Jou gids tot ʼn gesinsvakansie in Franschhoek

In die strate van Franschhoek (Foto: Maroela Media)

Franschhoek is bekend vir sy wyn, natuurskoon en fênsie winkels, maar daar is ʼn rits aktiwiteite in dié omgewing geskik vir die hele gesin.

Franschhoek is omring deur berge: die Klein Drakenstein en Wemmershoek-berge in die noorde tot die Groot Drakenstein en Franschhoek-berge in die suide. Maak seker dat jy gereeld hier stilstaan en opkyk: die natuurskoon sal jou asem wegslaan.

Vars van die plaas af

Dalewood Fromage (Foto: Maroela Media)

Dit was ʼn koel oggend toe ons die pad na Franschhoek aangepak het, net meer as ʼn uur buite Kaapstad. Ons het op pad vir ʼn kaasbord by Dalewood Fromage stilgehou – ʼn boetiekplaas wat kaas van sy eie Jerseykoeie vervaardig.

Die trop wei op geil grasveld wat volgens beginsels van herlewingsboerdery bestuur word. Die koeie word nooit met onnodige antibiotika, groei- of melkvervaardigingshormone behandel nie.

Dalewood vervaardig ʼn omvattende reeks plein en eksoties gegeurde brie- en camembertkase. Alle kase is geskik vir vegetariërs en bevat nie enige preserveermiddels, geurmiddels of kleurmiddels nie.

Klop gerus weeksdae tussen 09:00 en 16:00 of Saterdae tussen 09:00 en 15:00 aan vir ʼn kaasbord, ʼn rits suiwelprodukte, olywe, konfyte, ingemaakte produkte en allerhande bykomstighede vir jou kombuis.

Besoek die webwerf dalewood.co.za of volg @dalewoodfromage op Instagram.

ʼn Fees vir die sintuie

Babylonstoren (Foto: Maroela Media)

Mens het byna ʼn week nodig om alles te verken wat Babylonstoren jou bied.

Saam met die skouspelagtige tuine kan jy jou verlustig in die bakkery, plaaswinkels, leefstylwinkels, tuinwinkel en parfuumwinkel. Leer meer oor bottelering by BitterLekker en die kelder vir balsamiese asyn.

Doen ʼn wynproe en leer meer oor die geskiedenis van wyn by die interaktiewe Story of Wine-museum. Jy kan ook ʼn keldertoer en olyfolietoer onderneem.

Bederf die kinders met ʼn stappie deur die pofadder-wandelgang en swaai sorgloos onder die groot boom.

Swaai onder die groot boom met die pofadder-wandelgang in die agtergrond (Foto: Maroela Media)

Geniet middagete by die Greenhouse Restaurant of bederf jouself by Babel (vir dié restaurant moet jy vooraf bespreek).

Jy kan ook by Babylonstoren se sjefs, tuiniers en ander kenners aansluit vir werkswinkels (bespreek hier). Daar is ook gereeld werkswinkels vir kinders.

Babylonstoren bied boonop gratis aflewering landswyd vir enige van hul produkte. Vir aflewerings in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad is jou vars produkte die volgende dag voor jou deur.

Babylonstoren moet beslis op jou moet-stilhou-lysie wees op jou pad na Franschhoek. Die toegangsfooi na die tuin is R100 per volwassene. Toegang is gratis vir kinders jonger as 18. ʼn Eenmalige toegangsfooi van R100 gee aan jou onbeperkte toegang tot Babylonstoren vir 12 maande.

Volg Babylonstoren op Instagram.

Vir die mans, seuns en ander motorliefhebbers

Franschhoek Motor Museum (Foto: Maroela Media)

Die Franschhoek Motor Museum beeld die geskiedenis van meer as 100 jaar in die motorbedryf uit. Selfs die gesinslede wat nie motorliefhebbers is nie, sal verstom staan oor die meer as 220 voertuie op uitstalling.

Dit bied ʼn unieke en opwindende versameling van voertuie, motorfietse, fietse en ander memorabilia in L’Ormarins, Franschhoek.

Jy kan ʼn museumtoer bespreek, middagete by die deli geniet of met die trem na Anthonij Rupert ry vir ʼn wynproe.

Bespreek jou besoek aanlyn hier. Die museum is weeksdae oop van 10:00 tot 17:00 en oor naweke en op vakansiedae van 10:00 tot 16:00. Toegangsfooi is R80 per volwassene en R60 vir pensioenarisse.

Volg die Franschhoek Motor Museum op Instagram.

Borrels in die herehuis

Anthonij Rupert (Foto: Maroela Media)

Word in tyd teruggevoer in die Anthonij Rupert-proelokaal, geleë in die plaas se historiese en onlangs opgeknapte herehuis. Hier kan jy wyne proe uit die L’Ormarins, Cape of Good Hope en Anthonij Rupert-reekse.

Die huis, in die mid-negentiende eeuse Kaaps Hollandse styl, spog met houtbalk-plafonne en geelhoutvloere. Antieke meubels, kuns uit die era, en ʼn stoep met ʼn asemrowende uitsig oor die roostuin en Groot Drakenstein-berge maak dié ervaring baie spesiaal.

Bederf jouself gerus met die vonkelwyn en nougat-proe. Heerlik!

Die Anthonij Rupert-proelokaal is weeksdae en Saterdae oop tussen 10:00 en 16:30.

Jy kan ook by die meer informele Terra del Capo Tasting Room & Anti Pasti Bar inloer as ʼn herehuis nie in jou smaak val nie.

Jy kan ook ʼn Estate-pakket aanskaf wat ʼn besoek aan die motormuseum insluit.

Volg Anthonij Rupert-wyne op Instagram.

Oornag in weelde

(Foto verskaf deur La Petite Ferme)

Ons het die naweek tuisgegaan by La Petite Ferme, ʼn vooraanstaande wynlandgoed aan die hang van die Olifantspas en Middagkrans-bergreeks wat oor die Franschhoekvallei uitkyk.

Met ongeëwenaarde vistas, luukse akkommodasie, bekroonde cuisine en wyne, kan jy by La Petite Ferme tuisgaan in vyf van die mooiste Vineyard-suites en vyf Manor House-suites wat onlangs opgeknap is.

Vanjaar is boonop ʼn groot mylpaal in die geskiedenis van La Petite Ferme. Dié bekroonde vyfster- luukse boetiekhotel en wynlandgoed vier sy 40ste herdenking.

“Die klein plaas” se reis het in 1984 begin en oor vier dekades ontwikkel in ʼn onvergeetlike wynlandbestemming.

“Die viering van 40 jaar staan gewoonlik bekend as ʼn robynherdenking,” sê Riaan Kruger, algemene bestuurder by La Petite Ferme. “Vir ons is die getal ‘40’ egter van groter waarde: dit is ʼn teken van nuwe lewe, nuwe groei, transformasie en verandering. Baie dankie aan al ons lojale gaste en ons personeel vir hul toewyding. Ons nooi julle om julle na hartelus oor te gee aan die glansrykheid van Le Petite Ferme. Ons klink ʼn glasie op 40 jaar van herinneringe, mylpale en wonderlike oomblikke.”

Die restaurant se plattelandse cuisine het ʼn vars, kontemporêre gevoel. Bederf jouself gerus met ʼn middag- of aandete by die hotel – dit is uithalergeregte wat selfs die fynproewers sal beïndruk.

La Petite Ferme se klein en intieme boetiekkelder, wat deur wynmaker Wikus Pretorius bestuur word, maak rooiwyn, witwyn en rosé. Bespreek gerus ʼn wynproe.

La Petite Ferme is ʼn romantiese bestemming ideaal vir troues, spesiale funksies en geleenthede. Daar is ook ʼn mobiele spa sodat jy in die privaatheid van jou kamer bederf kan word en fietse vir die meer aktiewe gaste wat op só manier die gebied wil verken.

Ons het in een van die Manor House-suites tuisgegaan. Dié vyf suites, John & Carol, Foufi, Helene, Andre en Sryani, spog elkeen met ʼn unieke fokusmuur en individuele dekor in ʼn tema uit verskillende wêreldstreke. Elkeen van die suites het sy eie privaat terras met sonbeddens waar jy in gemak kan ontspan. Die swembad se uitsig oor die Franschhoekvallei (veral met sonsondergang) sal jou na jou asem laat snak.

Van die geriewe in die suites sluit in ondervloerse verhitting in die badkamers, verhitte handdoekreëlings en lugverkoeling.

Ons is verwelkom met ʼn skemerkelkie en ʼn bak vars vrugte het in die kamer staan en wag.

Ontbyt is ingesluit, maar dit is nie sommer net ʼn hierjy ontbyt nie. Jy word bederf met ʼn kontinentale buffet-ontbyt met ʼn croissant, kaneelrolletjie, tuisgebakte muffin, granola-en-jogurt-parfait, vrugteslaaibord, gestoofde vrugte en kaasbord met vleisdelikatesse. Daar is ook ʼn volledige à la carte-spyskaart.

Bederf op sy beste!

Vir enige navrae oor besprekings kan jy ʼn e-pos stuur na [email protected] of besoek die webwerf www.lapetiteferme.co.za. Maak seker jy doen navraag oor die koste vir Suid-Afrikaanse burgers.

Bespreek ʼn ete by die restaurant: [email protected]

Jy kan La Petite Ferme ook op Instagram volg.

La Petite Ferme is in 2023 in vier kategorieë met die gesogte internasionale Haute Grandeur Global Hotel-toekennings bekroon as die hotel met die beste natuurskoon, die beste landelike hotel in Afrika, die beste kookkuns-ervaring in Afrika en die beste klein hotel in Afrika.

Personeel van La Petite Ferme spog met die internasionale Haute Grandeur Global Hotel-toekennings (Foto verskaf)

ʼn Reis deur die geskiedenis

Hugenote-monument (Foto: Maroela Media)

Die bekendste landmerk in Franschhoek is natuurlik die Hugenote-monument. Die gedenkteken van die vrou toring hoog aan die bopunt van die hoofstraat. Die sentrale vrouefiguur, met die Bybel in haar regterhand en die gebreekte ketting in haar linkerhand, verpersoonlik die gees van godsdiensvryheid. Die fleur-de-lis op haar rok veronderstel geestes- en karakteradel. Sy werp die mantel van onderdrukking af en staan bo die aardbol in vryheid van gees. Sy kyk na ʼn toekoms van groot moontlikhede.

Die suidpunt van Afrika is ook op die gedenkteken uitgebeeld. Dit is waarheen die skepe die Hugenote gebring het en daar is simbole van hul godsdiens (die Bybel), kuns en kultuur (harp), boerdery (koringgerf en druiwestok) en nywerheid (spinwiel).

Die drie boë agter die vrouefiguur versinnebeeld die Drie-eenheid (Vader, Seun en Heilige Gees). Daarbo is die son van geregtigheid en heel bo die kruis van die Christelike geloof.

Die waterpoel met sy weerkaatsing en die suilgang op die agtergrond, simboliseer gemoedsrus en sielevrede na stryd en vervolging.

Die gedagte om ʼn monument ter nagedagtes aan die Hugenote op te rig, het reeds met die 1938-feesvieringe wat die 250-jarige aankoms van die Hugenote herdenk het, ontstaan. Uiteindelik is die monument in Franschhoek opgerig met graniet wat uit die Paarl bekom is.

Die bouwerk is in 1944 voltooi, maar as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog en gebrek aan fondse, is die monument eers op 17 April 1948 ingewy.

Maak seker dié museum en monument is op jou gesin se lysie as julle in Franschhoek kom kuier, selfs al was jou voorouers nie deel van die Hugenote nie. As jou van natuurlik (onder andere) Blignault, Cilliers, Cronjé, De Klerk, Du Plessis, Du Preez, Du Toit, Fouché, Fourie, Gouws, Jordaan, Joubert, Le Roux, Malan, Meyer, Naudé, Nel, Pienaar, Rossouw, Theron of Viljoen, is – is dit natuurlik onmisbaar.

Koop jou kaartjies in die anneks (oorkant die straat van die museum) waar hulle vir jou ʼn video van 15 minute speel wat die agtergrond en geskiedenis oor die Hugenote deel.

Daar is nog interessanthede te leer in die Saasveld-gebou, waaronder inligting oor die afstammelinge, meer oor die wynboutradisie, interessante beroepe van die Hugenote-mans en -vroue, hoe die Hugenote aangepas het en wat hulle nalatenskap is.

Toegang kos R100 per volwassene en R50 vir kinders en studente. Die museum is elke dag oop tussen 09:00 en 17:00.

Klik hier om meer te lees oor die museum, die eerste Suid-Afrikaanse parfuummuseum, die Hugenote-monument en die veldblomtuin. Besoek gerus ook die Franschhoek Perfumery en beeldhoutuin oorkant die straat.

Jy kan die museum ook op Instagram volg.

Kom ons maak sjokolade

Huguenot Fine Chocolates (Foto: Maroela Media)

Dis groot pret om in Franschhoek se hoofstraat af te stap, maar berei jou voor vir die pryse: hier kos ʼn T-hemp, hoed of paar skoene min of meer dieselfde as jou kind se skoolgeld vir die jaar.

Net langs die hoofstraat lê Huguenot Fine Chocolates. Dié boetiek-sjokoladevervaardiger bied ʼn reeks heerlike sjokolades en ander soetgoed. Al die sjokolade wat in dié winkeltjie verkoop word, word met die hand gemaak van ingevoerde Belgiese donker-, melk- en wit sjokolade.

Die Chocolate Experience is ʼn ideale aktiwiteit vir die gesin. Leer waar kom kakao vandaan, hoe word dit verwerk, en hoe word dit uiteindelik sjokolade. Daar is ook ʼn interaktiewe sessie waar jy help om melksjokolade in ʼn vorm uit te giet, dit te vul en aan die soetigheid te smul!

Die sessie is sowat 30 minute lank en kos R70 per persoon. Skakel 021 876 4096 om jou plek te bespreek. Sessies word daagliks om 11:00 en 15:00 aangebied. Klik hier om die webwerf te besoek.

ʼn Varkie wat verf

Pigcasso (Foto: Maroela Media)

Pigcasso, ʼn kunstige vark, woon op ʼn kleinhoewe in Franschhoek wat as ʼn diereskuiling ingerig is. Haar meesterstukke is al oor die hele wêreld verkoop en kunsliefhebbers betaal enigiets van R7 000 tot R180 000 vir ʼn oorspronklike Pigcasso-kunswerk.

Pigcasso en haar eienaar, Joanne Lefson, wil bewusmaking skep oor die verband tussen kos, diere en klimaatsverandering om ʼn beter, meer volhoubare wêreld te skep.

Jy kan hier ook ʼn wynproe doen en van Pigcasso se kunswerke aanskaf.

Besoek die webwerf of volg Pigcasso op Instagram.

Waar Elton John oornag

La Residence (Foto: Maroela Media)

As Elton John in Suid-Afrika kom kuier, gaan hy tuis in Franschhoek by die luukse La Residence. Dié boetiekhotel vorm deel van Liz en Phil Biden se Royal Portfolio. Die dekor is weelderig en oordadig, maar iets besonders om te sien.

As jou begroting dit nie toelaat om hier te oornag nie, kan jy dalk eerder ʼn spogtee (vanaf R495 per persoon) of ontbyt (vanaf R350 per persoon) by dié hotel geniet. Jy kan ook ʼn behandeling by die spa bespreek. Skakel 021 671 5502 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

Besoek die webwerf of volg The Royal Collection op Instagram.

Van die oudste plase

Die eerste Franse Hugenote het in 1688 in Suid-Afrika aangekom. Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) het grond aan talle van dié vlugtelinge gegee in ʼn vallei genaamd Olifantshoek – só genoem oor die olifante wat in die vallei kom kalf het. Die naam van die gebied het gou verander na “le Coin Français” (die Franse hoek) en later Franschhoek geword. Talle van die setlaars het hul nuwe plase vernoem na gebiede in Frankryk waar hulle vandaan kom. La Motte en Haute Cabrière is twee van dié plase.

Wingerdbou is deur Hugenoot Gabriël du Toit op die plaas La Motte gevestig met die aanvanklike aanplanting, in 1752, van 4 000 wingerdstokke. In 1970 is La Motte deur die entrepreneur en sakeman, wyle dr. Anton Rupert, gekoop en die landgoed word tans deur sy dogter, Hanneli Rupert-Koegelenberg, besit en deur haar man Hein Koegelenberg bestuur.

Loer gerus by La Motte in vir ʼn wynproe in die Pierneef-restaurant of geniet ontbyt in die tuin buite die bakkery. Daar is ook allerhande koopgoed om saam te neem huis toe, soos geskenke, skryfbehoeftes en kaartjies en ʼn verskeidenheid van produkte wat deur plaaslike vakmanne met die hand gemaak is. Volgens die seisoen is disas en laventel wat op die plaas gekweek word, sowel as vars plaasprodukte, te koop.

Besoek La Motte se webwerf of volg hulle op Instagram.

Haute Cabrière se plaas is in 1694 deur die Hugenoot Pierre Jourdan gevestig. Jy kan ook hier inloer vir ʼn wynproe en van die mooiste uitsigte oor die Franschhoek-vallei geniet. Bestel gerus ʼn baguette by die bakkery sodat jy soos ʼn wafferse Fransman kan voel as jy in die dorp se hoofstraat afstap.

Besoek Haute Cabrière se webwerf of volg hulle op Instagram.

Goed, beter, beste, Boschendal

Boschendal (Foto: Maroela Media)

As jy met jou gesin in Franschhoek kom kuier, is ʼn uitstappie na Boschendal ongetwyfeld die moeite werd. Boschendal is ook een van die oudste wynplase in Suid-Afrika. Die landgoed se eerste eienaar, Jean le Long, het die stuk grond in 1688 van die VOC ontvang. Cecil Rhodes het die plaas in 1887 gekoop en dit het deel gevorm van sy vrugtemaatskappy.

Geniet middagete in die tuin of span uit met ʼn piekniek onder die bome.

Snuffel in die plaaswinkel, bakkery of slaghuis vir varsprodukte. Daar is ook glasware, keramiek en badprodukte te koop. Doen ʼn wynproe, verken die plaas te perd of huur ʼn bergfiets. Daar is ook ʼn reusagtige boomhuis waar kinders se verbeelding vrye teuels kan kry. As dit te veel aktiwiteite vir een dag is, kan jy ook by Boschendal oornag.

Besoek Boschendal se webwerf of volg hulle op Instagram.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Manie ·

Dit kos baie sagte geldjies om in Franschhoek vakansie te hou en te kuier. Alles is peperduur.

Hazel Dean ·

Sjoe dankie vir die artikel en al die foto’s dis beautiful. Sal baie graag Franschoek wil besoek maar dis te duur vir jan alleman

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.