Sakpas-sonkrag vir sake-eienaars

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Met Suid-Afrikaners wat steeds sonder enige teken van lig aan die einde van die tonnel onder beurtkrag en stygende elektrisiteitpryse steier, soek al meer sake-eienaars alternatiewe energiebronne om operasioneel te kan bly.

Sonpanele word al gewilder aangesien dit minimale instandhouding verg, die meeste van die onderdele duursaam is en ʼn lang lewensduur het, en energiekoste drasties verminder.

Die uitdaging waarmee die meeste sake-eienaars egter te kampe het, is die enorme kapitaaluitgawe wat nodig is om ʼn sonkragstelsel te finansier. Die uitbreiding van die Artikel 12B-belastingaansporing het fondsbestuurders soos die alternatiewe beleggingspesialis Jaltech aangespoor om kleinhandelkapitaal van Suid-Afrikaanse belastingbetalers te verkry, spesifiek om sonkragprojekte in Suid-Afrika te finansier.

Gegewe die groot belastingaansporing vir hierdie beleggers, is fondsbestuurders in staat om finansiering aan eiendom- of sake-eienaars tebied teen tariewe wat aansienlik meer mededingend as tradisionele finansieringsopsies is.

“Tradisionele instellings is in staat om slegs ʼn gedeelte van ʼn projek te finansier, maar aangesien Artikel 12B-fondsbestuurders nie aan bankwetgewing onderhewig is nie, kan ons ʼn hele projek finansier. Die betalingsterme wat ons bied, is ook aansienlik aantrekliker,” sê Jonty Sacks, ʼn vennoot by Jaltech.

Jaltech, wat in 2010 gestig is, is ʼn alternatiewe beleggingsfondsbestuurder wat meer as R1,7 miljard van kleinbeleggers se kapitaal bestuur. Jaltech se doelwit is om ʼn deursigtige, toeganklike en gereguleerde beleggingsomgewing vir alternatiewe beleggings te skep, insluitende private ekwiteit, gasvryheid, batehuur, kriptogeld en private skuld.

Jonty Sacks is ‘n vennoot by Jaltech. (Foto verskaf)

Eienaars van eiendom of sakeondernemings trek voordeel uit toegang tot Artikel 12B-finansiering aangesien geen sekuriteit vereis word nie. Daar is minimale voorafkoste en die koste is bestendig en voorspelbaar. Die finansieringstermyn kan so lank soos 15 jaar wees, wat die jaarlikse betaling verlaag en die finansiering op ʼn manier struktureer wat buite die eiendom- of besigheidseienaar se balansstaat val.

Die eienaar van die eiendom sal self die verskaffer en sonkraginstalleerder kan aanstel wat ook verantwoordelik vir instandhouding en monitering sal wees.

“Sonkraginstalleerders vind ook hierby baat, aangesien hulle ook toegang het tot Jaltech se Artikel 12B-finansiering vir hul kliënte of vir nuwe of bestaande projekte wat hulle bedryf. Dit het reeds ʼn groot aantal projekte en sakegeleenthede vir installeerders ontsluit wat eenvoudig te lank geneem het deur tradisionele finansieringskanale.

“Die waarskynlikheid dat Eskom die Suid-Afrikaanse mark binne die volgende twee jaar van betroubare elektrisiteit sal voorsien, is uiters gering. Wanneer dít uiteindelik bereik word, sal die koste van die elektrisiteit waarskynlik aansienlik hoër wees as die koste om energie deur sonkrag te produseer,” sê Sacks.

Een van die belangrikste voordele van toegang tot hierdie soort finansiering is dat die koste baie laer is as die aankoop van elektrisiteit by Eskom, en daar word verwag dat sake- en eiendomseienaars se besparings jaarliks sal toeneem soos Eskom sy tariewe verhoog.

“Onderbrekings en buitensporige tariewe wurg sake-eienaars en daarom het die implementering van alternatiewe energieoplossings onvermydelik geword,” sê hy.

(Foto: iStock)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.