Dié skarefinansiering ’n spelwisselaar

(Foto: iStock)

Baie van ons is bekend met skarefinansiering om ʼn nuwe sakeonderneming van die grond af te kry of geld vir ʼn spesifieke saak in te samel. Ofskoon skarefinansiering ʼn miljarddollarbedryf wêreldwyd is, is aandeleskarefinansiering in Afrika nog in sy kinderskoene.

Dié opwindende alternatiewe beleggingswyse, wat die tradisionele finansieringslandskap op sy kop keer, bied aan beleggers ʼn aandeel in ʼn belowende onderneming in ruil vir kapitaal wat dié onderneming op sy beurt vir groei en uitbreiding kan aanwend.

Entrepreneurs wêreldwyd sukkel al meer om kapitaal te bekom – hetsy om ʼn nuwe idee vlerke te gee of ʼn groei-inspuiting te kry om hul sake uit te brei. Volgens Jeff Miller, stigter van Grovest en GoGetta, en alternatiewebeleggingsvisioenêr, is dit veral Afrika-entrepreneurs wat klei trap om finansiering deur tradisionele finansiers soos banke te bekom, aangesien hulle dikwels nie die nodige sekuriteit kan bied nie.

“Daar is só baie voorbeelde van briljante besighede op die vasteland – hulle is nie net veerkragtig nie, maar innoverend om die potensiaal in verskeie sektore te ontsluit. Ek is passievol oor entrepreneurskap en die ontwikkeling van gehalte-entrepreneurs. Ek is egter net so ingestel op die belangrikheid van alternatiewe beleggings vir meer gebalanseerde beleggingsportefeuljes,” sê Miller.

Die gaping vir ʼn aandelefinansieringsplatform wat uitsluitlik op Afrika-ondernemings fokus, was vir hom duidelik. “Hierdie meganisme is eenvoudig en vinnig om te bemark. As die skare daarvan hou, sal hulle die onderneming finansier. Entrepreneurs kry vooraf bevestiging vir hul sake-idees, en het ʼn geleentheid om hul doelwitte te bereik.”

Met R3,5 miljard onder bestuur by Grovest en ʼn diepgaande begrip van lisensievereistes, was Miller gretig om ʼn manier vir kleinhandelbeleggers te skep om in ʼn bateklas te belê wat potensieel beter opbrengste as die aandelemark bied. GoGetta, ʼn skarefinansieringsplatform vir aandele, is gevolglik in Augustus vanjaar gestig. GoGetta is oop vir beleggers oral in die wêreld, maar lys slegs Afrika-ondernemings.

Skarefinansiering wêreldwyd

Die wêreldwye skarefinansieringsmark beloop na raming meer as $17 miljard, met ʼn jaarlikse groeikoers van 16% tot 17% wat tot 2026 voorspel word. Daar word gereken dat dié mark teen 2028 tot $43 miljard sal groei.

Aandeleskarefinansiering is niks nuut in die VSA, Europa en die Ooste nie, maar in Afrika is die begrip nog nie so bekend nie. “Die waagkapitaal en privaat ekwiteitsruimte word deur individue en families met ʼn hoë nettowaarde oorheers. GoGetta se aandelefinansieringsmodel behels ʼn minimum belegging van so laag as R1 000, wat dit vir ʼn veel breër beleggersbasis toeganklik maak,” sê Miller.

Dis ook nie elke Jan Rap en sy maat wie se sake-idee dit uiteindelik tot op GoGetta se platform maak nie. GoGetta se beleggingstoetsproses is robuus, insluitend waardasies en in sommige gevalle gewaarborgde minimum opbrengste vir beleggers.

Die ondernemings wat tot dusver geëvalueer is, kom van Ghana, Kenia, Nigerië, Zambië, Egipte, Rwanda en Suid-Afrika. Van die 256 ondernemings wat sedert Januarie 2022 vir notering nagegaan is, is net vier op die platform gelys sedert die maatskappy in Augustus met sake begin het. “Gehalte is ononderhandelbaar,” sê Miller.

Voordele vir entrepreneurs

Jeff Miller is die stigter van Grovest en GoGetta. (Foto verskaf)

Aandeleskarefinansiering gaan oor veel meer as net kapitaalinsameling, sê hy. “Entrepreneurs kry twee geleenthede om hul sakekonsep te toets – eerstens deur die beleggingskomitee, en sodra dit op GoGetta genoteer is, deur potensiële aandelebeleggers.

“Entrepreneurs behou hul idees en beheer oor hulle besighede, maar word deur sterk sakeontwikkelingskundiges gelei en gementor om koste, tydsberekening, bemarking en aflewering noukeurig te bestuur. Verslagdoening aan beleggers is nog ʼn belangrike deel van die proses.”

Alle oë op Afrika

Volgens Miller sal Afrika teen 2050 na verwagting die vasteland met die grootste bevolking en verbruikersbasis wees. “Hoewel konnektiwiteit en ander kwessies histories struikelblokke vir groei was, sien ons reuse-aanvaarding namate infrastruktuur verbeter en selfoon- en internettoegang toeneem.

“KMMO’s is die sleutel tot welvaart en groei in Afrika, daarom het hulle soveel moontlik geleenthede vir volhoubare belegging nodig. Daar is unieke Afrika-probleme, maar daar is tientalle ondernemings wat innoverende oplossings vir dié uitdagings kan bied,” sê Miller.

“Al wat nodig is, is beleggers wêreldwyd wat dié potensiaal raaksien en munt daaruit slaan. Afrika is ʼn manjifieke slapende reus, en ons is gereed om haar wakker te maak!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.