1Time-werknemers wil nuwe lisensie verhoed

Voormalige werknemers van 1Time-lugredery poog om die stigterslede van dié lugredery te verhoed om ‘n lisensie vir ‘n nuwe winskooplugredery te bekom.

Glenn Orsmond, Rodney James en Michael Kaminski beplan om ‘Skywise’ van stapel te stuur wat vlugte tussen Kaapstad Internasionele Lughawe en OR Tambo Internasionale lughawe, met twee gehuurde Boeing 737s, sal bied, berig EWN. 1Time-lugredery is in November onder leiding van Blacky Komani, hoof uitvoerende beampte, onder likwidasie geplaas.

1Time se voormalige werknemers blameer die lugredery se reuse skuld op sy oorspronklike stigterslede en sê hulle was die rede vir die gebeure wat tot die voorlopige likwidasie gelei het. Die werknemers sal Woensdag die departement van vervoer formeel versoek om nie ‘n nuwe lisensie aan die stigterslede toe te ken nie.

Intussen het die Britse laekoste-lugredery, FastJet, aangedui dat hulle 1Time by sy likwidators wil oorkoop. Die transaksie sal bepaal dat FastJet ‘n nominale fooi vir die aankoop van 1Time betaal. Die transaksie sal ook ‘n ooreenkoms met 1Time se krediteure insluit. FastJet is die houermaatskappy vir Fly540, ‘n Afrika-lugredery, wat in Kenia, Tanzanië, Ghana en Anglo vlugte bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.