Jaag plooie, aknee op hol met retinol

Argieffoto. (Foto: Unsplash/Coline Haslé)

Retinol is een van die bekendste velsorgbestanddele op die rak. ʼn Weergawe van retinol wat oor die toonbank aangekoop kan word, is ʼn retinoïed wat van vitamiene A gemaak is.

Dit word hoofsaaklik aangewend om velveroudering en aknee te behandel. Retinol verwyder egter nie dooie selle van die vel soos talle ander produkte vir ouer velle nie.

Die klein molekules wat retinol vorm, dring eerder diep onder die epidermis, oftewel die eerste laag van die vel, in en sodra dit die middel van die laag vel bereik, neutraliseer dit vrye radikale en gee dit die vervaardiging van elastien en kollageen ʼn hupstoot.

Dit skep nie net ʼn plompende effek nie, maar beperk ook die verskyning van lyntjies, plooie en vergrote porieë.

Retinol word ook gebruik om aknee en akneelittekens te behandel. Dit het ook ʼn eksfoliërende uitwerking op die vel se oppervlak, wat help om die tekstuur van die vel te verbeter.

Verder kan retinol ook aangewend word om melasma en ander tipes hiperpigmentasie te behandel. Om die beste resultate te kry kan ʼn velsorgproduk wat retinol bevat daagliks aangewend word. Dit neem egter etlike weke voordat ʼn beduidende verskil sigbaar is.

Dit is belangrik om kennis te neem dat die gebruik van retinol ook newe-effekte het. Mense wat retinol gebruik, ervaar soms dat die vel geïrriteerd en droog raak, veral wanneer ʼn nuwe produk aangewend word. Die gebruik van retinol kan ook rooiheid, jeukerigheid en ʼn skilferende vel tot gevolg hê.

Retinol moet sowat 30 minute nadat die vel skoongemaak is, aangewend word om irritasie te voorkom. Vermy dit ook om meer as een produk wat retinol bevat op ʼn slag aan te wend. Lees ook die produkte se omslae noukeurig deur – veral as jy ʼn kombinasie van teenverouderingsprodukte gebruik.

As gevolg van die risiko van sonsensitiwiteit, is dit wenslik dat retinol slegs in die aand aangewend word.

ʼn Wye verskeidenheid van produkte wat retinol bevat, is beskikbaar.

DermExcel se Retinol Serum is teen R1 049 aanlyn en by uitgesoekte winkels beskikbaar.

DermExcel se Retinol Serum.

SKOON se The Dream Team Duo bevat ook ʼn retinolserum wat teen R875 aanlyn beskikbaar is.

SKOON se The Dream Team Duo.

Eucerin se DermoPurifyer Triple Effect Serum is by Clicks en Dis‑Chem te koop teen R320.

Eucerin se DermoPurifyer Triple Effect Serum.

Bykomende bronne: Healthline.com, MedicalNewsToday.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.