Hoe groen is jou selfoon?

(Foto: Greta Hoffman/Pexels

Met meer as 7,2 miljard mense oftewel byna 92% van die wêreldbevolking wat volgens Bankmycell vandag ’n selfoon besit, asook toenemende druk op maatskappye om hul koolstofvoetspoor te verklein, gee tegnologiemaatskappye al groter groener treë.

Volgens die Waste Electrical and Electronic Equipment (WEEE) Forum word 57,4 miljoen ton elektroniese afval per jaar gegenereer. Dit is die algehele geskatte gewig van die Groot Muur van China en kom neer op 7,6 kg e-afval per persoon op ons planeet. Slegs ’n skamele 17,4% hiervan word herwin.

Die WEEE-forum raam dat e-afval met sowat 4% per jaar toeneem en ’n enorme 74 miljoen ton teen 2030 kan bereik. Net in die VSA alleen beland meer as 150 miljoen selfone jaarliks op die ashoop soos gebruikers hul ou fone vir die nuutste op die mark verruil. Volgens Statista het die aantal slimfoongebruikers net oor die afgelope vyf jaar met byna 50% toegeneem.

Van ou visnette tot fone

Samsung, wat in Suid-Afrika ’n markaandeel van meer as 47% het, het onlangs sy splinternuwe reeks Galaxy S22-slimfone asook die Galaxy Tab S8 bekendgestel wat vanaf 11 Maart vanjaar op die rak sal wees. Samsung sê sy S22, S22+ en S22 Ultra is ontwerp met krag, voorkoms én omgewingsbewustheid in gedagte.

Volgens dié selfoonreus se vyfjaarplan genaamd “Galaxy for the Planet” wil hy van alle plastiekverpakking ontslae raak en die hoeveelheid vervaardigingsafval verminder wat op vullishope beland.

Samsung omskep nylon-visnette in poliamiedharskorrels wat gebruik word in die vervaardiging van onder meer die hakies wat die volume- en kragknoppies in plek hou. Ou waterbottels en CD-houers word ook herwin om selfoonkomponente te skep.

 

(Foto: Verskaf)

“Weggegooide visnette hou ’n ernstige bedreiging vir die seelewe en natuurlike ekosisteme in, en beland dikwels in mense se voedsel- en waterbronne. Weens die langtermynblootstelling aan seewater en UV-strale is visnetmateriaal broos, wat dit moeilik maak om die nette direk te herwin.

“Samsung is daartoe verbind om die gebruik van seegebonde plastiek in al sy produkte te ontwikkel en uit te brei. Teen einde vanjaar sal Samsung se gebruik van herwinde materiaal verhoed dat meer as 50 ton weggegooide visnette in die wêreld se oseane beland,” het Samsung gesê.

Altesaam 20% van ’n S22-foon bestaan uit herwinde plastiek uit die oseaan en die verpakking bestaan ten volle uit herwinde papier. Sowat 640 000 ton visnette word jaarliks weggegooi of in waterbronne agtergelaat. Kyk ook die video hier.

Apple pak plastiekpenarie

Apple se uitvoerende hoof, Tim Cook, het op sy beurt met die bekendstelling van die iPhone 13 in 2021 gesê dié groep wil alle plastiekverpakking teen 2025 uitskakel en teen 2030 koolstofneutraal sake doen.

“Soos ons kliënte kan sien wanneer hulle ’n iPhone 13 koop, het ons die verpakking herontwerp en die buitenste plastiekomhulsel weggelaat. Dit verseker dat ons 600 metrieke ton minder plastiek gebruik,” het Cook gesê.

Volgens die Apple-mikrowebwerf wat aan sy ekovriendelike inisiatiewe gewy word, spaar die maatskappy 861 000 metrieke ton plastiek, koper, tin en sink net deur nie ’n laaier by sy fone in te sluit nie. Die kleiner verpakking stel Apple ook in staat om 70% meer bokse per palet te versend, sê hy.

Die iPhone 13 Pro is die eerste Apple-produk wat 100% gesertifiseerde herwinde goud in die platering van sy hooflogikabord gebruik. Dié foon is voorts gemaak uit 99% herwinde wolfram (tungsten).

In Apple se omgewingsverslag vir 2021 sê die groep sy oorskakeling na herwinde en hidro-gesmelte aluminium het koolstofvrystelling wat met aluminium verbind word met 72% laat afneem.

Volhoubaarheid en Fairphone

Hoewel dit bemoedigend is om te sien hoe selfoonmaatskappye pogings aanwend om die volhoubaarheid van produkte te verbeter, meen ontleders die beste vir die omgewing is om toestelle te maak wat langer hou. Ben Wood, hoofontleder by die navorsingsfirma CCS Insight, het aan die BBC gesê die gebruik van herwinde materiaal is slegs een deeltjie van die volhoubaarheidslegkaart.

Thomas Husson, ontleder van Forrester, stem saam en voeg by dat baie meer gedoen kan word. “Die meeste verbruikers het nie ’n idee hoe skadelik dit vir die planeet is om gereeld hul slimfone vir die jongste model in te ruil nie. Sodra hulle dít besef, sal volhoubaarheid ’n sleutelmanier word om tussen die voorste slimfoonhandelsmerke te onderskei.”

Fairphone is dalk ’n onbekende handelsmerk vir Suid-Afrikaners, maar spog met van die wêreld se ekovriendelikste selfone. Dié Europese groep het verlede jaar sy nuutste model, die Fairphone 4, bekendgestel.

Volgens Eva Gouwens, uitvoerende hoof van Fairphone, het die tegnologiebedryf positiewe ontwrigting nodig om volhoubare verandering te vestig. “Die produkte wat deur tegnologiereuse vervaardig word, word ontwerp om gebruik te word, nie om herwin, herstel of hergebruik te word nie.

“Ons word dus gedwing om produkte weg te gooi as dit gebreek het, want ons kan dit nie self oopmaak of onderdele byderhand hê om dit self te herstel nie.” Boonop wíl mense die nuutste foon op die mark besit, én die meeste fone se leeftyd strek oor minder as drie jaar – alles faktore wat e-afval vererger.

“Fairphone het dié benadering op sy kop gekeer en bewys dit is moontlik om hoë gehalte met langtermynvolhoubaarheid en betroubaarheid te versoen waarby mens en omgewing kan baat vind,” het Gouwens gesê.

  • Lees gerus meer of kyk hier na hoe Fairphone sake anders aanpak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.