Foto’s: Fietsry deur die wilde kant van die Baai

Sardiniabaai se wegsteekstrandjies lok beide stappers, branderplankryers en buitelug-liefhebbers. (Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Gqeberha (Port Elizabeth) en sy sonskynkus tel as een van die vriendelikste dele in die hele Suid-Afrika. Dit geld selfs meer so vir die minder bekende ‘wilde’ kuslyn wat wegkruipertjie speel net wes van Port Elizabeth.

Ja-nee kyk, daar is min mense wat ooit Gqeberha se ‘wilde kant’ ervaar. Diegene wat wel hier wes van die stad verken, moet reg wees vir ʼn rustige verrassing gevul met natuur en avontuur, met ougat dorpies en asemrowende panoramas wat hier al met Algoabaai se ruwe kuslyn ontvou.

Maak plan wanneer jy weer in dié Oos-Kaap-stad kuier, en suiker verby Summerstrand en die Nelson Mandelabaai Universiteit met die agter paaie langs. Dis sommer ʼn heel ander wêreld, met piepklein plasies, natuurreservate en nedersettings soos Schoenmakerskop, Seaview en Sardiniabaai reg op die rand van die onstuimige Indiese Oseaan.

Die mense wat jy hier gaan raakloop is glad nie met die stad gepla nie, en is die rustigheid vanself. Perderuiters wat luilekker saalboom steek; vissermanne wat lyn natmaak van die rotse af; branderplankryers op soek na daardie perfekte golf; voëlkykers met hulle vêrkykers; en natuurlik pad- en bergfietstrappers.

Sardiniabaai is ʼn puik plekkie om jou trap-toer in af te skop. Die meeste mense in die omgewing noem dit sommer “Sards”, en hulle spog graag oor die gewilde strand hier, nogal met piekniekgeriewe, ablusies en pragtige uitsigte oor beide die Bushy Park- en Sylvic-natuurreservate. Hier kan jy kaalvoet met die strand langs stap, omring deur die ongerepte duine, en met top visvanggate en besonderse branderplankgolwe.

Verder wes kan jy vir ʼn uur of wat (of dalk sommer ʼn week!) in Seaview talm. Hierdie dorpie sluimer ʼn skrale 25 km wes van Gqeberha en bied jou die hele boksemdais, van lekkerbek-restaurante tot soel rotspoele vir ʼn rustige wegbreek hier aan die ‘wilde kant’. Seaview Game & Lion Park spog met 40-plus spesies soogdiere, maar bied ook ʼn veilige hawe vir krokodille, meerkatte, jakkalse, rooikatte en so meer. Besoek www.seaviewlionpark.co.za vir meer inligting.

Grass Roof se fietspark bied opwinding vir die hele familie, met drie roete-opsies om van te kies. (Foto: Jacques Marais)

Die roetes

Sacramento Trail: Hierdie gewilde heen-en-weer draf- of staproete bied aan jou asemrowende uitsigte. Toegang is maklik en sommer digby die kusdorpie, Schoenmakerskop, waar jy veilig kan parkeer. Daar is sowat 4 tot 5 km se voetpaadjies wat deur Schoenmakerskop en Sardiniabaai se natuurreservaat wentel, en jy kan dit selfs per fiets pak indien jy graag sou wou.

Cape Recife-natuurreservaat: Dié 366 ha-reservaat is een van my gunstelingplekkies, en is alom bekend vir sy pikkewynkolonie hier aan Algoabaai se mees suidelike punt. Besoekers sal ʼn ongerepte buitelug-arena – met puik stap-, draf- en traproetes – reg teenaan die kuslyn ontdek. Trap met die Flat Rock-roete strandlangs vanaf die SANCCOB Sentrum (1,7 km), of wag vir laagwater en verken verby die vuurtoring tot by Patti’s-uitkykpunt. Toer terug met die reservaat-teerpad langs, of trap met die nat sand tot by Noordhoek.

Die kuslyn bied lekker ontsnapkans wanneer die gety op sy laagste is. (Foto: Jacques Marais)

Bo en behalwe fietsry, bied die reservaat se gidse ook ʼn verskeidenheid eksklusiewe mariene safari-uitstappies aan. Cape Recife, sowel as al die ander Wild Side-reservate, is bekend as uitstaande voëlkykbestemmings. Bring jou boek en vêrkyker, en tik jou lysie van pelagiese, kus-, varswater- en bos-spesies af. Besoek www.caperecife.com vir nog inligting.

Grass Roof Bike Park: Teen die tyd is jy al verseker reg vir ʼn goeie koffie en iets om te eet. Grass Roof – ʼn plaas-na-tafel-restaurant, bakkery en plaasstal – is net die plek, en die kos hier is uit die boeke uit. Hulle spog ook met ʼn fietsbaan waar jy kan spring en laat waai tot jou tong uithang. Gaan loer by www.grassroof.co.za vir nog inligting.

Die Cape Recife-natuurreservaatroete, tussen Flat Rock en Patti’s-parkeerarea, wentel verby die geskiedkundige vuurtoring hier op Algoabaai se suidpunt. (Foto: Jacques Marais)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.