Lemmetjiebehandeling weer gewild vir stralende vel

Argieffoto. (Foto: Wesley Tingey/Pexels)

ʼn Nie-indringende estetiese gesigsbehandeling wat die vel gladder, stalend én jonger kan laat lyk, klink na enige vrou se droom.

Die gewilde kosmetiese behandeling bekend as dermaplaning is nou opnuut ʼn warm onderwerp op platforms soos TikTok, met selfs die huidige Mej. Suid-Afrika, Natasha Joubert, wat op sosiale media te kenne gee dat sy gek oor dié behandeling is.

Dermaplaning is uiters gewild en beloof om gesonder, soepeler vel te bied, maar is die behandeling veilig en volhoubaar?

Ons het by Anneke Megit van die Isa Carstens-skoonheidsakademie in Pretoria aangeklop om meer oor dié unieke behandeling uit te vind.

Wat presies is dermaplaning, en hoekom is dit nou weer so gewild?

Dermaplaning is ʼn soort afskilferingsproses waar ʼn spesiale mediese lemmetjie gebruik word om dooie selletjies en fyn haartjies, ook bekend as peach fluff, op die veloppervlak te verwyder.

Die vel word effens styf getrek terwyl die skoonheidsterapeut die lemmetjie met sagte, vinnige hale oor jou vel beweeg.

Dié tegniek vind sy oorsprong in antieke Egipte, waar vroue geslypte bronslemme gebruik het om ongewenste gesig- en liggaamshare te verwyder. Die teenverouderingsvoordele is egter in die 1990’s ondersoek, en die behandeling het daarna gewilder geraak as ʼn manier om die vel se tekstuur te verbeter.

“Omdat daar ʼn laer risiko is in vergelyking met ander, soortgelyke teenverouderingsbehandelings en omdat die resultate so opvallend en onmiddellik is, is dit baie gewild,” verduidelik Anneke.

(Foto: Helen Barth/Unsplash)

Wat is die voor- en nadele daarvan?

“Die grootste voordeel is dat die behandeling die lagie dooie selle van die vel verwyder en die vel dan sag en glad laat vertoon. Die proses maak dit moontlik vir produkte soos serums en vogroom om makliker en dieper deur die vel geabsorbeer te word,” sê Anneke.

Daarbenewens kan dit velpigmentasie tydelik ligter laat vertoon en kan selfs gedurende swangerskap gedoen word.

“Die feit dat die proses gesighaartjies verwyder, sonder om ʼn langdurige effek op die teruggroei te hê, is eintlik net ʼn bykomende voordeel, hoewel baie dit as die hoofdoel sien.”

Anneke waarsku dat dit egter soos enige behandeling risiko’s inhou, insluitende dat die vel tydelik meer sensitief kan wees.

“Daar is die moontlikheid dat jy kan ook raak gesny kan word indien die persoon nie voldoende opgelei is nie. Indien die korrekte higiëniese prosedures nie gevolg word nie, kan dit jou vel ook vatbaar maak vir bakteriële infeksies.”

Moet sekere veltipes dit heeltemal vermy?

Hoewel dermaplaning vir byna elke veltipe gepas is, waarsku Anneke diegene met aknee daarteen.

“Ook mense wie se velle geneig is om groeisels soos keloïede te vorm, moet dit liefs vermy omdat dit moontlik hierdie tipe velprobleme kan vererger.”

Sy stel ook voor dat enige vorms van infeksies soos koorsblare om die mond of neus, asook enige onbekende veluitslag, eers opgeklaar word voordat dermaplaning gedoen word.

Kan vroue met PCOS dit ook doen?

Volgens Anneke kan selfs vroue met polisistiese ovariële sindroom (PCOS) dermaplaning-behandelings ondergaan.

PCOS is ʼn hormoonversteuring wat vroue se voorkoms en vrugbaarheid aantas omdat dit ʼn wanbalans van voortplantingshormone veroorsaak en dikwels tot insulienweerstandigheid lei.

Verder produseer die liggaam van vroue met PCOS té veel manlike hormone soos androgene en testosteroon, wat gevolglik tot ʼn oormaat liggaamshare lei, byvoorbeeld op die gesig en arms.

“Die donker hare wat groei as gevolg van PCOS is hormoonaangedrewe, en die behandeling sal nie die haargroei stimuleer om donkerder of dikker terug te groei nie,” verduidelik Anneke.

“Gedurende ʼn konsultasie voor die behandeling sal ʼn terapeut ook gewoonlik eers die meer permanente opsies van haarverwydering met ʼn kliënt bespreek, aangesien die haarverwyderingsaspek ʼn sekondêre voordeel is en nie noodwendig die hoofdoel van die behandeling is nie.”

Anneke Megit van die Isa Carstens-skoonheidsakademie. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Het jy enige wenke vir mense wat dit vir die eerste keer gaan probeer?

“Dit is die moeite werd om ʼn gekwalifiseerde somatoloog te besoek wat professioneel opgelei is en deurlopende professionele ontwikkeling ondergaan,” sê Anneke.

Vroue kan volgens haar ook gerus wees dat hulle nie baie ongemak na afloop van die behandeling sal ervaar nie.

“Jou gesig mag dalk effens sensitief voel ná die behandeling, soortgelyk aan ʼn ligte sonbrand, maar sal vinnig herstel. Verwag dat die somatoloog produkte gaan voorstel wat jou behandeling se resultate gaan verleng, en onthou om direk ná die behandeling sonroom aan te wend om jou vel te beskerm.”

Hoewel die lemmetjies vir dermaplaning deesdae in enige apteek beskikbaar is, moedig sy vroue aan om liefs nie self die proses tuis te probeer nie.

Volgens Anneke verhoog minder kliniese omgewings en toerusting die kanse op infeksies en skade.

Sy stel ook voor dat dié behandeling nie kort voor ’n belangrike geleentheid soos ʼn troue aangepak moet word nie.

“Gaan vir ʼn toetslopie minstens ʼn maand voor die geleentheid om vas te stel hoe jou vel daarop reageer. Jou somatoloog sal jou daarna kan raad gee oor hoe lank voor die geleentheid jy die behandeling moet ondergaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.