Foto’s: Kom kuier in Hogsback saam met die feetjies

(Foto: Jacques Marais)

Indien jy ʼn bietjie bos wil gaan in die boendoes, moet jy vir ʼn slag in die vêr voetheuwels van die Amatole-bergreeks in die Oos-Kaap gaan speel, en Hogsback moet verseker die heel eerste speelplek op jou lysie wees, skryf Jacques Marais.

Die dorpie

Daar is vele streke om te besoek in Suid-Afrika, maar bo-aan my lysie is Knysna en die Tuinroete-woude, die pragtige Tsitsikamma-omgewing naby Stormsriviermond, en dan natuurlik die Amatole-klowe in die Oos-Kaap rondom Hogsback.

Dié toerisme-streek se naam kom van die isiXhosa woord “amatole”, wat kalwers beteken en verwys na die menige voetheuwels wat hier in die Winterberg se skaduwee ‘wei’. Dit is dan ook teenaan hierdie rante waar die inheemse woude van die streek in al hulle glorie pryk.

Verbeel jou vir ʼn oomblik jy bevind jouself in Tolkien se Middel-Aarde – ʼn magiese plek waar watervalle na benede tuimel, waar boomreuse verskeie eeue oud hemelwaarts beur, en waar plekkies met name soos Hobbiton, Illiearth en Applegard wegkruipertjie speel.

Ja-nee, welkom in Hogsback, ʼn dorpie waar tyd klaarblyklik stil staan. Hier kan jy rustig voor ʼn knetterende vuurherd aan ʼn handgemaakte bier teug, in die immer-groen woude deur ʼn feëtuin wandel, of die strome patrolleer met ʼn vlieghengelstok op soek na baars en forel.

Gaan loer gerus by www.hogsback.co.za vir meer opsies.

(Foto: Jacques Marais)

Dinge om daar te doen

Hier in die Amatole-heuwels kan jy na hartelus speel, met meer as ʼn half-dosyn buitelug opsies om van te kus en keur. Die inheemse woude met reuse-geelhout en ander bome, helder bergstrome en gitswart-rotskranse wemel van die loeries, ribbokke en bosvarke, en daar is ʼn puik kans dat jy diere gaan sien terwyl jy stap of fietsry.

Diegene wat aan enkelspoor-koors lei kan letterlik in enige rigting uit Hogsback koers kies. Wolfridge-pad lei ooswaarts uit die dorpie, sirkel bokant die Madonna-en-Kind-waterval verby, en is ʼn goeie keuse indien die hele familie wil saam trap.

Draai na die rivier regs met ʼn grondpad al bokant die Tyume-vallei langs, met pragtige panoramas oor die omliggende grasvlaktes. Dit raak steiler van hier af, maar byt vas verby die Robinson-dam op pad na ‘The Hog’ toe.

Dis hier waar die regte egte fietspret inskop, want na sowat 2 km se klim draai jy skerp links om die enkelspoor-roetes te verken. Hierdie bergfietspaadjies swiep en sweef guitig deur die lowergroen woude, en jy gaan kwaai gatswaai tussen reuse-boomvarings en bome gedrapeer met oumansbaard-mos deur.

Hogsback wemel van stap- en drafroetes ook, met onder andere die prima sesdaagse Amatola-staproete wat hier deur die pieke en dale wentel. Die roete begin by Maden-dam, naby King Williams Town, en kruis en dwars dan vir 100 km tot in Hogsback self.

Daar is soveel ander opsies vir avontuur hier in dié hoekie van die Oos-Kaap. Gaan vlieghengel vir wilde forelle; doen ʼn uitstappie na ʼn waterval op een van die dag-staproetes; kyk deur die vêrkyker vir voëls soos loeries en kroonarende; raak rustig op ʼn labirint-stap by The Edge; of gaan soek sneeu in die winterwoude… die opsies is eindeloos.

Besoek gerus www.mtbroutes.co.za vir meer inligting oor die Hogsback-roetes.

Hoe kom ʼn mens daar: Volg die N2-hoofweg ooswaarts, en draai dan links met die R63 langs. Kyk uit vir die R345-afdraai na Hogsback – die dorpie is sowat 150 km vanaf Oos-Londen geleë, en jy kan die grondpad met ʼn gewone sedanmotor aandurf.

Bly en eet hier: Daar is hope puik verblyf in die dorpie, onder andere die pragtige Arminel Hotel waar jy in ʼn luukse kothuis tussen die bome kan wegraak. Plus, daar is dosyne ander outentieke gastehuise en rugsaklosies soos The Edge en Away with the Fairies waar ʼn mens kan rustig raak.

(Foto: Jacques Marais)

Roete:

Moeilikheidsgraad: Die enkelspoor is plek-plek tegnies, maar heeltemal rybaar
Tydsduur: 90 minute tot twee ure
Beginpunt: Bopunt van Wolfridge-pad
GPS-koördinate: S32°36. 105’ / E026°56. 455’
Terrein: Grondpad, dienspaaie en enkelspoor
Kaart: Beskikbaar by Hogsback se toerismekantoor
Huur jou fiets:
Hogsback Adventures by www.hogsbackadventures.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.