AWB-lid in die hof

Charl Smal (43), ‘n lid van die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB), het Donderdag in die landdroshof in Worcester op aanklag van die besig van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie verskyn.

Smal is op borgtog van R1 500 vrygelaat en moet weer op 18 Januarie in die hof verskyn, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NPA) gesê. Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NPA in die Wes-Kaap, het gesê Smal is een van sewe mans wat Dinsdag tydens ‘n roetine-padblokkade op die N1 tydens die plaasarbeiderstaking voorgekeer is. Die polisie het vroeër gesê die mans was glo onderweg na De Doorns toe hul motor deursoek is. ‘n Ongelisensieerde .308 Mauser en 60 rondtes ammunisie is opgespoor. Ses van die mans is na ‘n ondersoek vrygelaat.

Steyn van Ronge, leier van die AWB, het bevestig dat Smal ‘n lid is.

Tafeldruifplukkers het vroeg in November in De Doorns begin staak en ‘n dagloon van R150 en verbeterde lewensomstandighede geëis. Die gewelddadige betogings het vinnig na 15 ander dorpe versprei en talle hektaar wingerde is aan die brand gesteek. Twee mense is tydens die staking oorlede.

Die plaasarbeiders het die staking aanvanklik tot Dinsdag opgeskort om die Diensvoorwaardeskommissie die geleentheid te bied om die sektorale bepaling vir landbou te hersien wat onder andere minimumlone, aantal verlofdae, werksure en afdankingsreëls bepaal. Talle werkers het Dinsdag weer die staking hervat nadat Mildred Oliphant, minister van landbou, aangedui het dit sal onmoontlik wees om hul eise voor Dinsdag aan te spreek.

Die vakbondfederasie Cosatu het Dinsdagaand aangekondig dat die staking beëindig is ná ‘n ooreenkoms met AgriSA dat die onderhandelings van plaas tot plaas sal geskied. Die onderhandelings sal oor die looneise en ‘n winsdeelskema handel. Indien geen ooreenkoms teen 9 Januarie bereik is nie, sal die staking weer hervat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.