Op reis saam met Kingsley Holgate

Willem van der Putte, Kingsley Holgate en Brendon Staniforth.

Die avonturier Kingsley Holgate, sy lewensmaat, Sheelagh, en Kingsley se seun, Ross Holgate, het verlede jaar ʼn nuwe ekspedisie afgeskop – ʼn allemintige toer om Afrika.

Die doel van die toer is om besoek aan 22 natuur- of wildreservate in Afrika af te lê. Die eerste toer om die Ooskus is reeds gedoen en nou was dit tyd vir die Weskus. Toe ons in Junie verlede jaar vir Kingsley by die Lesedi Cultural Village gaan groet het, sê ek en Willem van de Putte van die Independent-mediagroep dat ons graag so ʼn ekspedisie sal wil meemaak. Ons wil werklik saamreis, nie net op die hande gedra word as joernaliste nie, maar eerder hand bysit.

Die Kingsley Holgate-stigting het drie programme begin, naamlik Right to Sight waar brille in arm gemeenskappe versprei word, muskietnette wat in malaria-geteisterde Afrika aan vroue en kinders verskaf word en dan die LifeStraws, ʼn strooitjie waardeur ʼn mens 1 000 liter skoon water kan drink.

Die uitnodiging was eenvoudig: Brendon, wil jy saam met Kingsley Holgate die tweede deel van die ekspedisie begin? Ek’t in ʼn oogwink geantwoord sonder om die fynskrif te lees. Gelukkig is ons nie op pad Somalië toe nie, maar dis ʼn drie dae lange naelloop van Johannesburg deur Gaborone tot in Windhoek. Daar is ʼn paar klein geleenthede in Botswana beplan – ʼn besoek aan ʼn skooltjie en ʼn samekoms met die land se Land Rover-klub.

Die Holgates se gasvryheid beïndruk dadelik – plat-op-die-aarde-hartsmense. Daar is vir ons ʼn klein gaatjie in die propvol Land Rover Defender 130’s gevind. ʼn Klein opwip-tent, opblaasmatras, slaapsak, opblaaskussinkie en ons klere in ʼn rugsak is in ʼn japtrap in die Defender ingewurg.

Ons stel die navigasie vir Gaborone en bel vir Sharpe, hul kontakpersoon daar, om hom te laat weet ons verwagte aankomstyd is 13:35.

Dinge loop klopdisselboom op die grenspos en ons is in ʼn oogwink in Gaborone. Dit is bitter warm – 43 grade. Ons hou stil vir ʼn bietjie ys, maar moet vinnig ons weg na die Mokolodi-skool vind waar kindertjies op ons wag.

Daar word ʼn kunskompetisie gehou waar die kinders ʼn prent van ʼn olifant moet inkleur en sê hoekom olifante bewaar moet word. Die kinders se oumas en oupas sit buite en doen oogtoetse vir ʼn bril – lewensveranderend vir 55 mense in dié gemeenskap wat na ʼn paar uur weer behoorlik kan sien.

Die dag word met ʼn sokkerwedstryd afgesluit. Die kinders word in twee spanne – olifante teen renosters – ingedeel. Daar is ʼn dogtertjie wat ʼn barshou speel; ek is oortuig sy het verdien om speler van die wedstryd te wees en dat sy eintlik in die EUFA-liga behoort te speel – beste doelwagter wat ek al in my lewe gesien het.

Willem help ʼn boom plant en die kinders is in hul noppies met hul pryse. Ons vat die pad – daar is ʼn wildkamp daar naby waar ons oornag. Wat op ons wag, is niks minder as verstommend nie. Die manne van die Land Rover-klub in Botswana het vir ons ʼn kamp gereël – spyseniering, spoeltoilette, die lot. Ons word werklik bederf.

Sharpe en sy twee seuns is ook daar – ons doop hulle Sharpe 2 en Sharpe 3. Kom ek vertel julle: dié twee jong Tswana-manne is die bes gemanierdste tiener wat ek al in my lewe teëgekom het. Sharpe 2 is 18 jaar oud en het verlede jaar gematrikuleer. Hy gaan vliegskool toe op Wonderboom-lughawe – ʼn klipgooi van my huis af.

Sharpe 3 is 16 jaar oud en wil eendag argeologie gaan studeer. Willem se seun het pas presies dié graad by Tuks begin. Die wêreld is klein.

Almal vertel stories en staaltjies tot laat die aand. Elke man – swart, wit, Engels, Afrikaans, Tswana – het een ding gemeen, naamlik hul liefde vir Land Rovers. Natuurlik vloei die stories van die man wat daai man só ver gesleep het en daai ou se Landy wat basies ʼn hele werkswinkel agter hom sleep, 4KVA‑kragopwekker, kompressor, die lot. Een man skerts, almal vra hom: hoekom ry jy dié onbetroubare goed? Hy sê: dis soos familie, mens laat nie jou familielede in die steek nie, jy maak hulle weer gesond en gaan aan. Dis dieselfde ding meen hy.

Naby 01:00 die oggend sluit ons af en ek voel ek moet vir die handjievol manne sê: As motorjoernaliste word ons werklik bederf in elke uithoek van die wêreld, maar nog nooit in my lewe het ek sulke gasvryheid teëgekom nie. Die man met die groot baard en sy stories betower.

Dag twee is ʼn marathon op die Trans Kalahari-snelweg tot by die grenspos. Weereens is ons in ʼn oogwink oor die grens en kort voor lank draai ons in by die lughawe. Almal kyk na die twee Landies met hul daktente en plakkers van al die Afrikalande waar hulle al was en waar hulle nog moet kom. Dit was só ʼn voorreg om ʼn piepklein deeltjie van dié ekspedisie saam te geniet en te sien hoe jy by die kinders begin leer van natuurbewaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Klink na ‘n lekker toer wat hulle aanpak. Amper gedink hy is die nuwe minister van teer paaie in Suid-Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.