Foto’s: Fietstrap van berg tot baai

Densen Magaisa verlekker homself in die prag en praal van Kogelberg, met Valsbaai in die agtergrond. (Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Ja-nee, Valsbaai en omgewing bly darem maar ʼn beeldskone plek. Diegene wat al deur hierdie stukkie hemel gery het, sal dit eens wees dat dit poskaartmooi is – amper soos iets uit ʼn reisjoernaal vir Kroasië, met wegsteekpaadjies, ruwe rotspunte en die Groot Blou wat skitter op pad Antarktika toe.

Asemrowende panoramas wag om elke hoek en draai, en ʼn mens kan nie help om van die pad af te trek by plekkies soos Steenbrasrivier, Koeëlbaai en Dappat-se-Gat nie. Laasgenoemde is alombekend vir sy golwe, en van bo teen die pad kan ʼn mens die branderplankryers dophou, terwyl die donker skaduwees van haaie die branderlyn agter hulle patrolleer.

Dit is dus geen wonder dat die R44 een van die Kaap se gunstelingfietstraproetes is nie. Daar is relatief min verkeer op weeksdae en jy is beskut teen die suidooster, terwyl dorpies soos Rooi-els, Bettiesbaai en Kleinmond spog met lekker deli’s en koffiewinkels digby die teerpad.

Kogelberg-natuurreservaat self is natuurlik wêreldbekend vir sy ongerepte natuurskoon, en word beskou as een van National Geographic se rykste Unesco-biodiversiteitkookpunte. Die Kaapse blommestreek is ʼn botaniese skatkis en CapeNature se klein reservaat spog met meer as 77 edemiese plante – in vergelyking het die hele Verenigde Koninkryk net 22.

Trap jou bergfiets, draf of stap na hartelus hier, of gaan jaag jou endorfiene op ʼn hoop met die hope ander avonture wat wag. Daar is puik rotsklimroetes, of jy kan branderplank ry, snorkel, kreef duik, kloofspring en kajak. Raak rustig langs ʼn rivierstroom omring deur disas, of swem in ʼn watervalpoel.

Gaan loer gerus by www.gravity.co.za.

Die R44 gooi esse verby Koeëlbaai, met Rooi-els en Hangklip op die horison. (Foto: Jacques Marais)

Die roetes

Op jou ysterperd: Begin by die Kogelberg-reservaat se kantoor en volg die roete terug na die ingangpad. ʼn Dubbelspoorgrondpad volg die vloei van die Palmietrivier, al met die vallei langs tot by die bruggie waar die Louwsrivier invloei (6 km). Die meeste mense draai by Stokoeibrug, waar een van die Kaap se mooiste natuurlike swempoele op jou wag. Die heen-en-weer-roete beslaan ongeveer 22 km. Besoek www.capenature.co.za vir meer inligting.

Trap padlangs: Die R44 is ook bekend as Clarenceweg, en die roete word gereeld as een van die wêreld se toptien aanskoulikste roetes beskryf. Indien jy dié pad per fiets wil pak, is die Pitstop Lodge naby Rockybaai ʼn goeie plek om stil te hou. Mik suidoos van hier al met die kuspad langs, verby Rooi-els (19 km) en Bettiesbaai (32 km), tot by Kleinmond (44 km). Die beste koffie en gebak in die hele wêreld is by Brood Stories in laasgenoemde dorpie – jy wil dit nie misloop nie. Besoek www.mtbroutes.co.za vir meer inligting.

Wandel tussen die fynbos: Die eenrigting Harold Porter-roete kronkel deur asemrowende restios-, erica- en proteavelde wat teen die westelike hange van Kogelberg floreer. Na sowat 2 km se dapper-en-stapper betree ʼn mens Oudebosch se inheemse Afromontane-woud, waar oeroue, reusestinkhout- en geelhoutbome bo jou uit toring. ʼn Sprokiesmooi waterval, omring deur smaraggroen mos en dosyne disas, tuimel ʼn kilometer verder na benede, met ʼn kronkelpaadjie wat al die pad tot in die Harold Porter Botaniese Tuin (6 km) daal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.