’n Bustoer na Vryheid se strate

Ons groepie voor die ossewamonument by Bloedrivier. (Foto verskaf)

Terwyl die meeste Gautengers koers kies na die warmer wildtuin of kuslyn toe, bondel ek en my uitgebreide familie almal in ʼn geleende bus vir ʼn Julievakansie-wegbreek. Die bestemming? Vryheid!

Die familie van die VSA het kom kuier, so ons maak die ou 26-sitplek bus byna vol. Kinders van twee tot agtien jaar oud skuif (of duik!) van die een bank na die ander vir nuwe geselskap en speletjies en nóg padkos uit ʼn ander gesin se proviandsak. Want die reis is onvermydelik langer in so ʼn bus as met ʼn gewone kar en eet is tog ʼn erkende tydverdryf vir ʼn groeiende kind. Maar niks, behalwe dalk die gevaarlike slaggate op die agterpaaie wat ons ry, kan die opwinding demp nie!

Waar bly so baie mense wat saam vakansie hou, wonder jy? In ʼn koshuis, natuurlik! Laerskool Lucas Meyer se koshuis bied vir ons ʼn veilige hawe met genoeg plek vir almal om te slaap, bad, eet en speel. Dis ook die ideale ligging vanwaar ons die omgewing en sy geskiedenis kan verken.

Vryheid se verlede

Vryheid spoor sy oorsprong na die Anglo-Zoeloeoorlog van 1879 terug. Ná die Zoeloenederlaag by Ulundi het die Britte Zoeloeland in 13 onafhanklike hoofmanskappe verdeel. Dinuzulu, opvolger van koning Cetshwayo in 1884, het sy vader se vete met sy vyand Zibhebhu voortgesit en die dienste van ʼn aantal Boere-huursoldate onder Lucas Meyer bekom. Betaling sou in die vorm van grondtoekennings wees.

Na die oorwinning oor Zibhebhu in die Slag van Spookberg, het Dinuzulu ontdek dat daar niks van Zoeloeland sou oorbly as hy aan elk van die 800 huursoldate die plaas sou gee wat hy, volgens hulle, in ruil vir hul dienste belowe het. Lucas Meyer se mense het met hul eise volgehou en daar was verskeie vrugtelose opmetings in ʼn poging om genoeg grond uit te deel. Brittanje het tussenbeide getree en uiteindelik het die Boere ʼn stuk grond aanvaar wat min of meer die latere distrik Vryheid was.

Op 16 Augustus 1884 het hulle die Nuwe Republiek uitgeroep met Vryheid as hoofstad. Die grondwet was op dié van Transvaal geskoei en Lucas Meyer is tot president verkies. Na Brittanje se anneksasie van Zoeloeland in 1887 het die burgers van die Nuwe Republiek weer bedreig gevoel en met onderhandelinge vir inlywing by Transvaal begin. Brittanje en Transvaal het albei ingestem en die vereniging is op 20 Julie 1888 afgehandel.

ʼn Bustoer deur tyd

Deur die busvenster sien ons president Lucas Meyer se huis, wat in 1884 in die Kaaps-Hollandse herlewingstyl gebou is met laat Art Nouveau-versierings, staan nog. Dit was eens as museum ingerig, maar ongelukkig word dit nie onderhou nie en dis nie oop vir die publiek toe ons daar aankom nie. Meyer is in 1902 oorlede, maar sy weduwee het tot 1961 in die huis gewoon.

In die middel van die dorp staan die imposante ou sandsteen NG Kerkgebou. Dit slaan behoorlik my asem weg! Die hoeksteen, wat verklaar “Christus is de uiterste hoeksteen”, is op 25 September 1891 deur Lucas Meyer gelê. Daar staan ook twee monumente voor die gebou, ter ere van die burgers van die distrik Vryheid wat in die Anglo-Boereoorlog gesneuwel het.

Die oorspronklike ingangspoort na die kerk staan vandag so entjie buite die heining. Daar is twee marmerblaaie ingemessel wat my skoon opgewonde maak – die een vertel dat die Rapportryers Vryheid in 1949 besoek het, en die ander verklaar dat die kassie agter daardie steen op 16 Desember 2049 oopgemaak moet word. Net daar en dan besluit ek dat ons gesin in 2049 Vryheid se Geloftefees gaan bywoon!

Daar is ʼn sterk Duitssprekende gemeenskap in en om Vryheid, afstammelinge van die sendelinge en ambagslui wat deur die Hermannsburgse Sendinggenootskap daar gevestig is. Een so ʼn afstammeling, Frauke Tschirpig en haar gesin, neem ons na die dorpie Glückstadt (Duits vir ‘stad van geluk’) ongeveer 35 km suidoos van Vryheid, wat in 1906 deur ʼn klein groepie Duitse boeregesinne gestig is.

Sy vertel dat die Lutherse kerkie wat nog daar staan, in 1908 deur haar oupa gebou is. Die orrel werk nog, die banke en vensters is heel, die liturgiese ruimte netjies, die begraafplaas agter die kerk redelik goed onderhou. Maar daar is nie meer ʼn voltydse predikant nie en die naburige dorpe se gemeentes hou by uitsondering hier kerk, so dié eens trotse geboutjie verval ook maar ietwat.

Kort na die kerk is ʼn skool gebou en dit lyk asof dit vandag steeds as skool dien. Daar is nog ʼn klomp Duitse boere wat in die omgewing woon en sommige Duitse tradisies lewend hou – soos die heerlike botterkoek wat Frauke vir ons met ons tuiskoms voorgesit het!

Nog ʼn bestemming wat ons natuurlik nie kon oorslaan nie, is die Bloedrivier-erfenisterrein. Ons skommel en bons met ons bus tot voor die groot ou ossewa-monument en neem dadelik ʼn groepfoto! Daarna gaan wandel ons tussen die ossewaens van die laer, lees weer oor die gebeure van die jaar 1838, die gelofte, die gevegte, die gevolg. Ons stap ook oor die rivier na die nuwer Nkome-museum. Hoewel ʼn mens effens skepties daardie brug oorsteek, is die geskiedenis wat daar vertel word gebalanseerd en interessant – ek leer ʼn paar dinge oor die Zoeloes wat ek nie geweet het nie.

Terug aan die Bloedrivier-kant kyk ons ʼn kort video wat die slag uitbeeld en snuffel tussen die interessanthede in die winkeltjie rond. ʼn Hoogtepunt van die besoek is die heerlike vetkoek-en-maalvleis wat vir ons opgedis word, kompleet met moerkoffie en by behoorlike houttafels bedien. ʼn Tradisionele ete soos min!

Vryheidse gasvryheid

Buiten liewe tannie Frauke wat vir ons Glückstadt gaan wys en Duitse koek gevoer het, en die gulle hartlikheid waarmee ons by Bloedrivier ontvang is, het die gemeenskap van Vryheid ons ook met hul gasvryheid oorrompel. Regte, oudorpse gasvryheid.

Die koshuis is spesiaal opgeknap en die koshuisvader se eie kinders het gereeld saam met ons klompie kom baljaar. Ons is met mandjies vol nartjies en suurlemoene uit mense se tuine bederf en my kinders het selfs elkeen met ʼn nuwe wolmus, spesiaal vir hulle gebrei, weggestap. Sondag, nadat my pa by die Hervormde gemeente gepreek en ʼn baba gedoop het, is daar eetgoed – meestal tuisgebak – genoeg vir ʼn weermag uitgepak! En boonop is daar nog ʼn groot bak van die heerlikhede vir ons as padkos saam gestuur, op ons lang pad terug Gauteng toe.

Vryheid se mense en omgewing het my hart verower, my gelyk vry én gebonde laat voel – geheg aan ʼn gemeenskap waarin ek tuis voel. Ons besoek aan die dorp Utrecht het dieselfde gevoel by my aangewakker, maar dis ʼn storie vir ʼn ander dag…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Genugtig so laat ‘n nie – Vryheidter my regop sit. Ek was bevoorreg om in die dorp te kon bly. Het trouens twee keer. Vryheid was ons naaste “groot dorp” wat elke drie maande besoek is. My pa wat geboer het, het die bankbestuurder en die koperasie besoek. My ma oa die materiaal winkel en ander. Johnny Katkalis het die Lounge kafee in Kerkstraat gehad. My ma is in 1919 in die einste kerk gedoop. Ek is daar aangeneem en voorgestel. Daar was ook “beroemde mense” wat uit Vryhied kom. Ek kan aan net ‘n paar dink, nl Gert Potgieter (atleet) DJ Opperman (skrywer/digter) Riana Scheepers (skrywer) en Thys Lourens (Springbok en Noord Transvaal rugby speler) Daar was seker nog ander. Dit is ‘n besonderse dorp met besonderse mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.