Wen: Is jóú aanneemtroeteldier die oulikste?

ʼn Troeteldier is vir die meeste mense soos ʼn familielid, maar ʼn aanneemtroeteldier neem ʼn spesiale plek in ʼn mens se hart in wat ʼn leemte vul soos geen ander kan nie.

Of dit nou ʼn hond, ʼn kat, ʼn voël of selfs ʼn parmantige boerbok is, ʼn aanneemdier is ʼn groot plesier en Maroela Media is op soek na ons lesers se oulikste aanneemdiere en jy staan die kans om ʼn groot bederf vir jou aanneemkind te wen!

Maroela Media het onlangs ʼn paar berigte gepubliseer oor spesiale aanneemdiere:

Grietjie en Marietjie

Grietjie, die boerbok, en Marietjie, die hond. (Foto: Verskaf)

Grietjie, die boerbok, en Marietjie, die hond. (Foto: Verskaf)

Grietjie, ʼn wit-en-bruin boerbok, en Marietjie, ʼn Pointer-kruising, het lesers in April gaande gehad toe hulle deur die DBV op George vir aanneming beskikbaar gestel is, maar op voorwaarde dat dié dieremaats saam aangeneem word.

Grietjie en Marietjie het hulself uiteindelik tuisgemaak op ʼn kleinhoewe op Rheenendal in die Wes-Kaap, waar skuiling vir talle weggooidiere gebied word.

Richie

Richie (Foto: Verskaf)

Richie, ʼn tweejarige straatbrak by die Woodrock-diereskuiling in Johannesburg, het ook onlangs op nuwerwetse wyse die kollig op diere-aanneming geplaas toe ʼn kletsrym-video oor hom vrygestel is.

Darren Morris is ʼn vrywilliger by die Woodrock-diereskuiling en het vir Richie só ontmoet. Elke vrywilliger kry ʼn dier wat hy of sy vir aanneming moet bemark. Morris se hond was Richie. Hy het Richie se foto en inligting op sy Facebook-blad gedeel, maar dit het nie veel aftrek gekry nie. Tot een van sy vriende aangebied het om ʼn fotosessie met Richie te doen.

“Richie is ʼn rondloperhond wat in Diepsloot gevind is. Hy het merke aan sy gesig gehad omdat iemand hom met olie gebrand het, en daarom wou niemand hom aanneem nie. Hy is al langer as ʼn jaar by die diereskuiling en dit het basies die hele jaar geneem vir die merke op sy gesig om heeltemal te genees,” het Morris in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

Hoewel Richie se video al amper 15 000 keer op Facebook gekyk is, het hy steeds nie ʼn huis gekry nie.

Zeke

Zeke. (Foto: Verskaf)

Zeke is ʼn pitbull wat sowat ʼn jaar gelede deur die Underdogs SA Pitbull-rehabilitasiesentrum in Pretoria gered is nadat hy vermoedelik deur ʼn vragmotor of ander swaar voertuig in Pretoria-Wes raakgery is. Hy het vir drie dae in ʼn veld teen ʼn muur gelê voordat hy gered is.

Zeke, soos hy later gedoop is, se naam beteken in Hebreeus “God gee krag”. Sy heupe was gebreek en sy tong was middeldeur gebyt. Hy is uiteindelik geopereer en gerehabiliteer en deur ʼn egpaar van Pretoria aangeneem.

Wen

Nou staan jy die kans om te wen met ʼn foto van jóú aanneemdier! Vertel ons kortliks van die dier wat jy gered het en deel ʼn foto van jou aanneemdier.

Drie gelukkige lesers kan elkeen ʼn Montego-geskenkpak, spesifiek vir jou troeteldier, ter waarde van R500 wen. Daar is drie kategorieë waaruit jy kan kies (honde, katte en ander diere) om in aanmerking te kom vir die prys en ʼn wenner sal in elkeen van die kategorieë aangewys word. Stuur ʼn foto en skryf ʼn kort agtergrond van 100 woorde of minder en miskien is jy een van die gelukkige wenners!

Jy kan boonop ook ʼn diereskuiling van jou keuse nomineer wat ʼn geskenkpak ter waarde van R1 780 kan wen as jy een van die finaliste is. Dié geskenkpak sluit 4 x 25 kg Adult Classic-kossakke in.

Die inskrywings sluit op 15 Julie 2019.

Oops! We could not locate your form.

Bepalings en voorwaardes

  1. Die kompetisie bestaan uit drie afdelings: honde, katte en ander troeteldiere.
  2. Die inskrywings sluit op 15 Julie 2019. Dan kies Maroela Media tien finaliste in elke kategorie.
  3. Die beoordeelaars se keuse is finaal en geen korrespondensie sal hieroor gevoer word nie.
  4. Die publiek gaan vir die top-10 finaliste in elke kategorie op Maroela Media se webwerf stem vanaf 22 Julie 2019 tot 5 Augustus 2019.
  5. Die wenners van elke kategorie word deur die aantal stemme deur die publiek bepaal.
  6. Die drie wenners sal op 6 Augustus 2019 direk gekontak en ook op Maroela Media se webblad aangekondig word.
  7. Elke kategorie se wenner ontvang ‘n geskenkpak ter waarde van R500 en word direk deur Montego voorsien en versend.
  8. Pryse kan nie geruil word vir kontant nie.
  9. Slegs mense wat in Suid-Afrika woon mag aan die kompetisie deelneem. Pryse sal nie oorsee gestuur word nie.
  10. Mense mag slegs hul eie troeteldiere, wat hul aangeneem en nie gekoop het nie, inskryf.
  11. Slegs een dier per inskrywing word toegelaat.
  12. Foto’s wat die inskrywings vergesel mag in die toekoms deur Maroela Media gepubliseer word.
  13. Deelnemers onderneem om slegs foto’s aan te stuur wat hul eie is.
  14. Deelnemers nomineer ʼn diereskuiling in Suid-Afrika om ʼn kans te staan om ʼn prys ter waarde van R1 780, voorsien en versend deur Montego, te wen.
  15. Diereskuilings se prys is nie te ruil vir kontant nie.
  16. Die beoordeelaars by Maroela Media sal ʼn diereskuiling uit die nominasies kies.
  17. Deelenemers moet skeker maak hulle nomineer geregistreerde diereskuilings wat aan die nodige regulasies voldoen.
  18. Maroela Media sal nie deelnemers se inligting met derdepartye deel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.