Eendag lank gelede, aan die rand van die Knysnawoud

Jubilee Creek (Foto: Carina Stander)

Elke plek op aarde het mos ’n persoonlikheid van sy eie, gevorm deur die liefdes en die letsels van die verre verlede en die hede.

Wanneer ek reis, soek ek altoos na ’n klompie doendinge en ’n slaapplek wat die siel van ’n omgewing weerspieël. Sommer met die intrapslag by Woodcutters Forest Cottages aan die rand van die Knysnawoud wéét mens dis ’n sielvolle plek wat iets van die hart van die streek openbaar.

Die eienaars is tuinontwerper Hannes Stander en blommekunstenaar DP Ferreira, die mede-eienaars van Ecozest. Hul eie woonhuis is ’n houtkappershuis uit 1827 met mure van grondsooie en klei, terwyl die kothuisie wat hulle verhuur, lank gelede ’n werkskuur was. Nadat hulle dertien jaar gelede hierheen getrek het, het hulle dit in ’n wegbreekhuisie omskep.

Die ruimte is so bedink dat dit jou oog na buite laat dwaal en die natuur na binne nooi. Die mure van die oopplansit- en -eetkamer is ’n skaduweeblou en die bad is dakloos – jy kan onder die sterre bad as jy wil! Teen die moskleurige badkamermure is takbokkoppe van rottang. Die vase met vars blomme en die botaniese muurpapier, die suiwer katoen en geweefde sybokhaar, die geelkoper, graniet en hout, die seeskilpaddop en Nguni-mat, die verweerde vintage leerstoele en bonkige keramiekpotte vol plante skep alles saam ’n gevoel van egtheid. Aardsheid. Mens kry die idee dat niks sommer terloops hier beland het nie, elke ding is met die hand uitgesoek en gekies vir sy kleur, vorm, tekstuur of storie. Alles eggo van die geskiedenis met ’n eietydse kinkel.

Dis ons gesin se maandelikse tegnovrye naweek met g’n selfoon, televisie of rekenaar in sig nie – ’n tradisie wat ons al jare volhou.

Nadat die ketel op die stoof fluit, kuier ons met tee en beskuit op die stoep. Dis ’n warm dag. Ons drapeer ons sigselwers oor die stoepbanke en verdiep ons in die storieboeke wat ons saamgebring het. Langs die leesbank is ’n pot vol pragtige pynappelblomme (Bromelias). Doer onder in die tuin hol twee fotogeniese boerewindhonde en ’n kooikerhondjie. Vanaf die stoep is ook ’n uitsig oor ’n dammetjie met bloupers waterlelies, pynappellelies met boogvormige blomme en bloulelies (Agapanthus). Verder weg is ’n heuwel met fynbos en daaragter is die plantasies. Twee Knysnaloeries sweef verby met skarlakenrooi ondervlerke.

Skaars het die son gesak, of dis beurtkrag. Ons steek die talle kerse in die kothuis aan en braai ’n vleisie oor die kole. In die stilte laat die bos sy stem hoor – die vleipaddas tjirpsing en ’n bosuil antwoord sy maat met whoo-huhu-hu-hu. Dié woud is glo ook die woonplek vir reuse-ooruile en naguile. Saligmoeg klim ons later in die outydse katels en dommel weg in drome.

Die volgende oggend waai ’n mistigheid oor die landskap. Ná oggendkoffie en ontbyt vat ons die pad. Skaars 3 km vanaf Woodcutters Forest Cottages is die permitkantoortjie van die Kringe-in-’n-Bos-staproete. Die beginpunt is by ’n agt eeue oue kalander (Outeniqua geelhout) wat veertig meter hoog troon. Die geliefde bosskrywer Dalene Matthee se gedenksteen is by dié boom en haar as is hier gestrooi. Die staproete is natuurlik na haar ikoniese boek vernoem.

’n Paar jaar gelede het ons gesin die korter 3 km-roete gestap, maar vandag neem ons die 9 km-sirkelroete wat swenk verby oeroue kalanders, ysterhoute en boomvarings van drie meter hoog. Op en af kronkel die roete oor ’n dosyn bruggies en die muilepad wat toeka deur mynwerkers en boskappers gebruik is. Die bosbokspore en bosvarkmis verklap dat ons nie die enigste stappers is nie. Tussen die herfsblare wip ’n paddatjie met pofadder-patrone om sy rug. Oranje sampioene gloei teen ’n stam. Die mos is ’n digte pels oor die klippe.

Ongeveer halfpad, by die 4 km-merk, swem ons in ’n heuningkleurige poel. Blou en rooi naaldekokers woer-woer deur die lug toe ons ná die tyd op die klippe langs die stroom sondroog. ’n Paar honderd meter verder is ’n mooi waterval. Die laaste 3 km van die roete is ’n stywe stap op met ’n grondpad. Ons klouter in die hol stam van ’n ou boom en verkyk ons aan die wilde irisse en varings en grasspriete langs die pad.

By die 4 km-merk van die Kringe in ‘n bos-staproete swem ons eers in ’n heuningkleurige poel. (Foto: Carina Stander)

Terug by Woodcutters Forest Cottages neem ons ’n stort, maak aandete en speel die kaartspeletjies wat ons saamgebring het. Daarna sit-lê ons weer luilekker op die stoep en lees verder aan ons storieboeke totdat die sterre vonkel.

Sondagoggend kyk ons vanaf die stoep hoe die donker wolke nader rol. Voor die reën ons vang, gaan stap ons ’n ander nabygeleë roete, Jubilee Creek. Die gekabbel van die woudstroom oor die klippers klink soos windfluite. Boomvarings en swarttowerhaselaars (black witch hazel) hou wag op die oewer. Aan die einde van die roete is ’n waterval waar mens kan swem, maar vandag kry ons te koud.

Die storie agter die naam van die Goudveldwoud ontvou terwyl mens al langs die spruit stap met tonnels en waterslote van 18-toet, die oorblyfsels van die tyd toe prospekteerders hierheen gestroom het in die geloof dat dit van goud wemel. Dit was nadat geoloog E.J. Dunn in 1880 spoelgoud in Jubilee Creek ontdek het. Teen 1883 was hier reeds tweehonderd goudsoekers – sommige van sover as Australië, Amerika en Brittanje – en kort voor lank was hier hotelle, koerante en poskoetse. Teen 1888 het ’n duisend goudjagters hier gedelf, maar in dieselfde jaar het die woud skielik sy hande toegevou, die vindings het opgeraak en die myners het na die gouer weivelde van die Witwatersrand vertrek.

Vandag kan ’n ons maar tog te verlig wees dat die goudstormloop in Knysna nie ’n groot sukses was nie, anders was ons dié jubelende paradys van Jubilee Creek en die betowerende Toorbos van Dalene Matthee kwyt.

Boomvarings by die Kringe in ‘n bos-staproete. (Foto: Carina Stander)

Reisraad

  • Woodcutters Forest Cottages in Rheenendal naby Knysna is veel meer as ’n slaapplek – dis ’n knus en kunstige kothuisie, gerieflik ingerig as selfsorgverblyf met slaapplek vir vier mense. Hier kan jy deel voel van die geskiedenis en van die natuur. Skakel Hannes Stander: 082 776 7552. Vonkpos: [email protected]. Instagram: #highacregarden.
  • Die Kringe-in-’n-Bos-staproete kronkel deur ’n toweragtige oerbos. Dit begin by Krisjan-se-Nek by Dalene Matthee se gedenksteen. Jy kan kies tussen ’n 3 km- of 9 km-sirkelroete. Die roete is baie goed gemerk. As jy die 9 km-roete stap, neem swemklere saam om in die woudpoele te baljaar. Kry ’n permit by die Goudveld-bosboustasie naby die beginpunt. Skakel: 044 389 0129. GPS-koördinate: S33 55.001 E22 57.467
  • Jubilee Creek is ’n maklike 3,6 km heen-en-weer-staproete in die Knysnawoud. Aan die oewers aan die beginpunt is piekniektafels, braaigeriewe en ’n woudstroom waar jonk en oud kan kerjakker. GPS-koördinate: S33 53.310 E22 58.005

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.