Gevind, ’n juweel in die bosveld

(Foto: Leonora Staniforth)

Ek kamp al my hele lewe lank. My eerste herinneringe van kamp is in my pa se tent langs ’n stroom in die Magaliesberge iewers op ’n oom se plaas. Toe begin ek, my ma en stiefpa in ’n grênd karavaan kamp in die Waterberge! My en my vrou se eerste kamp saam was in ’n piepklein driemantentjie, met ’n gazebo en ’n waentjie.

So ses jaar terug het ons in tente (beter en groter as die ou piepklein driemantentjie) verspoel – ook in die Waterberge. ’n Donderbui het hom binne minute uitgewoed, toe loop daar ’n klein riviertjie mooi in die pad af onderdeur ons tent. Chaos. Ek sê toe vir my vrou – dis tyd vir ’n karavaan.

Ons is al op ons tweede karavaan, en ons sleep hom wyd en syd – elke geleentheid wat ons kry. Die kinders het al lekker groot geword en ek moet bieg dat kampe al baie minder moeite is as toe hulle babas was. Soos die kinders groot word, só verander mens se vereistes in ’n oord. Vir lang kampe gaan ons slegs na terreine waar ons reeds was – en wat lekker vermaak bied om die kinders besig te hou. In die wintervakansie gaan ons na die ATKV Eiland-Spa, en dié jaar gaan ons in Desember na die ATKV Drakensville.

Die res van die jaar probeer ons elke langnaweek iewers gaan. Die afgelope langnaweek soek ek en vroulief ’n bekostigbare plekkie, redelik naby aan Pretoria wat ’n warm swembad bied. Mev. Staniforth kom toe op Rondevue ini Bos af. Ons doen navraag vir tariewe en is gou verbaas. Daar is ’n standaard tarief, of dit nou skoolvakansie is of nie. R350 per nag van Sondag tot Donderdag en R400 per nag vir Vrydag en Saterdag. Ons bespreek toe van Vrydag tot Dinsdag.

Gelukkig weet ons presies waar dit geleë is, regoor die ingang van San Cha Len, ’n hanetree van die Warmbad-afrit op die N1.

(Foto: Leonora Staniforth)

Met ons aankoms word ons vriendelik gegroet deur oom Dawid, een van die drie mede-eienaars. Ons is nog besig om op te slaan, toe een van die personeel vir ons ’n braaier, asdrom en ’n sakkie hout by die staanplek aflaai. Lekker.

Die kinders verdwyn en begin die kamp verken. Daar is ’n koue swembad, warm swembad, borrelbad en klomp wild. Die tannie in die restaurant is baie vriendelik, sê die kinders. Ná ons opgeslaan is, gaan stel ek en Leonora ons voor aan die mense. Die kampterrein is leeg – daar kom nog een karavaan môre – maar die chalets is vol. Ons ontmoet toe vir Mariette (die tannie in die restaurant). Sy is inderdaad vriendelik. En Eben – die eienaar.

Eben vertel ons ’n opgesomde geskiedenis… Dit is al vir jare sy en Dawid (sy swaer) se droom om ’n plaas te koop en presies só ’n oord te bou. Eben het verlede jaar op dié plaas afgekom en kon nie van hom af wegstap nie. Sy aanbod is aanvaar en Eben, Dawid en Mariette het op 15 Desember 2020 besit geneem. Tóé begin die werk eers!

Ná ’n aardige bedrag geld aan instandhouding spandeer is, kon dinge toe begin gebeur. Die Rondevue-span het in ’n baie kort tyd al wondere verrig. Waar die 18 staanplekke in die kampterrein nou is, was vier maande gelede net stof. Elke staanplek het ’n geplaveide blok en daar is ’’n netjiese opwasgedeelte en splinternuwe ablusieblok.

Eben nooi ons na die braai wat hulle op Saterdagaande by die restaurant hou – vure word gemaak en bykosse en eetgerei verskaf… al wat almal hoef te bring, is hul vleis. So kan almal mekaar ontmoet en lekker kuier. Saterdagmiddag kom maak oom Dawid ons bymekaar en laai ons gesin op die Land Rover (’n Series II wat in die weermag diens gedoen het) en neem ons vir ’n wildrit. Hier kry jy kameelperde, blouwildebeeste, elande, zebras, rooibokke, springbokke, njalas, blesbokke, waterbokke en volstruise. Ook minder bekende bokke soos swart impalas en wit blesbokke!

Die Rondevue-span het in die omgewing ook al bekendheid gewerf vir hul enorme ontbyt. Eben vra ons moet kom kyk waaroor die gegons gaan! Eers is dit gebak: brood en plaatkoekies. Dán koue vrugte, graanvlokkies of muesli en dies meer. Die derde en finale gang kom so uur later. Dit is ’n vleisparadys. Maalvleis, hoender-gizzards, patties, kaasworsies, spek, roereier, Franse roosterbrood, lamsvleis, tamatie en gekrummelde sampioene… sjoe! Al die mondwaterlekkerte vir slegs R100 per kop! Propvol geëet en baie beïndruk is ons terug karavaan toe.

Maandag begin my kinders vroeg neul omdat hul nie wil huis toe gaan nie. Om die hartseer gesiggies op te kikker, vat ek elkeen vir ’n kort rit op die vierwielmotorfiets met Eben se toestemming… en dis daar waar Eben se idee vir die plaas by my waar word…

Ons word die aand vermaak deur ’n sanger – onmiddellik is dit natuurlik weer rede vir die lekker kampbraai! Vure word aangesteek en al die gaste sit aan. ’n Paar mense van nabygeleë kampe kom geniet ook sommer die aand saam. Die kontantkroeg is verstommend sakpas en drankies vir 2 kos ons minder as R70! Die aand word afgesluit met ’n bederf in die borrelbad met uitsig op die rotsswembad en die diere wat saamdrom om die voerbakke net links van die ontspanningsarea…

Eben is gelukkig ’n baie suksesvolle sakeman en is in ’n bevoorregte posisie om die stukkie grond vir ’n tydjie te kan besit. Hy wil dit met mense deel – hul hoop is dat mense die natuur geniet en elkeen wat kom kuier, altyd terugkom en bly “as familie” – dít het hulle in drie dae reggekry, want ons sê toe vir die kinders hulle kan bly tot Sondag, maar ons moet gaan werk… en daar stem elkeen toe sommer dadelik in! Ai, toe moet ons sê ons het net gegrap.

My raad is dus: Eerstens, gaan besoek Rondevue Ini Bos. Jy sal nie spyt wees nie. Sê vir Eben, Mariette en Dawid dat die Staniforth’s groete stuur. Tweedens, gaan krap en soek daai klein, onbekende nuwe plekkie. Soos ons, ontdek julle dalk jul eie juweel in die bosveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PietervB ·

Brendon, ek kan beaam wat jy se, die plek is rerig ‘n juweel. Eben, Mariette en Dawid se gasvryheid maak die plek nog meer aangenaam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.