Ekonomiese groeigolf danksy ondersese kabel

(Foto: iStock)

Duisende plaaslike werkgeleenthede, ’n bruto binnelandse produk (BBP) -inspuiting van miljoene rande, blitsvinnige internetspoed en laer datakoste is meer as ’n druppel aan die emmer. Trouens, die Equiano-ondersese internetkabelprojek wat in 2019 aangekondig en vandeesmaand amptelik in Kaapstad bekendgestel is, sal digitale transformasie in Afrika ’n ongekende hupstoot gee en ’n enorme ekonomiese uitwerking op die vasteland hê.

Dié reuse-inisiatief, waarin die tegnologiereus Google nagenoeg $1 miljard (R17 miljard) belê het, het in Augustus by Melkbosstrand noord van Kaapstad geland. Die kabel, wat luidens ’n Google-verslag aansienlik vinniger internetspoed beloof, begin in Wes-Europa en strek langs die weskus van Afrika, tussen Portugal en Suid-Afrika.

Die kabel se aankoms in Kaapstad kom ’n maand ná sy landing in Swakopmund in Namibië, en vier maande nadat dit in Lagos in Nigerië uitgerol is. Vertakkingseenhede op die kabelroete maak dit moontlik om verbindings na bykomende Afrikalande uit te brei.

Die hoëspoedverbinding van sowat 144 Tbps (bykans 20 keer vinniger as bestaande infrastruktuur) sal na verwagting einde vanjaar in werking tree en sowat 1,8 miljoen werkgeleenthede teen 2025 skep. Volgens Google sal 180 000 hiervan in Suid-Afrika geskep word, 1,6 miljoen in Nigerië en 21 000 in Namibië.

Volgens dr. Alistair Mokoena, direkteur van Google Suid-Afrika, verwag die maatskappy dat die projek die land se BBP teen 2025 met bykans $6 miljard (meer as R100 miljard) sal verhoog. Afrika se digitale transformasie en sy internet-ekonomie sal na verwagting van $115 miljard in 2020 tot $180 miljard in 2025 en $712 miljard teen 2050 groei.

(Foto: iStock)

Google het hom voorts daartoe verbind om kleinsakelui deur die Africa Investment Fund te ondersteun deur ’n belegging van $50 miljoen (sowat R857 miljoen), asook om 10 miljoen jongmense oor die volgende vyf jaar in digitale vaardighede op te lei.

Die koms van die Equiano-kabel val saam met werk aan die 2Africa-kabel, wat na verwagting in 2024 aanlyn sal wees. Die 2Africa-kabel, wat die langste ondersese kabel in die wêreld sal wees (sowat 45 000 km lank), sal drie vastelande – Afrika, Europa en Asië – verbind, met plaaslike landings in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.

China Mobile International, Meta, MTN GlobalConnect, Orange, stc, Telecom Egypt, Vodafone en WIOCC (die West Indian Ocean Cable Company) vorm die 2Africa-konsortium wat dié projek aanvuur. Volgens dié konsortium sal 2Africa naatlose internasionale verbinding in die hande van sowat 3 miljard mense, oftewel 36% van die wêreldbevolking, plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B-Man ·

Wow! Dink net hoe baie phishing gaan die Nigeriërs nou kan doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.