslyn gesien word in die winter en lente. Nou klim ons weer af in die natwoud. Ysterhout. Kamassie. Hardepeer. ʼn Bostaaibos met vrattestam. ʼn Knoesterige melkhout. Assegaai. Dis herfs: sampioenseisoen. Swamme is trappies teen ʼn boomstam. Die bobbejaantoue is paadjies vir insekte. Dit sifreën so fyntjies deur die digte blaredak dat my kouse droog bly. Maar die riviere is in volle vloed – woudwatervalle en al.

(Foto verskaf)

Onder gekom, swem Gerrit in ʼn groot getypoel terwyl die branders oor hom breek. Die poel is groen soos die toermalynsteen van my trouring, groen soos Gerrit se oë. Bont see-anemone en seesterre so groot soos sy hand kleef aan die rotspoel. Hierna wag die steilte van Steilkop op ons. Op, op deur die fynbos klim ons die bielie van ʼn berg uit. Teen eenuur die middag sit ons heel bo en smul aan die wraps met brie, vye en hoender wat Misty Mountain vir ons gemaak het. Hierna stap ons weer deur ʼn keurboomwoud. Waar die staproete aan ʼn plaas grens, sien Gerrit ʼn draadstrik wat hy vernietig. Die uitheemse strook met swarthoute en bloekoms maak ʼn mens ook hartseer, want dit suig al die lewe uit die grond. Daarteenoor wemel die inheemse bos van lewe, met blommende Septemberbossies, suikerbekkies in die aalwyne, bosbokspore in modder en hangende mos (oumansbaard) soos groen hekelwerk aan die takke.

ʼn Gelykpad lei ons na Misty Mountain Reserve. Die houthuisie waar ons oornag is op ʼn platorand 230 m bo die see op ʼn grasperk met ʼn 180-grade uitsig oor die Indiese Oseaan. Ons kan tot doer ver sien – Plettenbergbaai, Robberg. Asemrowend. Ons word hartlik verwelkom met cappuccino en melktert. Die mense wat hier werk is ʼn skertsende, vrolike klomp. Misty Mountain is ʼn familiebesigheid en dit wys in die persoonlike aanslag. Die aronskelke en pers muishondbos voor die huisie gloei in die namiddaglig. Die skemerson sypel soos heuning oor die tuin. Gerrit pak die kaggel en ons kuier snoesig voor die vuurtjie.

Ná ʼn lekker stort is ons lus vir aandete. Voorgereg is gerookte salm-en-komkommer-spiraaltjies gevul met maaskaas en dille. Hy bestel romerige knoffelmossels. Hoofgereg is kruisskyf met sampioensous en geurige beeskerrie. Welgelukkig stap ons ná ete met die plankpadjie terug na ons slaapplek. Paddatjies tjirp-sing vanuit die woud. Só saligmoeg is ons, dat ons sommer negeuur omkap en soos klippe slaap. In die dolbesige werk- en gesinslewe besef ʼn mens nie hoeveel jy die rus nodig het totdat jy die kans kry om te ontspan nie.

Stapdag 2: Misty Mountain Reserve na die Fernery

(Afstand: 9,5 km. Hoogste klim: 389 m)

Die volgende oggend skrik ons eers halfagt wakker. ʼn Nuuskierige blouapie koekeloer deur ons kamervenster. Die misreën lig haar sluier – ʼn wye uitsig oor die uitspansel van die oseaan.

Ná ʼn hartlike ontbyt bekyk ons die kaart en lees die lekker plekname van vandag se roete: Soetbaai, Amfiteater, Otter-stegie, Skuinsbaai, Vuurslagklip, Daeraad-se-baai, Vermaak-se-krans. Die woudpad is steil-steil af, nog modderglad ná die vorige aand se reën. Sagte lig sypel deur die takke en toe ons die strand bereik, is daar ʼn uitbarsting van blomme wat oopmaak in die son. Pienk vygies. Die geharde Gazanias is gousblomgeel. Suikerbekkies drink uit aalwynblomme. Suurvye word glo gekook vir konfyt. Kusmalvas was parfuum vir die Khoi-Khoi. Kerriebos is regtig ʼn spesery. Kruidreuke en nareëngeure al om ons heen.

Ons stap ʼn ver ent kuslangs en trap versigtig bo-oor bosbokspore, otters se skulphopies, dassiemis in klipskeure en bobbejaanmis. ʼn Kaapse pelsrob duikrol in die golwe – blindbruin. ʼn Brander sproeireën teen ʼn rots waar kormorante, swart Tobies en meeue probeer sondroog.

Hierna klouter ons oor rotse met diep splete en skeure. Die klippe is oortrek van spatsels korsmos (swamme en alge) in groen, mosterd, grys en oranje. Dis ʼn teken van skoon lug. Die aronskelke en lelies blom tussen die riete. Bergaf vloei die rivier met soveel krag dat dit ʼn waterval vorm wat in see in stort. Só vol is die rivier selde. Die seeskuim is tot ʼn romerige karamelkleur geklits deur die instromende bergwater.

Die son breek deur die wolke en die voëltjies tjirp terwyl ons weer ʼn hoë berg aandurf tot by die Hek. Wit vlinders fladder in die fynbos van blom tot blom. Oor ruwe sandsteen en kwarts klim ons tot bo-op die plato. Dieper in die woud is essenhoute en stekelrige perdepramme. Die mos groei soos groen pels teen die stamme. Kleure sluimer in die ruigtes – ʼn saffraan met oranje stam, ʼn Knysnaloerie se skarlakenrooi ondervlerk. Ons hoor ʼn ruigtesanger en Swartopwielewaal. By Langbos wag ʼn piekniek in die woud vir ons. Ons sit aan by ʼn gedekte tafel met kussings en ʼn blare-tafeldoek vir quiche, hoendervlerkies, melktert en moerkoffie.

(Foto verskaf)

Die woud hier is ouer, stiller. Hardepeer en opregte geelhout. Koraalvarings vorm ʼn soliede muur aan weerskante van die paadjie. Die laaste kilometer stap ons in reën deur fynbos, verby ʼn beesplaas. ʼn Mens wens hulle wil die stuk dennebos uitkap. As jy eers die wonders van ʼn inheemse woud en fynbos beleef het, sal jy weet hoe doods ʼn uitheemse dennebos is…

Die Fernery se tuin is vol strelitzias en blommende proteas, agapanthus, stokou vyebome en kiepersol. Ons word ingewag met ʼn bottel vonkelwyn, ʼn gelukwensing omdat ons die staproete voltooi het. Ons houthuisie se naam is Bluelilly en soos al die ander chalets by die Fernery, is dit uitstekende toegerus vir selfsorg en versteek in ʼn inheemse woud met ʼn lieflike uitsig oor die rivierkloof. Die leiklipstort is heerlik. Ons kuier voor die kaggel in die slaapkamer voordat ons met die plankpaadjie aanstap vir aandete.

Die restaurant van die Fernery is baie besonders – jy kyk uit oor die see aan die een kant en die diep rivierkloof met sy waterval aan die ander kant. Voorgereg is perfekte springbok carpaccio met parmesaan-tjippies. Vir hoofgereg bestel ek stadig geroosterde, heuning-geglasuurde varkmagie met teriyaki, gemmer, ingelegde appel en kapokaartappels, terwyl Gerrit hom verlustig aan gebraaide lamskenkel met roosmaryn en groente. Die sjokolade-fondant is ewe voortreflik: warm donkersjokolade vloei uit die harde doppie en laat die roomys sommer smelt. Hemels!

Dag van vertrek: Stormsrivierpas

(Foto verskaf)

Vandag is die lug smaltblou. Doudruppels hang aan die oranje kamferfoelie buite ons chalet. ʼn Swerm geelgroen glasogies kwetter verby. Suikerbekkies rinkink in die proteas. Ons stap weer die kronkelpaadjie na die restaurant vir ontbyt, drink cappuccino op die stoep wat ver uitkyk oor die afgrond en die see. Die vrugteslaai is vol appelliefies, frambose, moerbeie en kiwi en die croissants met spek is heerlik.

Marius neem ons na die kwekery waar ons boomvarings vir spotgoedkoop aanskaf. Daarna neem hy ons met die 4×4 op die geskiedkundige Stormsrivierpas wat lank, lank gelede die migrasieroete van olifante was. Van 1879-1885 het Thomas Bain die pas gebou – ʼn pad vir ossewaens en perde, die “N2-hoofweg” van toentertyd. Nadat die Groot Stormsrivierburg in 1964 gebou is, het die bergpas in onbruik geraak. Vandag kan dit slegs te voet of met bergfiets besoek word of, as jy die Dolfynroete stap, per 4×4 met spesiale toestemming van Sanparke. Weerskante van die Stormsrivierpas is ʼn muur van varings. Die bergstrome en die liefde vloei sterk hier in die Tsitsikamma, die plek van sprankelende water.

Reisraad

  • By die Dolfynroete stap hulle werklik die tweede myl om die ervaring vir jou onvergeetlik te maak. Dit sluit in: die 17 km-staproete saam met ʼn opgeleide veldgids; drie aande se luukse verblyf op drie fantastiese plekke; alle etes, vanaf aandete op die dag van aankoms tot ontbyt op die dag van vertrek; vervoer van bagasie tussen verblyfplekke; en ʼn 4X4-rit op die ou Stormrivierpas.
  • Vir jou dagsak: Jy hoef werklik nie eers ʼn bottel drinkwater of swemhanddoek te dra nie. Dra slegs jou kamera, swemklere, ligte reënjas, sonskerm, sonhoed en tonne avontuurlus.
  • Vir jou oornagtas: ekstra stapklere, kouse en skoene, slaapklere, skoon klere vir aandetes in die restaurante, medikasie en al die gewone dinge.
  • Ouderdomsbeperking: Twaalf tot sewentig plus.
  • Stuur ʼn vonkpos na [email protected], skakel 042 280 3588 of besoek www.dolphintrail.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.