50 jaar se vernuf, vernuwing van die selfoon

Martin Cooper, ‘n Amerikaanse ingenieur wat die “vader van die selfoon” genoem word, sê die netjiese klein toestel wat ons almal in ons sakke het, het byna onbeperkte potensiaal. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Op ʼn Amerikaanse lenteoggend in April 1973, maak die Motorola-ingenieur Martin Cooper die eerste selfoonoproep op ʼn sypaadjie in Sesdelaan in Manhattan. Hy bel nie sy ma of meisie nie, maar sy mededinger by AT&T se Bell Laboratory, Joel Engel.

“Ek bel jou op ʼn selfoon, ʼn regte persoonlike draagbare selfoon wat ek in my hand vashou,” was sy oorwinningswoorde in die koordlosekommunikasiewedloop met ʼn vroeë prototipe van die wêreld se eerste selfoon, die DynaTAC (Dynamic Adaptive Total Area Coverage).

Danksy die sukses van sellulêre radionetwerke in die laat sewentigs, en met meer as ʼn dekade se werk in sellulêre navorsing en -tegnologie agter die blad, het Cooper en die (toe) tweerigtingradiovervaardiger, Motorola, in 1983 met die DynaTAC 8000X vorendag gekom. Dit was sowat 25 cm lank, het bykans ʼn kilogram geweeg en 30 minute kletstyd gebied nadat jy die battery vir tien ure moes laai!

ʼn Mens sou reken dat dié baksteen met sy dowwe skerm soos ʼn klip sou sink, maar dit tref die Amerikaanse winkelrakke in 1983 met ʼn barshou teen ʼn astronomiese verkoopprys van $4 000 (sowat $10 200, oftewel bykans R184 000, in vandag se geldwaarde)!

Hoewel dit onbekostigbaar vir Jan Alleman was, het meer as 300 000 vermoënde sakelui dié nuutjie opgeraap. Dié sukses het Motorola die selfvertroue gegee om vervaardiging uit te brei en in ontwikkeling te belê, waarvan die eerste resultaat in April 1989 verskyn het. Die MicroTac was heelwat kleiner as sy ouboet, maar teen $3 000 (gelykstaande aan $7 300 of meer as R130 000 vandag) nie veel goedkoper nie.

Wat belangrik is, is dat die kompakte ontwerp van dié foon tot vandag toe nog die standaard is wat foonvervaardigers volg. Dit het boonop ʼn sakemodel tot stand gebring waarmee duur, nuwe tegnologie eers in die premium-mark beproef word alvorens dit op groot skaal vir die breë verbruikersmark vervaardig word.

Boksprong van baksteen na blitsbrein

 

(Foto: iStock)

Die oorgang van analogiese na digitale kommunikasietegnologie in die negentigs het die ontwikkeling van selfone ʼn enorme hupstoot gegee. Die belangrikste hiervan was die oorskakeling vanaf radiotelefoontegnologie na die GSM-standaard (Global System for Mobile Communication).

Die Orbitel TPU 900 (ʼn vetsugtige foontjie van 2,1 kg) was die eerste GSM-foon op die mark en word as ʼn merker beskou vir die begin van tweedegenerasieselfoonnetwerke (2G) waarmee toestelle klein datapakkies (soos teksboodskappe) kon stuur. Neil Papworth het die wêreld se eerste teksboodskap, “Geseënde Kersfees”, op 3 Desember 1992 aan die Vodafone-direkteur Richard Jarvis gestuur, wat dit op ʼn Orbitel TPU 901 ontvang het.

Teen die negentigs was selfone veel meer as net ʼn toestel waarmee jy kon klets. Behalwe vir eenvoudige speletjies soos Snake (met komplimente van Nokia), en die vermoë om luitone af te laai, kon gebruikers vir die eerste keer kort boodskappe via ʼn enkele boodskapdiens (SMS) stuur. Groter skerms en beter kamerategnologie het skielik belangrik geword, wat vervaardigers genoop het om met dié vorm van selfone te begin eksperimenteer.

VoIP (Voice over Internet Protocol) is in 1995 van stapel gestuur, waarmee langafstand- en internasionale oproepe oor die internet, pleks van sellulêre radionetwerke, gemaak kon word. Dit was egter die moeitelose vermoë om e-posse te hanteer wat die BlackBerry se verskyning in 1999 met lofgesange en geesdrif begroet het.

Die volgende groot sprong in 2003 was die spoed waarteen netwerke inligting kon oordra. Op die GSM-netwerk was dit slegs 64 kbps, maar met 2G kon oordragprotokolle soos GPRS (General Packet Radio Services) en EDGE (Enhanced Data rates for GSM Evolution) ʼn spoed van tussen 114 en 384 kbps behaal. Elke verbetering het die oordrag van meer inligting, foto’s, musiek en selfs video’s moontlik gemaak – en só is die weg gebaan vir die koms van die slimfoon.

Derdegenerasieselfoonnetwerke (3G) het al beter toegang tot die internet gebied, en selfone het soos rekenaars begin lyk en funksioneer. In Januarie 2007 het Steve Jobs die appelkar vir goed omgekeer.

Boord wat aanhou blom

Kaiann Drance, senior direkteur van produkbemarking vir die iPhone, praat in 2019 tydens die bekendstelling van nuwe Apple-produkte in Cupertino, Kalifornië. (Tony Avelar/AP)

Die baanbreker-iPhone, met sy ingeboude iTunes-musiekspeler, flink webblaaier en verbysterende raakskerm, het die toekoms van slimfone onherroeplik verander. BlackBerry het nog probeer om sy QWERTY-sleutelbord relevant te hou, maar sy knoppies is geknik deur die iPhone se kapasitiewe raakskerm wat die gebruiker se invoere uit die versteuring van elektrostatiese velde op die skerm kon bespeur. Die iPhone het feitlik oornag die goue standaard vir slimfoonvorm en -funksie gestel – iets wat alle vervaardigers sedertdien nastreef.

Apple se App Store was nét so grensverskuiwend danksy die nimmereindigende moontlikhede wat dit vir derdepartysagtewareontwikkelaars ontsluit het – ʼn bedryf wat teen ʼn ontsaglike tempo aanhou gedy. Google se gewilde Android-bedryfstelsel en Android Market (later Google Play Store) is sedert 2008 die enigste noemenswaardige alternatief vir Apple se iOS-bedryfstelsel en App Store – net betyds vir die koms van WhatsApp wat sedert 2009 tot meer as 2 miljard gebruikers gegroei het.

In 2010 speel Steve Jobs sy tweede groot troefkaart met die iPad – ʼn draagbare toestel wat in die gaping tussen slimfone en skootrekenaars pas. Hoewel dit nie die eerste “tabletrekenaar” was nie, was (en is) die iPad ʼn suksesverhaal wat nóg ʼn splinternuwe multimiljarddollar harde- en sagtewarebedryf uit die niet laat verrys het.

In 2014 is vierdegenerasieselfoonnetwerke (4G) met verstommende oordragspoed reg oor die wêreld begin uitrol. Selfoonvervaardigers het minder met vorm rondgespeel en die meeste slimfone het soos die oorspronklike iPhone begin lyk. Verbruikers wou slimfone met groter skerms van hoër gehalte hê, en dit is waaraan vervaardigers soos Qualcomm en Samsung se opgang as wêreldspelers te danke is.

Sedert 2017 is die slimfoonbedryf op ʼn interessante plek. Daar is iets vir almal, met vervaardigers wat verskillende vernuwende funksies in vlagskiptoestelle van verskillende vorms inbou. Net soos vroeër, word die haalbaarheid van nuwe tegnologie eers in die luukse mark getoets, soos wat tans die geval is met die ietwat flou vlamvat van voubare slimfone.

Flik- en voufone: Reis terug in tyd?

Samsung se Galaxy Z Flip 4 (Foto verskaf)

Die eerste flikfoon (flip phone) – waarvan ʼn gedeelte van die toestel met ʼn skarnier vertikaal oop- en toevou (soos ʼn hamburger) – was Motorola se StarTAC wat in 1996 vrygestel is en die mees kompakte en ligste selfoon van daardie tyd was. Flikfone en skuiffone (glyfone) se gewildheid is egter só legendaries dat dit (amper soos die platespeler van ouds) al meer gewild word.

Die Royole Flexpai wat in 2019 bekendgestel is, was die eerste slimfoon met ʼn voubare skerm (fold phone). Dié foon, wat horisontaal soos ʼn warmbrak oopvou, is kil ontvang. Baie het dit as ʼn vlietende foefie beskou. Toe Samsung in 2019 sy Galaxy Fold onthul het, het dit ook gemengde reaksie ontlok. Sy verfynde weergawes daarna het egter ʼn fermer voustandaard vir slimfone gestel.

Sedertdien word daar gegis oor die verwagte voufoonrevolusie wat die volgende kwantumsprong soortgelyk aan die iPhone-oomblik sou wees, bes moontlik op die korttermyn tabletrekenaars sou vervang, en oor die langtermyn selfs skootrekenaars.

Teoreties sal die ideale opvoubare slimfoon soos ʼn tabletrekenaar lyk en werk as jy dit oopvou, wat jou die voordeel van ʼn slimfoon én ʼn tablet in ʼn enkele, draagbare toestel gee. Daar lê egter nog baie skaafwerk voor. Die meeste modelle, met die uitsondering van Samsung se Galaxy Z Fold 4 en Galaxy Z Flip 4 – wat hul mededingers ver voor is –  is nét te broos en middelmatig.

Die kreukels wat (letterlik) nog uitgestryk moet word, sluit die volgende in:

  • Albei helftes moet so skraal as moontlik wees, wat battery- en kameraspasie inkort.
  • Die verdubbeling van oppervlak verdubbel ook die area wat teen stof en water beskerm moet word.
  • Daar kort baie werk om die skarnier só te ontwerp dat daar nie ʼn sigbare plooi oor die skerm vorm nie.
  • Die gebruik van twee skerms verkort die batteryleeftyd.
  • Derdepartysagteware moet aangepas word om vir die groter skerms met meervoudige resolusie voorsiening te maak.
  • Dit is nog baie duur en sal jou sak plaaslik met tot R50 000 ruk.

Domfone en al slimmer fone

(Foto: iStock)

Maatskappye soos HMD Global, die vervaardiger van Nokia-selfone, verkoop deesdae miljoene toestelle in onder andere die VSA wat soortgelyk is aan dié wat met die draai van die millennium te koop was. Dié fone, wat in 2011 meer as 70% van die selfoonkoek verteenwoordig het, word funksiefone (feature phones) genoem, hoewel dit eintlik funksielose fone is. Benewens stemoproepe en SMS, bevat dit slegs enkele bykomende funksies.

Dit is deel van ʼn groeiende tendens wat as die “domfoon”-teenrevolusie beskryf word. Dit is ʼn poging om skermtyd te sny en allerhande afleidings en onderbrekings te vermy – ʼn gier wat meestal onder die sogenaamde Generasie Z (gebore tussen 1995 en 2012) en Millenniërs (gebore tussen 1981 en 1996) posgevat het.

In teenstelling hiermee was daar tussen 2012 en 2021 ʼn toename van 48% in die gebruik van slimfone onder verbruikers 65 jaar en ouer, en word daar oor die volgende vyf jaar ʼn afname van 10% in die verkope van dom- of funksiefone verwag. Slimfone word wêreldwyd deur 95,8% van alle internetgebruikers gebruik en die slimfoonpenetrasiekoers sal na verwagting vanjaar aan die 90%-merk raak.

Ofskoon daar beweer word dat daar meer mense op aarde met selfone as tandeborsels is, glo sommige dat slimfoonvernuwing ʼn plato bereik het omdat die meerderheid modelle met ʼn soortgelyke voorkoms spog. Tog herinner tegnologiese vernuwing soos kunsmatige intelligensie, virtuele en gemengde werklikheid, slimbrille, Web3.0, die internet van dinge en die vooruitsig van blitsvinnige sesdegenerasieselfoonnetwerke (6G), holografiese skerms, buigbare rame en volhoubare herlaaimetodes ons dat wetenskapfiksie baie vinniger as 50 jaar gelede in feit verander.

Soos Martin Cooper in ʼn onderhoud met die BBC opgemerk het: “Fone is vandag ʼn verlengstuk van die mens en tog is ons nog in die kinderskoene van wat ons persoonlike kommunikasie noem. Om iemand te bel, moet so eenvoudig wees soos om net daaraan te dink, sonder om ʼn app te moet oopmaak. Pleks daarvan dat ons toepassings moet gaan soek, behoort dit óns te soek en vind.”

Volgens die 94-jarige “vader van die selfoon”, wat ʼn iPhone- en Apple Watch-geesdriftige is, sal volgende generasies hul foon onder die vel van hul ore ingebed hê. “Sulke toestelle hoef nie gelaai te word nie, aangesien jou liggaam die perfekte laaier is, net soos die liggaam die kos wat ons eet in energie omskep.

“Ja, die selfoon het oor die jare probleme meegebring, soos sosialemediaverslawing en die inbreuk op mense se privaatheid, maar ek het ʼn onwrikbare geloof in die mensdom. Ek kyk na die geskiedenis en na al die vooruitgang wat ons danksy tegnologie gemaak het; mense is nou baie beter daaraan toe. Ons leef langer, is ryker en gesonder as wat ons ooit tevore was.”

Bykomende bronne: Hobby Lark; The Guardian; BBC; CNBC; CNN; Historic Newspapers; ABP Live; Valnet Inc; Oberlo; Statista.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.