Foto’s: Lesotho sit die berg in bergfiets

ʼn Mens kry Matebele Cafe net ander kant die Gates of Paradise-pas, op pad Malealea toe. (Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Die bergfietsryers wat gereed maak om die bergkoninkryk van Afrika met ʼn fiets te gaan verken, moet hulself maar voorberei vir opdraandes wat ʼn monster sal bang maak. Tog is dit 100% pure avontuur as jy Lesotho met ʼn bergfiets verken.

Lesotho, ʼn land van wolkekrabber-pieke, dun lig en “donkie-cowboys”, oftewel Basotho-herders, wat per ponie dié berge se duiselingwekkende voetpaadjies navigeer. Gehul in veelkleurige komberse en met gleuf-oog-balaklawas lyk hulle dalk soos rowers uit ʼn Tarantino-rolprent, maar van aangesig tot aangesig is hulle van die vriendelikste mense op hierdie planeet van ons.

Hierdie piepklein koninkryk is die tuiste van die Lesotho Sky bergfietswedren, met fietsryers wat van regoor die wêreld kom om 400 km se rof-en-onbeskofte roetes te trap. Dit klink nou wel na missie onmoontlik, maar met genoeg oefening en hope vasbyt, draf jy dit dalk sommer self kaf.

Soos baie bergfietsbyeenkomste, het Lesotho Sky na die pandemie gesukkel, maar daar is groot planne om hom in Oktober 2024 weer aan te bied. Die goeie nuus is egter dat jy en jou maters of familie maklik jou fiets en 4×4 kan pak, en enige tyd van die jaar hier kom trap.

Daar is sommer hope puik lodges, onder andere Ramabanta, Malealea (een van Lesotho se mees bekende bestemmings) en die uitmuntende Semonkong. Dit is net so familievriendelik soos die Oos-Vrystaat, maar natuurlik met die pieke op steroïede, en veel minder mense.

Semonkong self is een van my gunsteling-plekke op die kontinent en ʼn mens kan dit vergelyk met die Tongariro-streek in Nieu-Seeland. Die sub-Alpynse landskap is asemrowend. Amper net so asemrowend soos die hoogte bo seespieël, veral wanneer ʼn mens wolkwaarts begin trap; die 360-grade panoramas maak dit egter die moeite werd, so moenie tou opgooi nie.

By Semonkong is dit asof jy ʼn parallelle heelal betree: die dorp self is ʼn valerige versameling van stofstrate en sinkgeboutjies, met houtpaaltjies voor Shoprite waar jy konsuis jou perd kan parkeer. Die lodge self is egter reguit ʼn prentjieboek uit, met sandsteen-chalets en ʼn spyskaart wat ʼn Kampsbaai-yuppie sal laat lippe aflek.

Maletsunyane is sekerlik een van Afrika se mees indrukwekkende watervalle. (Foto: Jacques Marais)

Trek jou stapstewels aan, of saal jou fiets (of bergponie, natuurlik) op, en binne minder as ʼn uur is jy by een van Afrika se mees dramatiese natuurverskynsels. Die Maletsunyane-waterval tuimel hier ʼn  goeie 204 m oor die eskarp, en die woord Semonkong – dit beteken ‘Plek van Rook’ – is juis afgelei van die rookmis wat bokant die valle hang.

ʼn Mens kan tot onder in die ravyn abseil indien jy dapper genoeg is, of andersins tot daar doer onder stap. Blykbaar kruip daar van Afrika se grootste forelle in dié groen-helder poele weg, so bring jou hengelgerei. Onthou sommer jou voëlkykboek en verkyker ook, want daar is witkruisarende, lammergeiers en hope ander roofvoëls wat hier teen die kranse wegkruip.

Malealea se staproetes verken dramatiese sandsteenformasies en klowe. (Foto: Jacques Marais)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.