Foto’s: Walkersons in Dullstroom is soos balsem vir ’n gejaagde stadsiel

(Foto: Kyle Lewin)

Wat ʼn wonderlike ervaring is dit om op ʼn Maandagoggend met ʼn stomende koppie koffie langs ʼn knetterende kaggelvuur te sit, met een van my gunsteling-skrywers se nuutste boeke in die hand. ʼn Ligte motreëntjie sif saggies uit die digte misbank neer wat die foreldam en my vyfster-suite omvou.

Dit is nou ʼn heel ander manier om die week af te skop en dit is een waaraan ek beslis gewoond kan raak.

Die luukse vyfster Walkersons Hotel & Spa is die perfekte plek vir ʼn paar dae van ernstig uit- en ontspan van die gejaagde stadslewe. Die hotel is net so 10 km buite die gewilde toeristedorp geleë, op ʼn landgoed omring met ʼn pragtige natuurreservaat in vallei tussen golwende groen heuwels.

Draai jy in by Walkersons-landgoed se hek, word jy skielik begroet deur ʼn ouwêreldse sjarme wat herinner aan Skotland en Ierland. Sebras, grysduikers, vaal- en rooiribbokke, jakkalse en selfs ʼn hele paar tierboskatte woon op Walkersons, en as jy gelukkig is kan jy selfs ʼn paar rooihartbeeste, springbokke, blouwildebeeste en blesbokke gewaar. Vir my was die voëls se lofgesange in die oggend en die paddakoortjie in die aand wat my ore begroet ʼn welkome blaaskans van die gedruis wat 24-uur ʼn dag in die stad voortdreun.

Daar is oorgenoeg stap- en fietsroetes wat oor die landgoed kronkel en jy kan selfs ʼn rit te perd aanpak as jy die plek ordentlik wil verken.

Dan is daar natuurlik 14 foreldamme wat blinkoog lê en wag, propvol reënboogforel. Dullstroom is immers een van Suid-Afrika se paradyse vir gesoute vlieghengelaars.

Beginners hoef darem ook nie terug te deins vir ʼn visvanguitdaging nie, want daar is ʼn gids wat jou – met Job se geduld – touwys sal maak in die fynere kunsies van vlieghengel. Ek verstaan nou hoekom mense so gaande is oor dié soort visvang, dit is amper hipnoties ontspannend en baie bevredigend. Ongelukkig kon ek net ʼn paar riete met my pogings vastrek.

Walkersons het ʼn luukse spa waar jy uit ʼn verskeidenheid behandelings kan kies en verder kan wegsmelt in ware ontspanning. As dit nie genoeg is nie, kan jy verder in die swembad uitspan met ʼn  uitsig oor die landgoed of jou fiksheid opskerp in Walkersons se volledige toegeruste gimnasium.

Vir die wat graag eerder ʼn potjie gholf wil inwerk, is die Ernie Els-gholfbaan net ʼn klipgooi verder in die Highland Gate Golf and Trout-landgoed geleë.

Sodra die hongerpyne begin roep, kan jy ʼn ligte middagete by die The Terrace kom geniet. Dit is hier waar ons behoorlik gesmul het aan die gebakte forel, Walkersons se beroemde skons vir middagete en Whiskey-hawermoutpap vir ontbyt.

Daar is ʼn kroeg, The Colonel Potter, waar jy ʼn skemerkelkie kan bestel om saam met die sonsondergang langs ʼn kaggelvuur te geniet.

Aandetes by Walkersons word gekenmerk deur ʼn spoggerige viergangmaaltyd met bypassende wyne wat spesiaal uitgesoek is vir elke ete by die Flying Scotsman-restaurant. As jy gelukkig is, en dit is koud genoeg, word die kaggel weereens vir ʼn ware Dullstroom-ervaring gestook.

30 jaar gevier

Die statige sandsteengebou met sy losstaande suites, wat langs die hoofgebou uitgestrek lê, het verlede jaar sy 30ste bestaansjaar gevier. Die hotel is ook onder nuwe bestuur met Alex Band, sy ouers Doug en Sue, en Fiona Scott-Berning wat aan die stuur van sake staan.

Walkersons het in 2023 ʼn mini-opknapping ondergaan waar die oprit en paadjies buite die terras by die Flying Scotsman-restaurant oorgedoen is. Die terrasdek is ook uitgebrei om meer sitplek vir gaste te verskaf. Die konferensiegeriewe en spa is vernuwe, terwyl die wittebroodsuite en vyf van die luukse eenhede opgegradeer is met ʼn vars voorkoms, wat meubels en beddegoed insluit.

Vir ʼn boekwurm was die keuse van splinternuwe boeke in elke suite se boekrak ʼn ekstra onverwagse, maar baie welkome, bederf.

Dit is dan ook te verstane waarom Walkersons Hotel & Spa talle pryse ontvang het. Die hotel het ʼn prys vir uitnemendheid van Trip Advisor van 2013 tot 2018 ontvang en ʼn Travllers’ Choice-toekenning in 2019, 2021 en 2022.

@emj3893

#walkersonshotelandspa #mpumalanga #southafrica #suidafrika #reis #travel #luxurytravel

♬ Hier Sal Jy Boer – Appel

Gaan kuier in Dullstroom

Alhoewel jy verskoon sal word as jy verkies om net by Walkersons Hotel & Spa te bly sodat jy voor die kaggel met ʼn goeie boek kan boer, is dit beslis die moeite werd om Dullstroom self te gaan verken.

Die dorp spog met ʼn bekoorlike atmosfeer. Nie net is dit ryk aan geskiedenis nie, maar dit beskik oor sy eie klimaat wat effens koeler is omdat dit op ʼn hoogte van 2 100 m bo seespieël geleë is.

Wild about Whisky is die tuiste van sowat 1 200 whiskies (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Dullstroom is geseën met talle handwerk- en kunswerkwinkels en daar is ʼn hele paar uitstekende restaurante, koffiewinkels, ʼn boetiek-bierbrouery, melkskommelkroeë en kulinêre ervarings om van te kus en te keur.

Loer gerus in by Wild about Whisky wat die tuiste van 1 200 whiskies van 20 verskillende lande is insluitend Skotland, Ierland, VSA, Japan, Taiwan, Indië, Tasmanië en Suid-Afrika. Dit sluit ook ʼn groot verskeidenheid jenewer, rums, brandewyne, konjaks, gehalte wyne, bier en heerlike koffie in.

Nog plekke om te besoek is Harrie’s Pancakes, Waffles & Co, die Anvil Ale-brouery en Dullstroom Gin.

ʼn Tikkie luuksheid maak pad na Dullstroom nog korter

Die pad na Dullstroom is darem glad nie te lank nie, die dorp is net so twee en ʼn half uur se ry van Johannesburg en Pretoria af, maar dit help natuurlik as jy dit met ʼn tikkie luuksheid kan aanpak. Ford Suid-Afrika het die rit vir ons toergroep in ʼn ware vyfster-ervaring omskep met die Ford Everest Platinum.

Dié sewesitplek sportnutsvoertuig spog natuurlik met genoeg onder sy enjinkap om enige petrolkop se hart vinniger te laat bons. Dink maar aan die nuwe 3.0 V6-turbodieselenjin wat 184 KW en 600 Nm bied. Dan is daar ook die 10-spoed outoratkas, wat se lof al behoorlik deur Maroela Media se motorjoernalis, Brendon Stanniforth, besing is.

Vir my as passasier was dit die soepel rit en die stil kajuit wat beïndruk het. Die Everest Premium klou soos ʼn neut aan die pad na Dullstroom, en daar is oorgenoeg pakplek vir vyf vroue se tasse en elektroniese toerusting vir ons driedaagse besoek aan Walkersons.

Nog iets wat heerlik is van die Platinum-weergawe is die 12 duim-raakskerm wat inligting, vermaak en ʼn GPS-kaart verskaf en die klank wat uit die Bang & Olufsen klankstelsel kom, is fantasties. Die ander pluspunt, is die skerm is ook gekoppel aan ʼn 360-grade-kamera wat help om enige situasie met parkering maklik te maak, of jy nou in ʼn stywe stedelike ruimte moet inwikkel of moeilike terrein op ʼn 4×4-paadjie verken.

Ford se Everest is ʼn sewe sitplek volgrootte sportnutsvoertuig met vierwielaandrywing en laestrekratkas. Die Everest het ʼn 3.5 ton sleepvermoë – die hoogste gradering vir ʼn passasiervoertuig in Suid-Afrika. Ongeag hoe jy dit benader pas die Everest puik by enige gesin en ry lekker vir man of vrou.

  • Lees meer oor die Ford Everest hier en hier op Maroela Media.
  • Besoek Walkersons op Facebook, Instagram of Walkersons.co.za vir meer inligting. Besprekings kan by 013 253 7000 of [email protected]gemaak word.

(Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Fran ·

Lyk wonderlik maar dis waarskynlik net superryk mense en joernaliste wat dit sal kan bekostig.

Manie ·

Korrek Fran, Forel pryse is totaal en al buite die gewone man se bereik. Teen meer as R300.00 per kg (fillet gewig) eet ek eerder skaap tjops.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.