Tien Nederlandse dorpe en een paar skoene

Die winkel in Tolbert waar ek oorspronklik my skoene gekoop het. (Foto: Dalene de Vente.)

Die enigste paar skoene wat ek al ooit tweedehands gekoop het, was in die Nederlandse dorpie, Tolbert. Ek betaal €7,50 vir ’n paar winterstewels, amper so goed soos nuut. Met dié skoene het ek die wêreld – of so voel dit – verken.

Delft is ʼn stad met allerhande winkels waar jy soeweniers kan koop met wit-en-delftsblou patrone op. Trakteer jouself met ʼn roomys op die stadsplein terwyl jy na die klokkespel van die toring luister.

Delft is ʼn skatkis vol oulike plekkies waar jy kan rondsnuffel. (Foto: Dalene de Vente.)

In Gouda is daar kaas en alles wat verwant is aan kaas. Net waar jy kyk, staan winkels oop vir toeriste. Neem ʼn foto van jouself (in ʼn paar klompe!) langs ʼn yslike blok kaas.

Dié wat verkoop word, is in alle vorms, kleure en geure. (Foto: Dalene de Vente.)

In Harlingen Haven is die mense nog goedhartig en vriendelik. Een skoolkind ry saam met my tot aan die einde van die treinroete in Friesland. Daar is ek die enigste toeris saam met ʼn klompie ouer mense. Daar eet ek die lekkerste wafel en sit en kyk deur die venster hoe iemand in die ysige koue ʼn skip regmaak.

Harlingen Haven by die eerste oogopslag. (Foto: Dalene de Vente.)

As jy hou van geskiedenis, is die stad Dordrecht net die plek vir jou. Sommige strate is nog van keistene en baie geboue en huise dateer uit die 1600’s.

Dordrecht. (Foto: Dalene de Vente.)

Elburg is die skattigste plek waar ek al ooit was. Dit is ʼn klein en letterlik vierkantige dorpie. Die beste van alles is natuurlik dat motors nie sommer in dié dorpie mag ry nie!

Elburg. (Foto: Dalene de Vente.)

Groningen was die stad wat ek nie genoeg kon besoek nie. Vanaf die eerste keer wat ek by sy stasie afgeklim het, was ek onherroeplik verlief. Gaan besoek gerus die Martini-kerk met sy Martinitoren van 97 m hoog wat bo die middestad uittroon. In die somer sien jy studente wat met hul lang wit bene by die geboue se vensters uithang om son te soek. Daar is ook altyd die een of ander mark wat jy kan besoek of gaan drink koffie by die Starbucks oorkant die ingang van die Rijksuniversiteit. Die baie fietse en jolige studente sal maak dat jy summier wil gaan inskryf om daar te studeer.

Groningen. (Foto: Dalene de Vente.)

In Aduard is daar ʼn app wat jy kan aflaai en ʼn roete wat jy kan volg om terug te stap in die geskiedenis. Aduard is in die 1100’s deur monnike gestig. Daar is ook die gewilde straatbibliokteek – ʼn kas met boeke in. Jy mag enige tyd vir jou ʼn boek daar uithaal, solank jy dit net weer terugbring. Daar is altyd kinders wat in die strate speel, en dit skep ʼn vrolike, unieke atmosfeer.

Die straatbiblioteek en die kinders wat in die strate speel. (Foto: Dalene de Vente.)

Zwolle het ʼn spesiale plek in my hart. In dié dorp is ʼn baie groot boekwinkel en dit is, terloops, ook die plek waar ek ʼn ander Afrikaanse toeris raakloop. Saterdagoggende is gesellig met die plaaslike mense wat koffie drink op die winkelstoepe en musikante wat musiekmaak.

Ek drink koffie op ʼn stilstaande skip in Zwolle. (Foto: Dalene de Vente.)

Kampen is ʼn lekker studentestad. Daar is mooi klippoorte rondom die stad en ʼn interessante museum met inligting uit die vorige eeue.

Kampen se strate. (Foto: Dalene de Vente.)

Zoutkamp: Dis die tipe dorpie waar jy wil gaan wegkruip. Daar is nie veel nie, net ’n rustige hawe en mooi huisies. As jy hou van idilliese hawedorpies, is hierdie een perfek!

Mooi huise in Zoutkamp (Foto: Dalene de Vente.)

Al hierdie dorpe het ek in my tweedehandse skoene besoek – skoene waarmee ek al die verste geloop het. En die einste skoene wat ek gister by die tweedehandse winkel gaan aflaai het. As die volgende eienaar maar net weet van die reise wat daardie paar skoene kafgedraf het …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mallie ·

Baie bankie. Dit is nou waarlik n bietjie wonderlike geskienis en iets om te ervaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.