Nader olifante só met hommeltuie

Danksy navorsing wat Wesley Hartmann gedoen het, weet navorsers en filmmakers nou beter hoe om hommeltuie naby Afrika-olifante te gebruik sonder om hulle te veel te steur.

ʼn Groep navorsers by die Universiteit Stellenbosch het onlangs praktiese riglyne en voorgestelde etiese protokolle geskryf oor hoe om olifante te nader wanneer daar met hommeltuie oor hulle gevlieg word.

Wesley Hartmann, wat pas sy meestersgraad in bewaringsekologie aan die US behaal het, het die navorsing gedoen in samewerking met dr. Vicky Fishlock en onder leiding van prof. Alison Leslie.

Fishlock is van die Amboseli Trust vir Olifante in Kenia en die sentrum vir ekologie en bewaring aan die Exeter Universiteit in die Verenigde Koninkryk. Leslie is ʼn wildbestuurdeskundige en verbonde aan die US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie in die Fakulteit AgriWetenskappe.

Hartmann en sy medenavorsers het twee protokolle geskryf: Een bevat riglyne om te gebruik wanneer ʼn hommeltuig nader aan ʼn olifant of trop beweeg. Die tweede kan gebruik word wanneer om die diere gevlieg word.

Vir nadervlieg-protokolle word die impak van ʼn vierskroef-hommeltuig se spoed, invalshoek en oorspronklike vertrekhoogte op die reaksies van die diere in ag geneem, terwyl die volgehoue spoed en vlugpatroon ook in die tweede protokol opgeneem is.

Volgens Hartman is dit die eerste voorstelle oor hoe ʼn mens hommeltuie op etiese wyse gebruik wanneer Afrika-olifante dopgehou of bestudeer word. Leslie sê verder dat dit ʼn betekenisvolle stap is om die etiese gebruik van hommeltuie in wildnavorsing te verseker.

“Die invloed van hommeltuigtegnologie op ander dieregroepe moet nog ondersoek word. Dit sal ook interessant wees om te bepaal of olifante enige fisiologiese reaksies op hommeltuie het wat mens nie met die blote oog kan waarneem nie,” sê Leslie.

Resultate wat deur Hartmann se studie opgelewer is, is veral van waarde vir navorsers en rolprentmakers. Hy verduidelik: “Dit is belangrik om oor sulke sake na te dink wanneer olifante verfilm of bestudeer word, om te verseker dat die diere so min as moontlik gesteur word.”

Protokolle wat in hierdie studie ontwikkel is, kan gebruik word om stres onder diere te verminder wanneer hommeltuie vir navorsingsdoeleindes gebruik word. Die riglyne help ook om te bepaal watter invloed die teenwoordigheid van hommeltuie op ʼn dier se werklike gedrag kan hê.

“Dit help nie jy gebruik ʼn hommeltuig om hul gedrag te bestudeer as die data wat ingesamel word eintlik verkeerdelik deur die tegnologie se blote teenwoordigheid beïnvloed word nie.”

Aanbevelings

Volgens Hartmann maak die spoed en invalshoek van ʼn hommeltuig wanneer dit ʼn trop benader ʼn aansienlike verskil in hoe naby ʼn mens aan die diere kan kom sonder om hulle te steur. Hier is ʼn paar van die navorsers se aanbevelings:

  • Loods hommeltuie minstens 100 m weg van ʼn olifant of trop olifante.
  • Gebruik ʼn naderspoed van 2 m/s, en ʼn invalshoek van 45 grade of minder.
  • Moenie olifante van bo af teen ʼn 90 grade hoek nader nie.
  • Vlieg deurlopend een hoogte, eerder as om tussen hoogtes te wissel.

Die gebruik van ʼn vastehoek-benadering is belangrik, sê Hartmann, omdat dit die diere toelaat om hulself maklik te oriënteer tot die hommeltuig, en die objek te sien wat die geraas maak.

“Olifante kan nie hul nekke ten volle oplig nie, en daarom kan hulle nie maklik regop in die lug kyk nie. Olifante verkies om die bron van geraas te kan sien en te identifiseer, en sal dikwels eers kalmeer wanneer hulle dit geïdentifiseer het,” verduidelik hy.

HIerdie foto is deur Wesley Hartmann geneem terwyl hy navorsing op olifante met ‘n hommeltuig gedoen het.

Oorsprong van die studie

Die studie is in die Majete Wildreservaat en Liwonde Nasionale Park in Malawi uitgevoer. Hartmann se navorsingswerk het deel gevorm van ʼn uitgebreide wildbestuurnavorsingprogram wat oor die afgelope agt jaar deur Leslie voltooi is.

Hy wou die diere dophou, maar was bang dat hulle gedrag weens die teenwoordigheid van ʼn mens sou verander. Die gebruik van ʼn hommeltuig wat met ʼn kamera toegerus is, het na ʼn logiese oplossing geklink – tot Hartmann besef het dat geen werk nog gepubliseer is met riglyne oor hoe om die taak uit te voer met so ʼn klein moontlike invloed op die diere se gedrag nie.

“Hoewel hommeltuigtegnologie reeds algemeen vir olifantnavorsing gebruik word, byvoorbeeld om hulle aan te jaag sonder mens-dier‑interaksie, en vir bevolkingsopnames, is daar verbasend min data beskikbaar,” sê hy.

Hartmann kon slegs ʼn handvol verwante studies opspoor wat die uitwerking van hommeltuie op dieregedrag uiteensit. Dié studies is gedoen op swart bere in Kanada, grys- en hawe-robbe, en voëls soos wilde eende en flaminke in vleilande.

“Soos nuwer, stiller ontwerpe op die mark kom, sal ʼn mens verdere navorsing moet doen om hul uitwerking op olifante te meet en die vlugprotokolle daarvolgens aanpas,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.