18 000 km te voet om spekboom te plant

Mark met die “karretjie”, ʼn krat waaraan waaraan ʼn fietswiel gemonteer is, waarmee hy Afrika met ‘n spekboom deurkruis vir bewusmaking, in wat hy noem The Great Trek.

ʼn Suid-Afrikaanse fietsry-entoesias het agt maande gelede begin met ʼn staptog van 18 000 km om ʼn spekboom al die pad van Kaap Agulhas tot by Oslo in Noorweë se botaniese tuin af te lewer.

Hiermee samel Mark Mitchell (60) geld in vir Jobs4Carbon, ʼn organisasie wat hom beywer vir die verbetering van die gesondheid en veerkragtigheid van die ekosisteem in die Klein-Karoo, deur spekbome in die omgewing van Vanwyksdorp, Calitzdorp en Oudtshoorn te plant.

Mitchell, wat jare lank gewerk het as ʼn Cape Cycle-toergids, het Vrydagoggend ʼn blaaskans geneem vir ʼn koppie tee en chapati (ʼn soort roti) by ʼn tuisbedryf met ʼn klein restaurant in Kenia. Hy het telefonies met Maroela Media gesels oor sy wedervaringe van die afgelope maande se tog deur Afrika, onderweg na Noorweë.

Mitchell beywer hom om bewusmaking te skep vir onder meer die bekamping van klimaatsverandering, die rehabilitasie van natuurlike ekostelsels, die verwydering van uitheemse spesies en die herplanting van inheemse spesies. “Die spekboom is die onbesonge held van klimaatsverandering. Dit is ongelooflike plante. Hulle is baie gehard en wydverspreid. Ek het hulle tot in Tanzanië teëgekom.”

Net meer as twee dae vantevore het hy die grens by Tarakea van Tanzanië af na Kenia oorgesteek. Saam met hom stoot hy ʼn krat, waaraan ʼn fietswiel gemonteer is. Op ʼn plaatjie aan die voorkant is die besonderhede van sy staptog: The Great Trek, Cape Agulhas South Africa 18 000 km Nordkapp Norway en die webwerf, https://thegreattrek.co.za/, waarop hy boekhou van die belangrikste besonderhede van sy tog.

Mark op die berg Kilimanjaro.

Die doel van Mitchell se staptog is om geld in te samel om minstens 7,2 miljard bome, plante en struike te kan plant. Hy het Augustus verlede jaar weggetrek en lê tussen 30 km en 40 km per dag af.

Hy het aan Maroela Media gesê dit gaan goed met hom, en selfs meer so omdat hy Afrikaans kan praat. Sy ma was Afrikaans, maar op sy tog het hy dit lanklaas gehoor. Hy neem die dag rustiger nadat hy Sondag die berg Kilimanjaro geklim het. “Die klim weerspieël die tye wat ek swaargekry het. Op die finale dag op Kilimanjaro het ek hoogtesiekte ontwikkel en daar was ook die bykans onuithoudbare koue.” Dié berg was egter nog altyd op sy wenslys en hy is oorstelp dat hy dit uitgeklim het.

Hoogtepunte was tot dusver volop: “My interaksie met mense en die goedheid van almal wat ek ontmoet … gewone, alledaagse, hardwerkende plaasmense wat verstom is oor dié umzungu (ʼn wit vreemdeling) wat met die snaakse tuig verby hulle beweeg” en die oop arms en harte waarmee hy oral ontvang word. Daar was ook die meer as 120 km se stap deur Botswana, tot by die Zambië-grens, meer as 100 km te voet deur ʼn reservaat. “Ons woon op ʼn fabelagtige kontinent.”

Hy is versigtig vir die wilde diere wat hy kan teëkom, “maar die dier waarvoor ʼn mens die versigtigste moet wees, is die mens,” sê hy.

Olifante sien hy gereeld en toe hy die reservaat betree, is hy gewaarsku teen leeus, maar hy het nooit dié diere gewaar nie.

Later het hy wel ʼn amperse noue ontkoming gehad toe hy ʼn olifantkoei teëkom. “Ek het om ʼn draai gekom, toe ek haar by ʼn watergat sien. Die girl het my gesien, ek weet nie hóé nie, want hulle sig is swak.” Asof gestuur, het ʼn safari-voertuig op daardie oomblik by hom verbygekom en hom opgelaai.

Nuwe beeld van Afrika

Die inwoners wat hy teëkom is arm, “maar die kos goedkoop en mense gaan uit hul pad om te help. Hier en daar gee mense vir my goed. Ek kry behuising. Jy kan enige plek vra om jou tent op te slaan. Dan is jy deel van die familie. Hulle deel met jou hulle kos, gewoonlik pap en groente.”

Mitchell moes per boot oor die Malawi-meer, want ʼn aanlyn kaart het nie aangedui daar is nie ʼn staproete tot aan die ander kant nie. Zanzibar was vir hom besonders en Livingstone en die Victoria-waterval was nóg hoogtepunte.

Aan die begin van sy staptog het hy gesukkel met blase omdat sy voete nie gewoond is aan die lang kilometers nie, maar hy is stap- en avontuurfiks. Hy dra wel al sy vierde paar tekkies sedert hy Augustus verlede jaar sy staptog begin het.

Die spekboom wat hy op sy waentjie saamry, is nie dieselfde een as waarmee hy verlede jaar vertrek het nie. “Die eerste een het in die hoog-Karoo in die winter se swartryp gevrek. Toe kry ek een by ʼn gastehuis in Gauteng. Hy was baie klein en nou moet ek aan hom eet dat hy klein bly,” lag hy.

Hy het sy besondere plant-stapmaat selfs “Spekkie” gedoop.

Mark se tent in Tanzanië.

Mitchell sê sy beeld van Afrika as geheel het die afgelope maande verander. “Die persepsie dat die laaste ou wat Afrika verlaat die ligte moes afsit, is nonsens. Om te sien hoe goed hierdie mense hul lewens lei, hoe hulle ʼn bestaan voer, hoe hulle hul kinders opvoed, is ongelooflik.”

Op sy tog het hy deur landelike gebiede beweeg, waar almal ʼn lappie grond het. “As hulle welstand wil geniet, moet hulle met die hand werk en met osse ploeg.”

Sy staptog is meer as net ʼn persoonlike sending. Hy wil  ʼn verskil maak aan klimaatsverandering en hoop om korporatiewe maatskappye aan boord te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie ·

n Noemenswaardige doel maar ek wonder of die man n idee het van die groot boetes wat hom opgele kan word.
Geen plante of sade mag oor landsgrense vervoer word nie en jy kan eindelose moeilikheid optel by veral eerstewereld lande.
Ek hoop maar Mark het n backup om hom uit die tronk te hou.

Perdeby ·

Sommige mense het moed en sommige verstand. Het hy n permit gehad om oor al die grense te stap met n plant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.