Pa’s, vermy dié vyf modeflaters (ongeag jou ouderdom)

(Foto: Pavel Danilyuk/Pexels)

Dis een ding om ʼn pa te wees, maar ʼn ander ding om soos ʼn pa aan te trek.

Ongelukkig word baie pa’s mettertyd die slagoffer van swak modekeuses wat hulle maklik ouer of onversorg kan laat lyk.

Hier is vyf wenke om jou voorkoms van vaal en vervelig tot modieus en vars te verhef (en selfs jou tienerkind trots te maak om langs jou in winkelsentrums te loop).

1. Vermy ou of slagspreuk-T-hemde

Foto ter illustrasie. (Foto: Derick Daily/Unsplash)

Elke pa het “daardie hemp” in sy kas waaraan hy hopeloos te lank al vasklou. Dit is ook nie nodig om jou klerekas te gebruik om te verkondig dat jy “die wêreld se beste pa” is nie. Kies netjiese, gemaklike T-hemde sonder groot slagspreuke wat meer tydloos sal wees.

2. Pasop vir té veel patrone

Foto ter illustrasie. (Foto: Old Youth/Unsplash)

Nie eens George Clooney sal ʼn geruite hemp saam met ʼn kamoefleerkortbroek modieus kan laat lyk nie. Kies patrone wat in dieselfde kategorie of familie is en dra eerder ʼn variasie van dieselfde patroon. Hou ook by dieselfde kleurskema of skakerings. Veral neutrale kleure sal verhoed dat jou klerekas te vinnig verouder.

3. Laat vaar jou “pa-denim”

Foto ter illustrasie. (Foto: Mnz/ Pexels)

Deesdae hoort denimbroeke wat uitgewas, geskeur of bokant jou naeltjie sit eerder by tienermeisies as middeljarige mans. Kies jou denimbroek sorgvuldig en maak seker dat die snit en styl jou lente en liggaamsbou komplementeer. Donkerkleurige denimbroeke, soos vlootblou of swart, is dikwels ’n beter keuse as ligte kleur “pa-jeans” omdat hulle meer verslankend is en nie maklik vlek nie.

4. Dra die gepaste skoene

Foto ter illustrasie. (Foto: Lukas/Pexels)

Daar is ʼn ou gesegde wat sê dat jy ʼn man se waarde aan sy skoene kan meet. Daarom skets vuil tekkies of bruin sandale nie noodwendig die soort prentjie waaraan alle pa’s gemeet wil word nie. Belê in die beste gehalte skoene wat jou beursie toelaat en maak altyd seker dat hulle gemaklik, maar ook gepas vir die geleentheid is. Draftekkies en denimbroeke hoort nie saam nie.

5. Groter is nie altyd beter nie

Foto ter illustrasie. (Foto: Redd/Unsplash)

Los, oorgroot hemde kan mans maklik swaarder laat lyk. Kies ʼn hemp wat effens stywer om jou skouers en bors pas, maar genoeg spasie laat om gemaklik jou arms te kan kruis. Hemde met reguit some hoef ook nie altyd ingesteek te word nie, maar moet liefs net onder jou heupe en nie bokant jou knieë hang nie.

Bykomende bronne: Mean’s Health, CBS News, GQ Magazine.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Ek dra wat vir MY die gemaklikste is (dis normaalweg ‘n netjiese sweetpakbroek, t-hemp en drafskoene want ek stap gewoonlik winkelsentrum toe so enigiets anders sal in elk geval onprakties wees) en voel vere wat ander dink. My klere is egter altyd skoon. Ek stem ook nie saam dat ‘n denimbroek en draftekkies nie pas nie, dit kan goed lyk want ‘n denimbroek is normaalweg informeel (denim moet uiters netjies wees voor jy dit as formele drag kan dra). Die dae is lankal verby dat mense netjies aantrek winkelsentrum toe, jy gaan soos ‘n seer vinger uitsteek as jy baie netjies aantrek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.