#IAmTourism: Megan Bedingham vertel oor ’n hotel se stryd

Die #IAmTourism-veldtog wil vroue in die toerismebedryf ‘n stem gee. (Foto: Verskaf.)

In Vrouemaand het talle organisasies in die plaaslike toerismebedryf besluit om saam te staan as deel van die #IAmTourism-veldtog en 31 verhale van 31 vroue in dié bedryf te deel.

Sowat 70% van die werkersmag in die toerismebedryf bestaan uit vroue wat direk geraak word deur die inperkingsregulasies wat die toerismebedryf tans nog kniehalter. Die #IAmTourism-veldtog wil vroue in hierdie bedryf vereer en ook ʼn platform gee sodat hulle stemme oor die regulasies se impak op hulle lewens gehoor kan word.

Megan Bedingham is die eienaar en bestuurder van The Cavern in die Drakensberg. (Foto: ‘n Skermgreep uit die video.)

ʼn Hotel se stryd

Megan Bedingham, eienaar en bestuurder van die historiese The Cavern, ʼn oord en spa in die Drakensberg, is een van die vroue in die bedryf wat deur die Covid-19-pandemie se afsonderingsregulasies geraak word.

Die regulasies se uitwerking het haar gedwing om dapper te wees en heelwat moeilike besluite te neem.

The Cavern bestaan sedert 1941 en word deur die Bedingham-familie besit. Terwyl Megan in die toerismebedryf grootgeword het, het haar pa aangedring dat al sy kinders eers iets anders studeer. Sy het as ʼn onderwyser gekwalifiseer.

Haar onderwysagtergrond het daartoe gelei dat sy ʼn aktiewe rol in verskillende opvoedingsprojekte in die noorde van die Drakensberg speel. The Cavern self ondersteun 18 kleuterskole en vroeëkinderontwikkelingsentrums in die groter amaZiz Village.

“Dit is ʼn hele ander kant van die gasvryheidsbedryf waarvan mense nie altyd bewus is nie. Ons was ongelooflik bevoorreg om hier te kon woon, en daarom was dit vir ons as familie belangrik om aan ons gemeenskap op die wyse terug te gee. Dit is hoekom onderwys en opleiding nog iets is waarop ons fokus, behalwe die hotel natuurlik,” sê sy.

Megan en haar span se harte het gebreek toe hulle die deure van die hotel met die algehele afsondering moes sluit.

“Ons het nog nooit voorheen ʼn dag sonder gaste beleef nie. Ons het dalk al so min as net 20 of 30 gaste gehad, en dan het ons gedink nou is die hotel ‘leeg’.

“Ons hou daarvan om besig te wees en daar gebeur altyd iets by The Cavern; so toe ons ons deure moes sluit, het die emosies hoog geloop. Ons hele eetkamer was dolleeg – dit was aaklig en neerdrukkend. Skielik was die stoof koud en nêrens het ʼn vuur in ʼn kaggel gebrand nie”

Megan sê die regering se rondspring tussen regulasies het verreikende gevolge op haar onderneming gehad. Die hotel het in ʼn stadium vir twee weke weer oopgemaak, maar moes kort daarna weer sluit omdat daar nie sekerheid was oor die reëls en regulasies nie.

Na nagte van rusteloosheid en angs, het Megan ʼn eerlike brief aan Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, neergepen waarin sy gevra het vir ʼn soort gerusstelling oor die toekoms van die plaaslike toerismebedryf wat swaar deur die regulasies getref is.

Kubayi-Ngubane is Megan steeds ʼn antwoord verskuldig.

Boonop voel Megan daar is tot dusver geen ambassadeur vir dié bedryf wat vir almal se belange in toerisme veg of voorspraak by die regering maak nie.

The Cavern is ‘n oord en spa in Bergville, KwaZulu-Natal in die noordelike Drakensberge. (Foto: The Cavern/Facebook.)

“Wat besigheid betref, was dit verwoestend; daar is geen inkomste nie en ons het ʼn honderd mense wat vir ons werk. Die tydelike werknemershulpskema (TERS) van die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) was ʼn lewensredder, maar dit gaan ʼn lang pad na herstel wees.”

Terwyl die hotel gesluit was, het Megan besluit om te fokus op waar sy wel nog kan help. Die onafhanklike skool waarby die hotel betrokke is, kon in Junie weer sy deure open. Dié skooltjie verskaf onderrig aan 85 kinders van preprimêr tot gr. 3 en dit is hier waar Megan die personeel ondersteun het om die regte gesondheid- en veiligheidsprotokolle vir Covid-19 in te stel.

Die planne kon later na die vroeëkinderontwikkelingsentrum en die hotel uitgebrei word.

“Ek het net gevoel die pandemie verg nou ʼn praktiese benadering, en om die probleem te vermy, is net nie ʼn opsie nie.

“Dit sou makliker gewees het om veilig agter geslote deure by jou gesin te bly en weg te kruip, maar dit is regtig net nie realisties nie. In ʼn sekere stadium moet ons dapper raak, die risiko waag en die bedryf oopmaak, uitkom en ʼn bestaan maak.”

Sy meen as sake realisties en versigtig benader word, kan die bedryf met ʼn bietjie waagmoed weer sy deure heeltemal open.

“In ʼn land soos Suid-Afrika het ons ongelukkig ook nie die hulpbronne sodat ons kan sit en wag tot die hele pandemie oorgewaai het nie.”

Wat haar egter die moed gegee het om haar stem dik te maak oor die bedryf, is dat soveel mense op The Cavern staatmaak vir hulle werk, terwyl ʼn hele groter gemeenskap ook die hotel nodig het omdat hulle ʼn reeks verwante dienste bied.

Sy meen dié bedryf is veral belangrik in landelike gemeenskappe waar dit dikwels die enigste werkverskaffer is.

Megan sê The Cavern is gereed om toeriste te ontvang.

“Daar is soveel dokumentasie om deur te werk. Dit was omslagtig en moeilik, maar sosiale distansiëring sal gehandhaaf kan word, ventilasie is verbeter en daar sal aangedring word dat gaste binnenshuis hul maskers dra.”

Tog sal die gaste ook hul vryheid by The Cavern kan geniet. “As hulle saam met hulle onmiddellike gesin op die berg is, kan hulle maar hul waaksaamheid teen die virus effens verslap en net die natuur geniet.”

The Cavern se eetkamertafels is ook rondgeskuif en Megan meen hulle sal nou met veel laer gastegetalle moet werk, maar sy is bereid om dit nou te doen omdat sy en haar span weet dit is belangrik om na almal se gesondheid om te sien.

Die span van The Cavern het die minister van toerisme se aankondiging op 30 Julie dat Suid-Afrikaners binne hulle provinsies mag reis vir ontspanning verwelkom.

“Ons is nie net gereed nie, maar ons kan nie wag vir al ons personeel en gaste om terug te keer sodat hulle die towerkrag van die hotel en die pragtige Drakensberge kan ervaar nie. Ons wil almal bederf met tuisgemaakte gasvryheid van die KwaZulu-Natal-omgewing.

“Aangesien reis binne provinsies vir ontspanning toegelaat word, is daar ʼn geleentheid vir ons almal om terug te gaan werk toe, om te begin herbou en gesinne die kans te gee om in die natuur te ontsnap, wat almal die kans gee vir herstel.”

  • The Cavern sal weer op Vrydag open onder die nuwe regulasies wat reis binne provinsies toelaat.
  • Megan het met Natalia Rosa, besturende direkteur van Big Ambitions, gesels. Big Ambitions is ʼn kommunikasie-, inhoud- en bemarkingsmaatskappy in Kaapstad wat fokus op die reis- en toerismebedryf. Kyk die volledige onderhoud op YouTube.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.