Moet-hê-items vir jou grimeersakkie

Argieffoto. (Foto: Zahrin Lukman/Unsplash)

Met dié handjievol moet-hê-items in jou grimeersakkie kan jy seker maak dat jy elke dag op jou beste lyk, sonder dat jy jou bankbestuurder hoef te raadpleeg of kort-kort die winkels hoef in te vaar.

Basislaag (primer)

Dit is belangrik om ʼn goeie basislaag te gebruik, want dit help dat jou grimering langer aan jou vel kleef – veral in die warmer Suid-Afrikaanse klimaat.

ʼn Basislaag word heel eerste onder jou onderlaag aangewend en dien as ʼn anker vir die res van jou grimering. Dit maak jou vel glad sodat jy ʼn vlekkelose voorkoms kan verseker.

Smudge se 30 ml-buisie basislaag kan vir R59,00 aangekoop word.

Smudge se basislaag.

Onderlaag of BB-room

Met soveel verskillende onderlae om van te kies, is dit ʼn wyse besluit om ʼn professionele persoon by ʼn toonbank van enige grimeringwinkel te raadpleeg om die regte kleur vir jou vel te kies.

Die regte onderlaag skep as’t ware ʼn skilderdoek vir die res van jou voorkoms en kan alles belemmer as dit nie by jou gelaat pas nie.

Indien jy nie ʼn swaarder onderlaag verkies nie, kan jy ʼn BB-room gebruik. ʼn BB-room is ʼn gesigroom wat getint is en kan ook help om vlekke en letsels te bedek.

Revlon se Colorstay Full Cover Foundation kan vir R129,00 aangekoop word. Essence se BB-room kan teen R115,00 aangeskaf word.

Getinte lipsalf of lipstiffie

ʼn Getinte lipsalf is die perfekte oplossing om aan droë lippe ʼn gladde, gesonde voorkoms te gee en die lippe te bevogtig.

Skilfer jou lippe af met ʼn waslap en of droë tandeborsel en wend die lipsalf aan.

Lipstiffie vertoon ook beter op gesonde lippe wat bevogtig is.

Essence se Fruit Kiss Caring Lip Balm met amandelolie kan vir R39,00 aangekoop word, terwyl Essence se lipstiffie in ʼn verskeidenheid van skakerings teen R49,00 te koop is.

Oogpotlood

ʼn Oogpotlood kan aangewend word om klem op die oë, wat dikwels as die vensters van die siel beskryf word, te lê.

ʼn Donker potlood soos bruin of swart kan die oog groter laat vertoon terwyl ʼn ligter potlood wat naby die traankliere aangewend word die oog wakkerder laat lyk.

Maybelline se Colossal Kajal 12HR Eyeliner kan vir R55,00 aangekoop word.

Maskara

Vir baie vroue is maskara ʼn item wat hulle byderhand sou wou hê, selfs al sit hulle alleen op ʼn eiland gestrand.

Die oog word afgerond deur die regte maskara te gebruik wat nie klonterig voorkom of die ooghare soos spinnekoppote laat lyk nie.

Maskara moet die ooghare laat krul en met ʼn glansende laag bedek wat heeldag die voorkoms van ʼn wakker oog skep.

Maybelline se Volum’ Express The Colossal Smoky Eyes Mascara kan vir R99,00 aangekoop word.

Maybelline se maskara.

Blosser

Appelwange is nie meer in die mode nie, maar ʼn blosser rond die gesig af en lê klem op die wangbene.

Blosser is in verskillende skakerings, asook in die vorm van poeier of room beskikbaar.

Essence se The Blush-poeier kan vir R69,95 aangeskaf word, terwyl Yardley se Stayfast-roomblosser vir R149,00 aangekoop kan word.

Gesigpoeier

ʼn Goeie gesigpoeier rond jou grimeervoorkoms af en laat jou grimering langer op jou gesig vars bly.

ʼn Kleurlose, los poeier wat met ʼn groot kwas aangewend word, is die doeltreffendste om seker te maak jou vlekkelose voorkoms hou die hele dag. Dié poeier hou ook gewoonlik maande lank sonder dat dit aangevul hoef te word, aangesien ʼn klein bietjie oor ʼn groot oppervlak versprei kan word.

Yardley se Loose Powder kos R179,00.

Yardley se los poeier.

Bron: Cosmpolitan.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.