Opwaartse gekronkel teen die sneeubedekte hange van Tignes, Frankryk

(Foto verskaf)

Twee-en-dertig kilometer per uur, afdraand teen ʼn gradiënt van gemiddeld 40 grade. Met ʼn ysige bergwind wat sneeuvlokkies in jou gesig waai en dan die beste vir laaste: Twee 160 cm-lemme aan jou voete vasgegespe. Dit – in ʼn neutedop – is sneeuski.

Die reis het begin in Geneva, ʼn Switserse stad op die Franse grens, bekend vir die reuse Lake Geneva met sy Jet d’Eau-fontein wat water 140 m hoog in die lug opskiet. Die waterkolom skiet 500 liter water per sekonde die hoogte in, teen 200 kilometer per uur.

Ongelukkig is dit nie die spoed waarteen die Franse busbestuurder – Marcel – ons vervoer na die Franse Alpe toe nie. Ons ry meestal op nou bergpaaie wat om en om kronkel teen asembenewende berghange. Altyd opwaarts.

“Nêrens om te gaan nie, behalwe op,” sê Marcel, wat nie veel anders te sê het op die lang pad nie. Piepieplek is skaars en daar is geen Shell One Stops op die pad nie – net ʼn eensame long drop aan die eenkant, langs ʼn verlate vulstasie, en aan die anderkant ʼn veld met ʼn vet verveelde koei wat geduldig kou.

Stadig skuif die sonstrale weg oor die grys en wit bergpieke, soos wat ons die klein dorpie van Tignes (klink soos tiendes sonder die ‘d’) nader. Die omgewing is ʼn wit, glinsterende winter-wêreld, met yskolle wat soos diamante glinster in die spierwit sneeu. Perfek gevormde verdwaalde sneeuvlokkies dwarrel nog elke nou en dan uit die swaar grys wolke wat laag lê om die berghange.

(Foto verskaf)

Ons blyplek vir die week is die nuwe Club Med-oord in Tignes, die perfekte basis vir ʼn vakansie sonder moeite. Club Med is begin in 1950, onder die naam Club Méditerranée in Alcùdia, ʼn piepklein vissersdorpie op ʼn klein Spaanse eiland wat deel uitmaak van die bekende Balearic-eiland, Archipelago. Die eilandgroep sluit in die bekende Mallorca en Ibiza. Die stigter van die oorspronklike Club Med – Gérard Blitz – was ʼn vervaardiger van tentmateriaal en hy het die idee gehad om ʼn tentedorp op te rig vir mense wat opsoek was na sportiewe vakansies in ʼn natuurlike omgewing, sonder perke. “Die doel van die lewe is om gelukkig te wees en die tyd om gelukkig te wees, is nou,” was Blitz se leuse.

Van daar het Club Med gegroei tot die wêreldwye reus wat die besigheid vandag is, met sy hoofbestaansrede – sorgvrye vakansies vir die hele gesin. En op die koop toe, vakansies waar alles ingesluit is.

Suid-Afrikaners is meer bekend met die Club Med aanbiedings in Mauritius, een van die gunsteling bestemmings vir Suid-Afrikaners. Die ervaring en aanbieding in die Alpe is baie soortgelyk, net in ʼn heel ander omgewing wat dit besonders maak. Kos, drankies, aktiwiteite – alles word gedek – in ʼn prys wat jy eenkeer betaal en dan onveranderd bly hoeveel moeilikheid jou regering maak. Die rand kan maar val, die koste vir jou vakansie bly dieselfde – nie heeltemal dieselfde as ʼn mens self toer deur Europa nie!

Gesinsvakansies gaan dikwels gepaard met stres, moeite, honger kinders wat soos honger bere voor hibernasie kos inslurp en verveelde gades wat nie weet wat om met hulself te maak nie. Die beste ding van ʼn Club Med-vakansie is dat daar eenvoudig niks is waaroor jy jouself moet bekommer nie.

(Foto verskaf)

Van die vlugte (ons het met die fantastiese Air France gevlieg) en ski-toerusting – wat jy vooraf bespreek en vir jou wag in ʼn sluitkas in die ultra-moderne en pragtige ski-kamer – tot die buffetetes wat elke ontbyt, middag-en aandete vir jou voorgesit word, is daar eenvoudig geen moeite ontsien nie. Voeg daarby die groot verskeidenheid ski-hellings en dit is presies hoe ʼn vakansie moet wees.

Club Med is al deel van die Tignes-gemeenskap vanaf 1958, slegs agt jaar nadat Blitz en sy vriend, Gilbert Trigano, die besigheid begin het in die Mediterreense See. Die nuwe oord in Tignes is egter vandag ʼn totaal nuwe gebou met elke voorkeur en gerief noukeurig uitgelê.

Dié moderne oord is met groot sensitiwiteit teenoor die omgewing ontwerp en is soomloos ingeweef in die omliggende natuurskoon. Die oord is ekovriendelik, gebruik onder meer sonpanele en hittepompe en die materiaal wat gebruik is, is so ver moontlik natuurlik – met baie klip- en houtwerk. Pragtig.

Soos dit die Franse betaam, is daar ʼn moderne spatsel hier en daar, wat dit een van die mees kontemporêre oorde in die Alpe maak.

Die wooneenhede sluit in fantastiese familiekamers met twee aparte slaapkamers in ʼn suite – perfek vir enige gesin.

Blitz se Club Med is vandag ʼn leier in die veld en spog reeds met 22 ski-oorde in sneeubedekte areas regoor die wêreld. Dis seker hoekom hulle so goed is daarmee om sorgelose vakansies aan te bied. Deur al die reëlings vir jou te tref, kaartjies te bespreek, kos te maak, en selfs die kinders op te pas as jy die hele gesin saamneem, is daar gewoon nie ʼn eenvoudiger manier om te ontspan nie. ʼn Eenstopplek wat al die moeite en stres uit enige vakansie neem.

Vir mense wat – soos ek – amateur-avonturiers of ski-liefhebbers is, sal ek met groot moeite ʼn beter ski-opsie kan voorstel as Tignes. As ek moet dink aan al die kere wat ek ski’s moes gaan haal onder in ʼn Alpe-dorpie of in ʼn ry moes staan om ʼn ski-toegangskaart te kry, was die Tignes Club Med-ervaring regtig ʼn moeitelose en vreugdevolle een.

(Foto verskaf)

As jy of jou gesin nog nooit geski of sneeubord gery het nie, is dit ook niks om oor te bekommer nie. Elke oggend en middag is daar ski-klasse wat voor die ski-kamers ontmoet en waar ʼn mens lag-lag en soms val-val nuwe vriende maak tussen die lesse en die sneeubanke deur. Ski-klasse is beskikbaar vir kinders vanaf vier jaar en sneeubord-klasse vir agt jaar en ouer. Waarom raak vorige besoekers so opgewonde oor Club Med-oorde se familievriendelike ervarings? Club Med glo in die familie-eerste (#familyfirst)-beginsel. Jong ouers met babas ontvang byvoorbeeld alles wat hulle gaan nodig kry in ʼn Club Med Baby-verwelkomingspakket – stootwaentjies, babastoeltjies, ʼn bababad, kot, bottelverwarmers, noem maar op, dit is gereed wanneer jy aankom by die oord. Die Petit Club is waar twee- tot driejariges besig gehou word met spesiale sneeu-ervarings onder toegewyde toesig.

(Foto verskaf)

Vier- tot tienjariges word in verskillende ouderdomsgroepe in die Mini-Club, ʼn liefde vir ski en sneeu geleer, met kreatiewe aktiwiteite tussendeur. Vir tieners tot en met 17 jaar is daar die Junior Club, wat meestal fokus op die sport en ski-/ sneeubord-ervarings saam met hulle vriende. Dink Trompie en die Boksombende in die Franse Alpe. Kinderoppassers kan bespreek word as ouers ʼn alleen aandjie uit wil geniet by die a-la-carte-restaurant, Le Solstice Gourmet Lounge, of elders in die Alpe-dorp buite die oord se deure.

Die oord is egter nie net ontwerp vir sportliefhebbers nie. Behalwe vir die pragtige omgewing wat ʼn mens te voet of met ʼn slee kan verken, is daar nie ʼn einde aan die vermaak en verversings wat deur die oord verskaf word nie. Besoekers kan kies en keur tussen joga-klasse, swem in die verhitte binnenshuise swembad of jacuzzi’s, die sauna en selfs binnenshuise naaldwerkklasse. Tussendeur is daar die alomteenwoordige en heerlikste verversings wat elke oggend en middag in die ontvangssitkamer en kroegarea bedien word. Alles ingesluit in die prys. Meer avontuurlustige besoekers kan ook toboggan, sneeumobiel of Fat Bike ry, valskerm-of rekspring, die Glacier de la Grande Motte uitklim of… wag vir dit… onder die ys skubaduik. Tignes se veelvuldige opsies gaan jou besig hou.

(Foto verskaf)

Die eindelose tonele wat wyd uitgestrek lê, die reuk van fromage (kaas) en vars brood en die bodemlose glase rooiwyn of yskoue bier bly ʼn mens lank by as jy Tignes vaarwel toeroep. So ook die hartlike gesprekke met vreemdelinge op ski-lifts of langs die buffet-tafels. Om nie te praat van die lang aande se partytjies met wêreldklas musikante nie. Ek verlaat Tignes met nog ʼn Fransman, Henri, agter die wiel. Ons ry plek-plek verby karre en lorries wat langs die pad moet stop om kettings aan die wiele te sit, terwyl die sneeuvlokkies val.

“Idiote,” sug Henri. “Hulle het mos geweet hulle kom berge toe en hier hou ons in die winter Kersfees.”

Belangrik om te weet:

  • Club Med spog ook met ʼn fantastiese ski-oord in die bekende Val Thorens Alpe-dorpie, sowat twee ure se ry van Tignes af. Hier is die ski-opsies selfs nog meer as by Tignes, maar die oord is nie so kindervriendelik soos Club Med Tignes nie.
  • Daar is verskeie pakket-opsies om van te kies. Indien jy nie wil ski nie, kan ski-toerusting uitgesluit word, wat die hele vakansie goedkoper maak. Jy kan ook jou eie vliegkaartjies en vervoer van en na die lughawe bespreek, alhoewel ek dit nie aanbeveel nie. Dit plaas die stres en onsekerheid terug in die vakansie-ervaring en die hele idee van ʼn Club Med-vakansie is juis om dit so maklik en moeiteloos as moontlik te maak.

As ʼn Kapenaar, wat op nul meter bo seevlak woon en elke dag geski het, was die hoogtes wat ons bereik het van tussen 2 100 m tot 3 600 m bo seevlak by tye uitdagend. Hoogtesiekte (altitude sickness) kan jou dalk net affekteer. Nie almal word daardeur beïnvloed nie, maar neem dalk net ʼn pilletjie daarvoor saam.

(Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.