Pasop! Só teiken kubermisdadigers kwesbare troeteldierliefhebbers

Argieffoto. (Foto: Madeline Bowen/Unsplash)

Suid-Afrikaanse diereliefhebbers moet op hul hoede wees vir swendelaars wat vals advertensies plaas oor veral oulike baba-troeteldiere wat teen oënskynlik billike pryse te koop is.

Volgens die private speurder Mike Bolhuis se Specialised Security Services (SSS), is troeteldierswendelary ʼn toenemende tendens in plaaslike kubermisdaadkringe en word slagoffers van dié misdade duisende rand uit die sak gejaag.

“SSS het tans ʼn geval van ’n rasegte hondjie wat vir R5 800 geadverteer word, maar die kopers het tot op hede meer as R100 000 vir hierdie hondjie betaal. Ons ontvang baie sulke gevalle en dit is noodsaaklik om te besef dat dit ’n baie ernstige probleem word,” vertel Bolhuis.

Hy verduidelik dat swendelaars webwerwe met geloofwaardige getuigskrifte, resensies en kontakinligting skep om potensiële kopers te mislei.

Hul modus operandi maak veral op emosionele manipulasie staat.

Mike Bolhuis. (Foto: Argieffoto)

“Swendelaars speel op die emosies van potensiële troeteldiereienaars, wetende dat baie mense gretig is om ’n nuwe vierpotige vriend in hul huise te verwelkom. Hulle gebruik hartroerende stories en emosionele taal om ’n gevoel van dringendheid en opgewondenheid te skep,” waarsku Bolhuis.

Vooraf betalings word ook versoek vir die troeteldier self of kamstige versendingsgeld, versekering of ander verwante uitgawes.

“Nadat die betaling ontvang is, kan die swendelaar belowe om die troeteldier af te lewer, maar sal dikwels met verskonings vorendag kom om die aflewering te vertraag. Op die ou einde word die troeteldier nooit afgelewer nie en die swendelaar verdwyn.”

Kopers kan ook snuf in die neus kry indien die koper persoonlike besoeke of vooraf inspeksies probeer vermy.

Volgens Bolhuis het die SSS reeds ʼn paar plaaslike verdagtes geïdentifiseer wat by troeteldierswendelary betrokke is, maar geen name of inligting kan in hierdie stadium daaroor bekendgemaak word nie.

Hy stel die volgende wenke voor om misdaad van dié aard te vermy:

Rapportering en bewusmaking

Dit is noodsaaklik om bewustheid oor troeteldierswendelary te skep om potensiële slagoffers te beskerm. Daarom moedig hy mense aan om verdagte advertensies, webwerwe of kommunikasie aan die toepaslike owerhede en platforms te rapporteer.

Navorsing en verifikasie

Bolhuis adviseer potensiële troeteldiereienaars om deeglike navorsing te doen voordat enige betalings gemaak word. Hulle moet die verkoper of diereskuiling se egtheid verifieer en daarop aandring om die troeteldier persoonlik te ontmoet voordat enige transaksies gedoen word.

Aanneming bo aankoop

Die aannemingsproses van betroubare diereskuilings bied volgens Bolhuis ’n veiliger en meer etiese manier om ’n nuwe troeteldier in die gesin te verwelkom.

Rooi vlae

Hy benadruk dat die publiek ingelig moet word oor algemene rooi vlae wat ’n troeteldierbedrogspul kan aandui, soos verkopers wat betaling slegs deur onopspoorbare metodes (soos bankoorplasings of geskenkbewyse) eis, pryse wat te goed is om waar te wees en onwilligheid om verifieerbare kontakinligting te verskaf.

  • Diegene wat troeteldierbedrog by die SSS wil rapporteer, kan ʼn e-pos stuur na Chris Joubert by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sandra ·

Vriende van my het sleg deurgeloop toe hulle ‘n Yorkie bestel het. Baie geld betaal, met niks om daarvoor te wys nie.

Kat ·

Gaan liewers na die DBV en neem ‘n onskuldige dier aan. Daar is soveel mooi diere wat ‘n goeie huis soek.

Janice ·

Ek het minder as niks simpatie nie. Hierdie sogenaambe volbloed, rasegte diere waarvoor ‘n arm en been betaal word, sodat mammie en pappie daarmee kan spog is sommer twak. Kry vir jou. “Adopt, don’t shop” is my leuse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.