Kapselwenke wanneer beurtkrag kom klop

Maretha Garnham, haarkapper en eienaar van Flow Hair Designs.

Beurtkrag het veroorsaak dat alledaagse take, van kosmaak tot mooimaak, ʼn toenemende uitdaging word.

Nat hare, droësjampoe en kopbande is aan die orde van die dag, maar Maretha Garnham, haarkapper en eienaar van Flow Hair Designs in Sandton, Johannesburg, het ʼn paar wenke en waarskuwings wat jou kapsel tydens dié kragkrisis kan red.

Vlegsels bly ʼn wenner vir hittevrye krulle

Vir langer hare bly twee vlegsels ʼn wenner wanneer jy tekstuur in jou hare sonder hitte wil hê, maar volgens Maretha is vroue geneig om foute te maak wanneer hul met gevlegte hare gaan slaap.

“Verdeel jou hare soos wat jy sou wanneer jy dit stileer, moenie net ʼn middelpaadjie maak nie en onthou waar jou vlegsel begin, is dit waar die krul begin. Hoe nader jy aan jou kopvel vleg, hoe meer volume sal jou hare hê.”

Dubbelvlegsels (Foto: Pinterest via Styleinterest)

Sy stel voor dat vroue ʼn goeie haarmousse aanwend voor hulle hul hare vleg, veral as dit nog ʼn bietjie klam is, om te verhoed dat hare deur die nag uitdroog.

“Behalwe dat hulle jou hare ʼn hittevrye krul of tekstuur sal gee, help vlegsels ook om hare teen wrywing te beskerm wanneer jy slaap,” voeg Maretha by.

Haar belangrikste wenk is om nie jou hare uit te kam wanneer die vlegsels losgetrek word nie. “Jy kan dalk dan lyk of jy jou vinger in ʼn muurprop gesit het,” sê sy skertsend.

“Onthou ook hoe breër of dikker jou vlegsel, hoe groter sal jou lokke wees.”

ʼn Hittevrye krultang of draad is ook ʼn opsie, maar volgens Maretha kom almal nie altyd mooi daarmee reg nie. “Veral dikker en langer hare sal so ʼn tang kan gebruik.”

Pasop vir te veel droësjampoe

Droësjampoe is baie van ons se reddingsboei wanneer ons nie fisieke of emosionele krag het om hare te was of stileer nie, maar Maretha waarsku dat te veel daarvan kan lei tot ʼn droë en ongesonde kopvel.

“Die natuurlike olies wat jou kopvel produseer, is baie gesond vir jou hare en produkte soos poeier of droësjampoe absorbeer daardie olies. As jy te veel daarvan gebruik of nie genoeg jou hare tussen-in was nie, kan daardie poeiers opbou en haarfollikels blokkeer wat later tot haarverlies kan lei,” sê sy.

“Om af en toe van droësjampoe gebruik te maak is nie die einde van die wêreld nie, maar dit kan nie ʼn daaglikse plaasvervanger vir hare was wees nie.”

(Foto: Nadazhda Moryak/Pexels)

Moet liefs nie met nat hare gaan slaap

Maretha raai mense af om met nat hare te gaan slaap omdat hare meer elasties is en makliker kan breek wanneer dit vogtig is.

“Wanneer ʼn mens met nat hare gaan slaap, absorbeer die kussing al die vog uit jou hare, veral die punte, en dit is waarom mens se hare ekstra droog is wanneer jy dan opstaan.”

Sy waarsku ook veral teen nat hare vasbind. “Dít veroorsaak dat jou hare én kopvel nie heeltemal droog word nie en dit kan jou vel irriteer en bakterieë laat opbou.”

Nat hare moet volgens Maretha ook nooit deurgekam word nie tensy jy vooraf ʼn inbly- opknapper (leave-in conditioner) aangewend het en ʼn wyetandkam of spesiale borsel gebruik.

Bollas bly bobaas

ʼn Bollasponsie is ʼn maklike manier om ʼn netjiese bolla te maak. (Foto: Danilyuk/Paexesl)

Volgens Maretha is ʼn bolla altyd ʼn elegante opsie vir ʼn potensiële slegte haredag.

Vir langer hare is ʼn hair doughnut of bollasponsie ʼn maklike manier om ʼn netjiese bolla te maak sonder om jou hare onnodig te pluiskam (tease).

“Só ʼn bolla-styl gee volume en is selfs mooier as dit met ʼn haarserpie of lint afgerond word.”

Korter hare kan natuurlik ʼn losser of meer “deurmekaar” bolla maak deur hare wat gevleg was en lekker tekstuur het met haarnaalde vas te steek.

Maretha moedig vroue aan om hul hare ‘n blaaskans te gee. (Foto: Verskaf)

Gee jou kapsel ʼn ruskans

Hoewel daar tans ʼn verskeidenheid van koordlose haartange op die mark is, pas só ʼn aankopie nie noodwendig elkeen se sak nie.

Hoewel sy graag haar eie goue lokke daagliks stileer, moedig Maretha vroue aan om hul kapsels tydens beurtkrag die nodige ruskans te gee en ʼn meer natuurlike voorkoms te omarm.

“Baie van ons stel ons hare elke liewe dag aan ʼn oormaat van hitte en produkte bloot en gee ons hare nie behoorlik kans om te herstel of ‘rus’ nie. Sien beurtkrag dalk as ʼn manier jou hare ʼn broodnodige blaaskans te gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miena ·

Dankie vir die (soms wollerige) haar-storie. Veral nat hare gaan slaap…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.