Foto’s: Trap-trap deur De Hoop

Bontebokke, sebras, elande en troppe ander vlakte-wild maak ʼn rytog deur De Hoop pure fiets-plesier. (Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Klim op jou fiets en verloor jou hart in De Hoop, want hierdie is sekerlik een van ons land se mees unieke marienebewaringsgebiede.

Daar is sommer ‘hope’ avontuur om van te kus en te keur, en die beste manier om die natuur ten volle te geniet is op jou fiets.

Bestemming

Welkom in een van Afrika se mees suidelike natuurreservate. Ja-nee kyk, De Hoop is alombekend as ʼn diverse fynbosparadys, en beslaan ʼn allemintige 34 000 ha hier teenaan die kus in die suide van Kaap. Die aangrensende 5 km oseaan word ook streng bewaar, en dit is daarom geen wonder dat dit deesdae tel as een van Suid-Afrika se mees prominente walvis-teel- en kalfsones nie.

Besoekers kom van regoor die wêreld om hulself te verlustig in die fassinerende biodiversiteit wat binne, en rondom, hierdie uitgebreide seebamboeswoude digby die rotsagtige kuslyn floreer.

Dié “laaste wildernis” lok veral skuba- en snorkelduikers, en diegene wat dapper genoeg is om die Groot Blou aan te durf, is dit eens dat De Hoop se “onder-water-vinding” absoluut uniek is.

Terug op terra firma is daar ook hope avonture wat wag, met stappers van heinde en verre wat elke jaar die beroemde Walvis-roete kom pak. Vyf dae se stap, oor 55 km, neem jou al die pad van Potberg tot by Koppie Alleen, met uitstaande hutte, wegsteekstrandjies, walvisse en dolfyne, en natuurlik asemrowende panoramas – alles as deel van die ervaring.

Deesdae is dit egter die bergfietsbrigade wat mal gaan oor De Hoop, en dit is ook duidelik hoekom; al meer trappers kom verken die eindelose grondpaaie en pasgemaakte enkelspoorroetes, met troppe bontebokke, elande, bergkwaggas, volstruise en ander vlakte-wild.

Voëlkykers verlustig hulself in ʼn uiteenlopende ekostelsel met talryke spesies, en partykeer voel dit letterlik asof jy die Serengeti hier reg teen die oseaan ervaar. Dit is ʼn kop-oopmaak landskap en een ding is seker: hier gaan die rustigheid jou vind.

Besoek www.dehoopcollection.com vir meer inligting.

Vroegoggend is wanneer ʼn mens die meeste wild sien, en selfs die volstruise is mak genoeg om ʼn draffie saam met jou te doen. (Foto: Jacques Marais)

Roetes

De Hoop Natuurreservaat, geleë net suid van Bredasdorp, is een van die min plekke in Suid-Afrika waar jy ʼn goeie kans het om walvisse van jou fiets af te sien. Jy ry meesal op grondpaaie of dubbelspoorroetes, maar daar is ook lekker nuwe enkelspore vir fietsryers.

De Hoopvlei-bergfietsroete met ʼn (12 km- tot 19 km-opsies): Begin by De Hoop Opstal en volg die roete – al met ʼn rotsagtige, kalksteen dubbelspoor langs – tot by die historiese De Mond Huis. Nou het jy twee opsies: volg die sirkelroete terug (12 km) of trap tot by die ‘Melkkamer’.

Koppie Alleen-bergfietsroete (18 km): Begin by die opstal en volg die grondpad ooswaarts deur die reservaat totdat jy die geplaveide pad na Koppie Alleen bereik. Kyk uit vir die houtbruggie en stoot jou fiets tot bo-op die hoë duine vir die mees ongelooflike sonsondergange in die wêreld.

De Hoopvlei-ondervinding (55 km): Fietsryers met meer ondervinding gaan hulself verlustig in hierdie puik nuwe enkelspoor in die noorde van die reservaat. Dis gemaak vir fiks, sterk trappers, en laat jou toe om al die pad tot by Buchu se boskamp te ry sonder om aan die teerpad te raak. Meer inligting by www.overbergmtb.co.za

 

Gaan stap teen die see, daar verby Koppie Alleen, en jy sal heel moontlik die enigste persoon op hierdie deel van die Walvis-staproete wees. (Foto: Jacques Marais)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.