Foto’s: Só lyk die nuwe Hannon-roos

Hannon Bothma hou die Hannon-roos vas (Foto: Verskaf)

Suid-Afrika se eie “Glam Guru”, Hannon Bothma, is Sondag met sy eie roos, wat bekend sal staan as die Hannon-roos, vereer.

Die Hannon-roos is cerise-pienk en deur Jan de Waal, uitvoerende hoof van Garden World, en die Pretoriase kwekery Malanseuns geskep.

Die proses om die roos te maak het sowat twee jaar geduur omdat hulle slegs vyf plante gehad het om 5 000 Hannon-rose van te maak.

Hannon sê vir hom is hierdie roos nie net ʼn roos nie, maar ook ʼn herinnering dat elke dag van jou lewe mooi en spesiaal kan wees.

“Elkeen van ons het daardie een ding wat jou hart vinniger laat klop, wat sorg dat jy die lewe se uitdagings makliker kan hanteer. Vir sommige mense is dit om ʼn kragtige voertuig te bestuur en vir iemand anders is dit weer die luukse sensasie wanneer jy op duur Egiptiese linne slaap.

Hannon en Juluis by ‘n bos van sy rose (Foto: Verskaf)

“Vir my is dit om altyd ʼn bos vars rose in ons huis te hê. Rose is die simbool wat my daaraan herinner dat ek sélf die keuse het om elke dag ʼn geleentheid te maak en waar elke geleentheid so mooi en spesiaal kan wees soos ek self besluit.”

Hannon onthou toe hy ʼn klein seuntjie was, het sy pa gereeld blomme, partykeer rose, vir sy ma gepluk en gebring.

“Ek het bewus geraak van die krag en uitwerking van ʼn enkele roos. Ek het my ma verstom aangegaap as haar gesig sommer onmiddellik gestraal het na aanleiding van die romantiese gebaar en sy die volmaaktheid van die blommetjie bestudeer het.”

Dít het Hannon as kind geïnspireer om gedurig blomme, grasse en blare te pluk en dit in klein bossies te rangskik. Hy het dit sommer in ʼn gewone waterglas iewers in hul huis ten toon gestel.

Jimie Malan van Malanseuns oorhandig die Hannon-roos aan Hannon (Foto: Verskaf)

Vandag hou Hannon steeds vas aan die siening dat elke dag ʼn geleentheid is om mooi dinge om jou te hê.

“Toe ek nog ʼn jong student was, was die yskas gereeld dolleeg, maar daar was altyd ʼn bossie blomme in my kamer. Ek het nooit aan blomme gedink as spandabelrig nie, want om myself met skoonheid te omring was vir my belangriker as om te eet.

“Tot vandag is ons huis nooit sonder ʼn bos rose nie en in ons huis is daar ook geen wit olifante weggesteek in kaste nie. Vir my en Julius is elke dag spesiaal en of ons twee sommer om die kombuistafel eet of vriende oorkry vir ʼn aansitete – ons gebruik daagliks ons beste.”

Sy filosofie is as jy uitstel en wag vir ʼn spesiale geleentheid om jou lewe voluit te leef, sal daardie spesiale geleentheid dalk nooit opduik nie, “en watter vermorsing van ʼn lewe sal dit nie wees nie”.

Hannon en Julius voor ‘n klomp Hannon-rose (Foto: Verskaf)

Malanseuns het ʼn kontrak met ʼn hele paar gespesialiseerde roostelers oor die hele wêreld wat pragtige rose teel wat goed in Suid-Afrika se toestande sal aard.

Die Hannon-roos is geteel in Frankryk deur Malanseuns se vennoot SunFlor. Malanseuns het ʼn hele paar nuwe rose aan Hannon voorgelê en hy kon die een kies wat die beste by hom pas. Hy het toe die SAS-514 gesien en dadelik verlief geraak op dié roos.

Hannon sê hy hoop dat die Hannon-roos ʼn blywende nagedagtenis van hom en die boodskap wat hy dra, sal agterlaat.

“Dit kan elkeen inspireer en voortdurend daaraan herinner dat jy reeds genoeg is en dat jy self elke geleentheid mooi en spesiaal kan maak,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

humor ·

???????????Nou versyaan ek niks. Verskoon dat die vraagtekens aan die voorkant sit.

Posduif ·

“Gee haar ‘n roos” van Cora Marie is so mooi van toepassing hier!!!

Linda ·

Pragtige rose, so eg Hannon, soos wat kan kom !!! Geluk met hierdie roos !!!

Hagar ·

Dit is ietwat vreemd, ek was onder die indruk sulke roostoekennings word net aan ons skone vroulike geslag toegeken.

Marissa ·

Oh jitte nee kyk, lekker lag ek nou. Daar moet mos altyd EEN wees wat die bietjie positiewe nuus wat ons nog het in die land probeer versuur. Jou naarheid is werklik iets om te aanskou. Shame.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.