Kom tuis by Paul Kruger

By die ingang van die museumkompleks. (Foto: Petronel Fourie)

In ʼn vallei, beskermend omring deur heuwels met ʼn groen bosveldkombers daaroor getrek, lê die plaas Boekenhoutfontein. Tussen die voue van hierdie 700 hektaar-wildreservaat is die Paul Kruger-plaashuismuseum genestel. Binne sy mure, deure en vensters, op sy vloere en rakke en katels, en in die swaarhoutlaaikaste en lessenaars, lê ʼn groot deel van Paul Kruger se lewe opgesluit.

Op 10 Oktober word Krugerdag jaarliks in die volksgeheue gevier. Die meeste mense ken Stephanus Johannes Paulus Kruger, gebore op dié dag in 1825, as staatspresident van die ou Zuid-Afrikaansche Republiek. Wat dalk minder bekend is, is dat hy, voordat hy die gesig van die Boereweerstand teen die Britte gedurende die twee vryheidsoorloë geword het, ʼn suksesvolle boer was wat verskeie plase in die Rustenburg-distrik besit en bewerk het.

Een van hierdie plase was Boekenhoutfontein, naby Rustenburg. Die plaas is ná sy dood in 1904 aan sy kinders nagelaat en is in 1971 as nasionale monument verklaar. Die eiendom is sowat 30 jaar gelede deur die Recreation Africa-groep gekoop en is ná intensiewe restourasie as museum ingerig. Die groep het ook ʼn lodge op die plaas gebou wat een van die grootste en mees diverse privaat Anglo-Boereoorlog-versamelings ter wêreld huisves.

Oom Paul se plaasdae

Staatspresident Paul Kruger

Paul Kruger. (Argieffoto.)

Wanneer ons voertuig die oorspronklike houthekke wat na die Kruger-wonings lei, nader, stel ek my voor hoe dit in die 1800’s moes gelyk het. Dieselfde boekenhout- en doringbome, net kleiner? Die klipmuur ewe sterk en standvastig, soos sy eienaar? Die wind wat ook so saggies en gerusstellend deur die blare fluister – welkom tuis, boer, staatsman, Afrikaner.

Die museumkompleks bestaan uit ʼn versameling unieke historiese geboue en bied ʼn fassinerende insig in Kruger se lewe in ʼn tyd toe Suid-Afrika in ʼn stryd vir onafhanklikheid met die Britse Ryk gewikkel was. Een van die geboue dateer selfs vroeër, uit 1839, en is waarskynlik die oudste hartbeeshuisie in die land wat nog staan. Dit is deur die eienaar voor Kruger gebou.

Links van dié huisie staan Kruger se blok van ʼn huis waar die gesin vir jare gewoon het totdat hy Pretoria toe getrek het – goed onderhou. Op die leiklipstoep voor die voordeur hou ʼn borsbeeld van hierdie patriarg wag. Op dié stoep het Kruger, volgens oorlewering, soms ʼn knertsie mampoer saam met sy vriend, die Bafokeng-koning Kgosi Mokgatle, geniet. Hul band was sterk genoeg dat Kruger twee van Mokgatle se seuns, Paul en Bloemhof, saam met sy eie kleinseun na ʼn Nederlandse universiteit toe gestuur het.

Binne die huis ruik ek Sondagkos by die groot eetkamertafel, voel ek die gewig van die sake wat Kruger in sy studeerkamer oordink het wanneer ek aan sy lessenaar en Bybel raak en sien ek die salige gesiggies van sommige van sy sestien kinders in hul katels wanneer hulle hul hofies saans gaan neerlê.

Daar is interessanthede uit die ou dae, soos die houtkalender teen die ingangsportaal se muur waarmee die maand se dae getel is, die huisapteek in die slaapkamer met natuurlike kure vir al wat ʼn kwaal is, en die praktiese toebehore in die kombuis waarmee kos gemaak is. In die eetkamer word die mooi houtmeubels met pragtige muurpapier omring, met Paul en sy vrou, Gezina, se portrette wat daarop pryk.  ʼn Waardige huis, hoewel nie uitspattig nie.

Naas die woonhuis stryk ons aan na die ouer huis, wat in 1862 gebou is. ʼn Veel eenvoudiger woning, maar ek verwonder my aan die perskepitvloer en die houtbalke wat die rietdak stut – waarlik outentiek, hoewel effens verwaarloos.

Laaste in die ry staan die nuwer huis wat sy seun Pieter Kruger in die 1890’s gebou het. Dié gebou word tans van binne opgeknap, met ʼn koffiewinkel wat agter aangebou word. Net af in die paadjie is die opgeknapte plaasskooltjie met sy misvloere en dik mure, wat bestem is om in ʼn biblioteek omskep te word.

Wanneer ons die houthekke weer agter ons sluit en die bosveld inry, groet ek Paul Kruger die boer. Want ná sy lewe op Boekenhoutfontein het hy die leisels van staatsman volledig in Pretoria opgeneem.

Met passie na Pretoria

Die Boekenhout-erfenisterrein. (Foto: Erfenisstigting.)

Paul Kruger was een van die dominante politieke en militêre figure in Suid-Afrika se geskiedenis. Hy was die president van die ZAR van 1883 tot 1900 en het internasionale erkenning ontvang as die gesig van die Boeresaak. Sommige noem hom die personifikasie van die Afrikanerdom, die grootste Afrikaner van alle tye.

Hy was skynbaar ʼn eenvoudige man, maar het oor ʼn merkwaardige intellek, fenomenale geheue, ingebore juridiese vermoë, welsprekendheid en sin vir waardigheid beskik.

Boonop het hy ook ʼn skerp humorsin gehad. Aan ʼn Engelse koerantman wat ʼn foto in sy koerant aan hom wou wys van donkies onder die grasdakstoep van die eerste Volksraadgebou, waarby die onderskrif verskyn het: “The Transvaal Government”, het hy gesê: “Sê vir ons Engelse vriend: Hier by ons in die Zuid-Afrikaansche Republiek staan die donkies buite die Volksraadgebou, maar daar by hulle ‘back home’, staan hulle binne binne-in die parlement.”

Daar is reeds baie oor Kruger gesê en geskryf – positief én negatief. Tog is die impak wat hy gemaak het duidelik uit die verering wat hy op die dag van sy begrafnis, 16 Desember 1904, ontvang het. Sowat 20 000 mense het opgedaag om die laaste eer te betoon. Oudstryders in die uniforms van die Republikeinse polisie en die Staatsartillerie het ʼn erewag om die praalbed gevorm. Die diens is gehou deur predikante van al drie die Afrikaans-Hollandse kerke. Voor aan die lykstoet na die Kerkplein het sestien voormanne gestap in rye van vier, met genls. Botha, De la Rey, De Wet en Schalk Burger in die voorste gelid.

Botha het die laaste brief voorgelees wat hy van die president ontvang het. Dis woorde wat op daardie dag, en jare daarna steeds, Afrikaners geroer en geïnspireer het. Vandag dien dit steeds as rigtingaanwyser vir dié wat dit ter harte neem.

ʼn Deel van die Afrikaanse vertaling lui so:

“Wie vir hom ʼn toekoms wil skep, mag die verlede nooit uit die oog verloor nie. Daarom: soek in die verlede al wat goed en mooi was wat daarin ontdek kan word, vorm daarna u ideaal en probeer om vir die toekoms daardie ideaal te verwesenlik. Dit is waar: veel van wat opgebou is, is tans vernietig, verniel, geval. Maar met eenheid van sin en eenheid van kragte kan weer opgerig word wat daar tans terneer lê. Dit stem my eweneens tot dankbaarheid om te sien dat dié eenheid, dié eendrag by u regeer.

“Vergeet nooit die ernstige waarskuwing nie wat lê in die woord: verdeel en heers, en waak dat hierdie woord nooit op die Afrikaanse volk van toepassing sal wees nie. Dan sal ons nasionaliteit en ons taal bly en bloei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.