Ons boer aanlyn, beurtkrag of te not

(Foto: iStock)

Beurtkrag mag ons dalk vir ʼn hele paar ure per dag in duisternis hul, maar dit stuit Suid-Afrikaners geensins om seker te maak dat al die selfone in die huis (betyds) gelaai is voor die ligte afgaan nie én boonop bestee ons die meeste tyd wêreldwyd per dag aanlyn.

Volgens die Global Digital Report 2023 snuffel Suid-Afrikaners gemiddeld 9 ure en 38 minute per dag aanlyn, hetsy op ʼn selfoon of rekenaar. Dit is aansienlik langer as die wêreldgemiddeld van 6 ure en 37 minute. Ons bring onderskeidelik sowat 4 en ʼn half ure per dag voor die rekenaar en 5 ure en 13 minute op mobiele toestelle deur.

Inwoners van Indië, wat met die wêreld se naasgrootste bevolking spog, spandeer ʼn rapsie minder tyd aanlyn as die wêreldgemiddeld, naamlik 6 ure en 23 minute. Amerikaners bring bykans 7 ure voor die skerm deur, wat 2 en ʼn half ure minder as Suid-Afrikaners is, terwyl die Chinese (die wêreld se grootste bevolking) sowat 5 en ʼn half ure per dag aanlyn is, of vier ure mínder as ons hier aan die suidpunt van Afrika.

Die verslag, wat uit die navorsing en data van verskeie instellings soos Global Web Index (GWI), GSMA Intelligence, Statista, Locowise, Data.AI, Meltwater en Similarweb saamgestel is, bied ʼn omvattende oorsig oor hoe digitale sake begin vanjaar gestaan het.

Wêreldblik

(Foto: iStock)

Luidens die verslag is selfone die voorkeurtoestel as dit by internetverbinding kom, met 5,44 miljard unieke mobiele gebruikers in die wêreld. Dit verteenwoordig ʼn toename van meer as 168 miljoen (3,2%) vanaf Januarie 2022.

Daar was 5,16 miljard internetgebruikers aan die begin van die jaar (ʼn toename van 98 miljoen of bykans 2%), en 4,76 miljard sosialemediagebruikers. Laasgenoemde het met 3% of 137 miljoen gebruikers toegeneem.

Suid-Afrikaanse prentjie

Suid-Afrika het in Januarie met 43,48 miljoen internetgebruikers en ʼn internetpenetrasie van 72,3% gespog. Volgens Kepsios het die aantal internetgebruikers met 357 000 jaar óp jaar toegeneem, of net minder as 1%. Wat interessant is, is dat 16,66 miljoen van die bevolking, of 27,7%, dus nie teen Januarie 2023 aktiewe internetgebruikers was nie.

Altesaam 25,8 miljoen inwoners tel onder gereelde sosialemediagebruikers, oftewel 42,9% van die bevolking. Altesaam 112,7 miljoen selfoonverbindings was vroeg in 2023 aktief, wat neerkom op bykans twee selfone per Suid-Afrikaner (187,4% teenoor die totale bevolking).

Volgens Ookla het ons internetspoed ʼn aansienlike verbetering oor die afgelope 12 maande getoon. Mobieleverbindingspoed het met net meer as 20% of 6,18 megagrepe per sekonde toegeneem, terwyl vastelynverbindingspoed ʼn bokspring van 34,9% of 10,39 megagrepe per sekonde gegee het. Die gemiddelde spoed vir mobieleverbindings (via selfoonnetwerke) het op sowat 36,7 megagrepe per sekonde gewikkel, terwyl die gemiddelde spoed op vaste lyne ʼn knertsie vinniger teen 40,12 megagrepe per sekonde galop het.

Hoewel ons verbindingspoed via selfoonnetwerke wel ʼn rapsie hoër as die wêreldgemiddeld van 33,97 megagrepe per sekonde is, steek Suid-Afrika se vastelyninternetspoed sleg af teen die wêreldgemiddeld van 74,54 megagrepe per sekonde. Chili gee die pas aan teen ʼn blitsige 216 megagrepe per sekonde, terwyl China en Singapoer ʼn kortkop agter is met 214 megagrepe per sekonde. Selfs Egipte spog met ʼn vinniger spoed as Suid-Afrika, naamlik 45,79 megagrepe per sekonde, maar ons bure soos Ghana, Nigerië en Kenia suig aan die agterspeen met slakkepassnelhede van onderskeidelik 27,70, 11,84 en 9,60 megagrepe per sekonde.

(Foto: iStock)

Sosialemediasyfers in Suid-Afrika

Daar was in Januarie 2023 altesaam 25,80 miljoen sosialemediagebruikers (42,9% van die plaaslike bevolking) in Suid-Afrika. Advertensiedata van die top-sosialemediaplatforms dui op sy beurt daarop dat daar begin 2023 sowat 22,75 miljoen gebruikers (18 jaar en ouer) in Suid-Afrika was, of 57,0% van die totale bevolking van 18-jariges en ouer.

(Foto: iStock)

Nagenoeg 59,3% van ons totale internetgebruikerstal (ongeag ouderdom) het in Januarie 2023 ten minste een sosialemediaplatform gebruik, waarvan 51,1% vroue en 48,9% mans was. Só snuffel Suid-Afrikaners:

  • Facebook: Data wat in Meta se advertensiebronne gepubliseer is, dui dat Facebook sowat 22,15 miljoen gebruikers in Suid-Afrika het.
  • YouTube: Google het op sy beurt aangedui dat YouTube vroeg vanjaar 25,80 miljoen gebruikers in Suid-Afrika gehad het.
  • Instagram: Dié Meta-maatskappy het in Januarie met 5,65 miljoen gebruikers gespog.
  • TikTok: Dié gewilde platform, wat onlangs aangekondig het dat hy sy gebruikers se snuffeltyd tot ʼn uur wil beperk, het 11,83 miljoen plaaslike aanhangers. TikTok het die afgelope jaar die grootste groei van alle sosialemediaplatforms in Suid-Afrika getoon.
  • Facebook Messenger: Meta se data toon dat adverteerders in Januarie 5,15 miljoen gebruikers deur Facebook Messenger kon bereik.
  • LinkedIn het teen Januarie 11 miljoen plaaslike “lede” gehad. LinkedIn se data is gegrond op die aantal geregistreerde lede pleks van aktiewe maandelikse gebruikers.
  • Snapchat spog met 5,85 miljoen Suid-Afrikaners wat dié platform gebruik.
  • Twitter het nagenoeg 3,65 miljoen plaaslike volgelinge teen begin vanjaar gehad.

Nog vyf vinnige feite:

  • Die wêreldgemiddeld vir tyd voor die televisie of stroomdienste is 3 ure en 23 minute.
  • Die gemiddelde tyd wat aan gedrukte of aanlyn media spandeer word: 2 ure en 10 minute.
  • Gemiddelde tyd bestee om musiek te stroom: 1 uur en 38 minute.
  • Mense luister vir ʼn gemiddelde tyd van 59 minute per dag radio.
  • Podsendings en aanlyn speletjies geniet mense se aandag vir onderskeidelik 1 uur en 2 minute, en 1 uur en 14 minute per dag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Sal interessant wees om te sien, hoveel Suif-Afrkaners oorgewig is , in vergelyking met die res van die wereld, nadat ek die gelees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.