Suider-Afrika verwelkom Covid-19-honde-opsporingseenheid

(Foto: verskaf)

’n Span Beagle-hondjies is nou slaggereed om die vasteland se eerste Covid-19-opsporingseenheid te wees.

Die werpsel jaghondjies is by die Universiteit van Namibië (UNAM) gebore net toe die wêreld se gesondheid en ekonomie vroeg in 2020 in chaos weens die pandemie gedompel is.

Hoewel die gebeure tóé onverwant gelyk het, was dit die begin van die Namibië Opsporingshondprojek.

Talle lande wêreldwyd, waaronder Frankryk, Finland en die Verenigde Koninkryk, het Covid-19-opsporingseenhede van stapel gestuur en nou sal die universiteit in Namibië se Skool vir Veeartsenykunde (SoVM) ook met sy eie Covid-19-opsporingsprojek begin.

Dr. Anna Marais, mededekaan van dié skool, verduidelik dat die mens vyf miljoen reuksensors het, maar honde het 300 miljoen.

“Mediese opsporingshonde is al klaar opgelei om die reuke van malaria, kanker en Parkinson se siekte op te spoor. Net so kan honde ingespan word om ook Covid-19 op te spoor.”

Veeartse aan dié universiteit het ’n ervare honde-afriger aangewys om deel van die projek te wees. Hulle het ook die hulp van vier vrywillige hondehanteerders, onder wie ’n veeartsenykundige verpleegster, ’n veeartsenykundige paraprofessioneel, nagraadse studente en ’n teaterassistent betrek.

Dié groep mense het met die gehoorsaamheidsopleiding van die vier honde begin.

Die honde-opsporingstrust is ook gevestig, met regter Dave Smuts, dr. Solomon Amadhila en dr. Conrad Brain as stigterslede. Die trust se doelwit is om inligting met internasionale navorsers te deel en geld in te samel om ’n toegewyde honde-opsporingsopleidingseenheid te bou en toe te rus.

Met die gebruik van tussentydse geriewe by die UNAM en monsterinsamelingsprosedure, kon die afrigter, hanteerders en honde van gehoorsaamheidsopleiding na reukopsporing aanbeweeg.

’n Dag begin gewoonlik met ’n bindingsessie tussen die honde en hul hanteerders en afrigter. Dié sessie bied ’n geleentheid om basiese gehoorsaamheidsopleiding-aspekte te verfris en vertroud te raak met die omgewing.

Ná afloop van ’n intense snuifopleidingsessie word die honde gevat om te ontspan en te sosialiseer. Sodoende raak die honde ook gewoond aan verskillende mense, geboue en omgewings.

Marais meen dat die resultate van die aanvangsprojek se Covid-19-resultate tot op hede uiters belowend is en ’n soortgelyke patroon as ander, buitelandse projekte toon.

Die SoVM-honde identifiseer tans 80% van die monsters korrek.

“Dit dui daarop dat honde-opsporing van Covid-19 moontlik ’n bekostigbare en reproduseerbare metode kan wees in die opsporing van die virus en die beheer daarvan, veral in lae-inkomstelande met beperkte laboratoriumruimte.”

Dr. Guy Fyvie, veeartsenykundige raadgewer by Hill’s Pet Nutrition, is opgewonde om deel van die projek te wees. Nie net sorg Hill’s vir die kos vir die honde in die projek nie, maar het ook R100 000 vir die projek geskenk.

“In die lig van die uiteenlopende werkslading wat op die honde gelê word, is dit noodsaaklik dat ons na hul fisieke en geestelike gesondheid omsien. Ons beskou Hill’s as noodsaaklik om dit te bereik,” het Marais gesê.

  • Vir meer inligting oor die projek, besoek dié webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miena ·

Aaaagggg oulik!!! Dankie vir die brokkie goeie inligting. Welgedaan aan almal betrokke – veral die woefs.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.